2013/10/16

Fundimentaliste

Dit is blykbaar genoeglik om iemand te brandmerk met daardie gewraakte woord: "Fundamentalis!" Ek het nog altyd gewonder of die woord nie een van daardie onontsnapbare werklikhede verteenwoordig nie. Met ander woorde, dit is nie óf nie, maar waaroor jy fundamenteel is. Vra die kinderlike waarom-vraag maar net ver genoeg terug aan die slimste breinsellige bleeksiel in jou geweste, en jy sal gou-gou hoor: Fundamentele daarom-klanke begin iewers by die derde regressie oor die walle stroom, sterker as 'n stoere Evangelikaal wat sweer by sy King James versie.
Ek dink die grootste sonde van fundamentaliste is van 'n ander aard as dit waaroor hulle geroskam word. Mark Driscoll het dit goed verwoord toe hy in Engels daarmee gesinspeel het. Hy het gesê dat fundamentaliste al die "fun" uit fundamentalistiese oortuigings haal. 
Maar dit nou eers daar gelaat. Die magistraal geleerde David Bentley Hart vir wie ons baie waardering op belangrike fronte kan hê, het ongelukkig onlangs ook oor hierdie saak op die ou paaie gegly. Hart reken dat fundamentaliste bloot 'n konserwatiewe voorbeeld is van die krag van rasionalistiese mondernisme. Dit is vir my aangenaam om bekend te maak dat een van die Renaissance-manne oor wie Hart ook onlangs gloeiend kon raak vanweë sy teologiese waardering van die film, Tree of Life, protes aangeteen het. Peter Leithart bevraagteken Hart se siening frontaal.

2013/10/04

Kinders in die kerk

Dr. Willie Marais is bekend vir sy woorde oor kinders in die kerk. Hy het gesê dat 'n kerk sonder kinders hom laat dink aan 'n plaas sonder kalwers. 'n Plaas sonder kalwers behoort heel waarskynlik aan 'n spekulant en nie aan 'n boer nie, het dr. Willie gesê. Hy het dit opgevolg met die uitklopvraag: Wat moet ons dan dink van 'n kerk sonder kinders? Dr. Willie het dit juis van toepassing gemaak op kinderjies wat bulk, en blêr, gedurende die prediking. En tog, jy kry ook baie ernstige gelowige ouers wat meen dat kinders te vinning te vroeg aan onnodige rigiditeit onderwerp word. En dit, so seg die beswaardes, terwyl hulle nog niks van 'n erediens begryp nie. Die kalfies hoef nog nie by die voerbakke te staan nie, sou sekere ouers die bulk-beeld wou amendeer. Hulle hoef mos nog net melk te drink aan die uier. Het Petrus dan nie 'n spesifieke opdrag ontvang oor lammers en weiding wat daarby sou pas nie? As jy nou vinnig wil sien hoe ouers aan beide kante kan heftig raak, gooi net hierdie kwessie in 'n bespreking in.

2013/10/02

Totius ontmoet Van Wyk Louw ontmoet Langenhoven

C.S. Lewis is, nadat ons 'n paar kwalifikasies aangebring het, 'n Totius ontmoet N.P. van Wyk Louw ontmoet Langenhoven tipe figuur. Sy volle statuur het SA skynbaar nooit getref nie. Calvynse stofmannetjies klink anders, beslis meer joviaal, as hulle saam met Lewis iets gaan drink het. Bring gerus hierdie skakel onder jou dominee se aandag. Dit is die nasionale Desiring God konferensie wat onlangs gehou is. Dit het gehandel oor die bydrae van Lewis as romantiese rasionalis. Hoe bevoorreg is ons nie om deesdae so gemaklik op hierdie tipe byeenkomste in te luister nie. Hier is nou klanke wat ek nie eintlik in Suid-Afrika hoor nie. Wenk: Begin met Piper vir konteks en maak seker dat jy nie vir Wilson en Vanhoozer, ja die hele bende, mis nie. Die paneelbespreking aan die einde is 'n gepaste kersie op 'n roomkoek.