Wys tans plasings met die etiket begeerte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket begeerte. Wys alle plasings

2021/10/21

Boekbespreking: Joyce Little, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order (1)


Wanneer ’n publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose benadering wat oor eeue heen kom. Little  toon oortuigend aan hoe al die bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie. Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te herstel.   

Boute en moere van twee teenoorstaande ordes

In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.

2012/01/17

Ons is maanmense

Wonderkure het gewoonlik 'n voorspelbare reaksie tot gevolg: Aanhangers wil die hele wêreld daarmee regdokter. Die gevolg is dat dooddokter nie 'n denkbeeldige gevaar is nie. Een so 'n kuur vir suur verhoudinge is nie 'n middel nie, maar 'n teorie. Hierdie een is afkomstig van Rene Girard en jy kan maar die naam dophou. Die emergent church beweging het sy teorie met hoek, sinker en al ingesluk. Ongelukkig gaan die verkeerde kant van sy teorie so dalk die meeste blootstelling kry en dit sal jammer wees. Die man het beslis iets beet. Dit is nie 'n wonderkuur wat alles verklaar nie, maar dit bied antwoorde op 'n hele paar verkynsels van ons menslike natuur. Laat my toe om so vinnig die een en ander oor sy teorie te deel. Of nee, laat ons eers 'n paar scenario's hardloop om nuuskierigheid oor Girard se teorie te wek.
  •  Waarom ontstaan daar soms die eienaardigste vetes in gesinne en kerke?
  •  Waarom is massa-histerie aansteeklik, selfs al probeer jy daarteen veg?
  •  Waarom gebeur dit soms dat 'n hele kolfspan in krieket in duie stort?
  •  Waarom fikseer mense in liefdesake so maklik op die skynbaar onbereikbare ster?
  •  Waarom is "keeping up with the Joneses" 'n fenomeen onder elke klas?
  •  Waarom sal kinders in 'n kamer vol speelgoed oor een speelding baklei?
Die eenvoudige antwoord is natuurlik sonde of gebrokenheid, maar soms moet ons meer spesifiek wees. Girard meen dit gaan fundamenteel oor nabootsing van begeertes. Ek dink dat Girard se teorie so raak in baie gevalle is omdat sy teorie die eerste en laaste gebod verreken. Die beteken dat die kwessie oor afgode en begeerte in sy teorie verreken word, tesame met die feit dat die Skrif ons leer dat ons beelddraers is. Ons reflekteer altyd. Ons is nie, soos wat ons graag sou wou dink, 'n onafhanklike sonnige self nie. Nee, ons is eerder maanmense wat lig reflekteer. En as ons nie beeld van die Son van geregtigheid reflekteer nie, reflekteer ons 'n ander beeld en begeerte. Girard stel dat ons nie individue is nie, maar eerder interdividuals. Ons is minder oorspronklik en meer aangewese op mekaar as wat ons dink. Dit in kort, dink ek, is waaroor Girard se teorie gaan as ons die positiewe sy daarvan wil gebruik. 

Wat die Girard omie (hy leef nog en is tans op pad negentig toe) sê, klink eintlik so eenvoudig. Dit begin alles met die feit dat ons nabootsers is van die eerste water - gewillig en onwillig. Soos kindertjies wat almal baklei vir dieselfde speelding, so bly ons in ons begeertes besig met mekaar as rolmodelle vir ons ons begeertes. Jy dink jy wil graag daardie hierdie en daardie ding hê, maar as jy eerlik is, sê Girard, is jou optrede en begeerte dikwels aangevuur deur iemand anders.

2011/11/13

"Gedring" deur hoorsê

Een van die klasse wat ek hierdie kwartaal neem gaan oor die tema van begeerte, verlange en jaloesie in Shakespeare. Belydenis: Met Vrystaatse Ingels het ek eintlik net gehoor van Shakespeare. Deur die klasse hier is ek oortuig: Shakespeare het 'n diep insig gehad in die menslike (sondige) natuur. Daaroor miskien later meer. Hier is egter sommer net ietsie uit die filmweergawe van Much Ado About Nothing. Dit is die lied wat gesing word net voordat Benedick via hoorsê "gedring" word om eerlik met homself te raak oor Beatrice. Daar is 'n hele analise oor die betekenis en plasing van hierdie lied, maar hier is die bedoeling net om vir eers die tenoorstem te geniet.