Psigologie, sosiologie, en kultuur het baie met mekaar te make. Anders gestel: Dit wat in die hart van een enkele mens aangaan, gaan dikwels in die harte van duisende ander ook aan. Jy kan die duisende as deel van 'n bepaalde kultuur, maar selfs ook as deel van 'n bepaalde era beskou. Die dalende of stygende watervlak van 'n kultuur of era het die manier om ons almal se bootjies in dieselfde rigting te beïnvloed. Jules Evans, iemand wat met die insigte van die CBT-ouens werk (Cognitive Behavioral Therapy), het hierdie insig onlangs helder verwoord:
"Sokrates het daarop aangedring dat daar 'n sterk verband bestaan tussen jou filosofie (hoe jy jou wêreld interpreteer en wat jy reken belangrik in die lewe is) en jou verstandelike en fisiese gesondheid. Verskillende oortuiginge lei tot verskillende emosionele toestande - en verskillende politieke ideologieë manifesteer ook in verskillende vorme van emosionele siekte. Byvoorbeeld, ek het te veel waarde geheg aan die goedkeuring van ander mense (wat Plato reken is die klassieke siekte van liberale demokrasie) en hierdie filosofie het my sosiaal angstig gemaak." (p. 6).
Die verband tussen sielkunde se uitwerking op die individu en 'n hele kultuur vra aandag. In sy groot apologetiese werk, Miracles, trek C.S. Lewis die verband tussen politiek en sienswyses - en per implikasie sielkunde - in 'n ander verrassende rigting. Hy maak die opmerking sommer heel vroeg dat Naturalisme ons 'n demokratiese beskouing op die werklikheid gee, terwyl Supernaturalisme aan ons 'n monargiese beeld van die werklikheid gee.