Wys tans plasings met die etiket Tipologie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tipologie. Wys alle plasings

2025/05/12

Die Heer sal opstaan tot die stryd

 Lees: Psalm 68

Gedagte vir kinders: Niemand kan standhou wanneer die Here vir sy kinders optree nie.

Oorsig: Psalm 68 gaan oor die oorwinning van die Here in hierdie wêreld en beskryf met poëtiese taal die gang van God se volk in die woestyn met die ark, vanaf Sinai tot dit uiteindelik onder Dawid in Jerusalem geplaas is. Dit is ook profeties van wat later in Christus sou gebeur. Die gedeelte begin met ’n inleiding wat God se dade opsom. In vers 1-7 hoor ons eers ’n stelling/gebed/roep (vgl. KJV) teen God se vyande (v.2-3) en vir die regverdiges (v.4). Wanneer God toetree tot die stryd is die vyande soos rook en soos was voor God se aangesig. Hieroor is die regverdiges bly en juig en is vrolik. Hulle word dan opgeroep om tot eer van God te sing wat soos ’n Koning deur die woestynvlaktes/op die wolke ry (vgl. KJV; NAV en 2020-vertaling) en dat Hy die swakkes versorg – die Vader van wese en die Regter van weduwees. Hy laat eensames woon in ’n huisgesin en lei gevangenes na voorspoed, maar rebelle woon in ’n dor land (v.5-7).  

Dan volg ’n poëtiese belydenis teenoor die Here van die reis van die ark vanaf Sinai tot Sion (v.7-19). Daar word met God gepraat oor hoe hy uitgetrek het voor sy volk in die duisternis en hoe die aarde gebewe het en die hemele reën gedrup het, soos by die verskyning by Sinai. Hy het hulle deur die wildernis gelei (v.8-9) en hulle gevestig het in Kanaän (v.10-11). Hy het hulle oorwinning gegee oor die vyande (v.12-13). En hulle uit die hand van konings en onderdrukkers bevry (v.14-15). Hy woon op ’n besondere wyse onder sy volk wat iets is waaroor aansienlikes soos die aansienlike berg Basan, jaloers kan raak op Sion (v. 16-18). Sy opgang na Sion word beskryf as dat Hy opgeklim het na die hoogte en gevangenes weggevoer het en geskenke onder die mense geneem om daar tuiste te vind. Paulus leer ons dat dit ’n tipe is wat heenwys na Christus en die hemelse Sion, en pas dit toe op die Hemelvaart van Christus (Ef. 4:7-16). Sy Naam word dan weer uitgeroep: O HERE, God!   

Dan verneem ons van die reaksie op en prosessie van die oorwinning (v.20-27). Die Here word geloof vir sy verlossing wat hulle dra/oorlaai met guns (vgl. KJV) en uitkoms teen die dood gee (v.20-21). Die volstrekte oorwinning tot die uiterste en die guns vir God se volk en die optog van al die verteenwoordigers word dan beskrywe. (v.22-28). En dan verneem ons van die verdere roepe tot God om sy krag te openbaar en ’n oproep op die koninkryke van die aarde om te antwoord (v.28-35). Die heidene bring erkenning (v.29-32). Die Psalmis sluit dan af met ’n oproep aan die koninkryke van die aarde om lof te bring aan God en om sy heerlikheid en glorie te erken wat deur Israel gekom het (v.33-35). Dit is ’n wonderlike oorwinningslied waarin daar reeds in die Ou Testament gejuig word en daar ook vooruitgekyk word na die oorwinning wat Jesus Christus sou bring.   

Besprekingsvraag: Waarna wys die oorwinning en die gang van die ark as tipe heen?

Insig: Psalm 68 getuig en juig oor die wonderbare en omvattende oorwinning van God. Dit het heel gepas ook ʼn strydlied geword van die Skotse Covenanters en Franse Hugenote. Ons begryp dit beter wanneer ons raaksien hoe Psalm 68 terugkyk op en vorentoe kyk na die groot dade van God. 

2021/10/05

Tipologie as wapen en wêreldbeskouing

Ek onthou vaagweg hoe ek iewers in my studente-dae in beleë moderne interpretasie van die Bybel, begin leer het dat sekere maniere van Bybelverstaan onaanvaarbaar is. Twee van die maniere wat slegte name gekry het was om die Bybel te psigologiseer of te tipologiseer. Die bedoeling was om so daarteen te waak dat die Bybel nie van sy betekenis in die onmiddellike verband losgemaak word vir ander agendas nie. Dit sou inlees in die Bybel tot gevolg hê en ons moes die Bybel lees vir wat daar staan, sonder om iets van buite af in te forseer.  

Wat nie vir my geleer is nie, altans nie aanvanklik in die liberale opleiding waaraan ek blootgestel is nie, is dat die Bybel altyd-alreeds  met bepaalde raamwerke benader word en dat 'n bepaalde neo-evolusionêre metode sluipend toegang kry wanneer dit nie pertinent hanteer word nie. Daar is ook nie vir my geleer dat die tipologiese lees van die Bybel van die veronderstelling  uitgaan dat die Bybel nie net op mikrovlak gelees moet word nie, maar ook op makrovlak en dat tipologie erns maak met die die makrovlak van die Bybel. Soos wat Patrick Fairbairn dit treffend verduidelik: Die kerkvaders het die Bybel in die lig van die geheel gelees, terwyl moderne eksegete geneig is om al die klem op die besondere teks in die onmiddellike konteks te wil lees. 

Ongelukkig het die huidige tydvak van fragmentering van die Teks daartoe gelei dat die tastende en tierende tipologiese visie op die geheel erg skade gely het. En tog sien al hoe meer mense in dat ons weer 'n tyd betree waar beide benaderings met nuwe vuur met mekaar mag en moet omgaan. Maar dan sal ons moet leer om tipologie te rehabiliteer en nie oor te gee aan gekaapte en verskraalde moderne opvattings daarvan nie. 

'n Lang aanhaling wat praat

Onderstaande het ek by Scott Hahn gevind. Die waarde van Hahn is dat hy dit nie bloot as metodiek aanbied nie, maar werklik help om dit as 'n omvattende idee aan die orde te stel wat jou hele uitkyk kan verlig. Tipologie kan jou wêreld omkeer. Ja dit roer aan die senuwees van jou hele wêreldbeskouing. Om dit te verduidelik, gaan ek vir Hahn self oor tipologie aan die orde stel, met een belangrike bywerking. Deur hierdie tolk gaan hy Afrikaans praat: