Wys tans plasings met die etiket Liturgie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Liturgie. Wys alle plasings

2023/01/19

Oor Kerkgang en ewigheid

Soms gaan ’n lig sommer onverwags vir jou aan, dikwels in een of ander stase van ontspanning - as jy in die stort is, of fietsry of sommer net stap. Dit het blykbaar iets te make met 'n mens se breinsinapse wat dan oop is en wat ruimte oopmaak vir kreatiwiteit en skeppende denke. Dit kan ook gebeur in die ruimte van die Kerk se erediens - voor, tydens of na die tyd. Sommige noem hierdie tipe ervarings vandag sommer maklik, waarskynlik te maklik, ’n gesig of visioen. My siening is dat dit wat ons as sterk indrukke of oomblikke van oortuigings of sommer net lig wat opgaan beleef, in sekere kringe te maklik op vereenvoudigende wyse direk aan God en sy Gees toegeskryf en sommer as besondere openbaring in die midde van die toehoorders geplaas word. Die gevaar is dan om jouself hoër en beter voor te doen as wat jy is en moontlik selfs gesigte uit die eie hart verkondig (Jer. 23:16). Maar dit nou daar gelaat. In hierdie geval wil ek bloot vertel van 'n onlangse indruk en insig wat sterk in die Kerk by my opgekom het. En natuurlik moet ons in my kringe ook na die anderkant toe daarteen waak dat ons dit nie gering skat of genoegsaam waardeer wanneer ons Vader deur sy Gees ’n bepaalde insig sterker in ons gemoed kom vestig nie.

Daardie oggend voor Kerk verneem ek van 'n broeder wat deel was van 'n whattsapp-groep waarvan ek ook deel was, maar wat gedurende die vorige nag 'n bloedklont deur die hart gekry het en oorlede is. Die vorige dag was hy dus nog op ons whattsapp groep en die volgende dag in die ewigheid. En die oggend, in die Kerk met die hernude besef dat ons dae ’n paar handbreedtes is (Ps. 39:6) en dat ons elke dag dans op die stoepe van hemel of die hel, kom dit weer by my op: Die erediens is ’n tipe deur wat ons weekliks op ’n besondere manier oor die stoep bring en oor die grense van tyd en ewigheid.

Want wie in die erediens inkom en inklim, weet dat ons daarin heengevoer word na die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God die Regter van almal...en by Jesus die Middelaar van die Nuwe Testament, en die bloed van die besprenkeling (Hebr. 12:22-24). Ja, ons kom weekliks om die verbond te vernuwe met Hom wat lewe en die dood in sy hand hou. Ons word dus weekliks bewus van Hom wat die grens tussen tyd en ewigheid oorspan. En die bedoeling is seer sekerlik dat ons nou reeds inoefen om oor die Jordaan na die beloofde land te vaar.

2022/04/28

'n Lam asof Hy geslag is

Lees: Openb. 5:1-14  

Gedagte vir kinders: Alle eer aan Jesus Christus, die Lam, wat ook die Leeu is.

Oorsig: Openbaring 5 brei uit op die gesig wat Johannes in Openbaring 4 sien. Dit gaan oor ’n gesig van die hemelse tempel en wat daar gebeur. In Openbaring 5 verneem ons van ’n boek(rol) in die regterhand van Hom wat op die troon sit. Dit was aan die binnekant en buitekant beskrywe en met sewe seëls verseël (v.1). ’n Sterk engel het toe met ’n groot stem geroep en gevra wie waardig is om die boek se seëls te breek die die boek oop te maak, maar daar was niemand in die hemel of op die aarde nie. Johannes het toe baie gehuil omdat niemand waardig was om die boek oop te maak of daarin te kyk nie (v.2-4).

Een van die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van alle gelowiges – van die 12 stamme in die OT en die 12 apostels in die NT. Vgl. Op. 4:4-6) het toe vir hom gesê om nie te huil nie. Hy moes eerder kyk na (1) die Leeu, (2) Een uit die stam van Juda, Hy wat (3) die wortel van Dawid is. Hý het oorwin om die boek oop te maak en die seëls te breek (v.5). Johannes sien toe in die middel van die troon en die vier lewende wesens (gérubs, vgl. Ex. 25:18, Es. 1:5 e.v.) en die ouderlinge, ’n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die kragtige werking van die Heilige Gees oor die hele aarde. Die Lam het toe gekom en die boek geneem uit die regterhand van God. (v.6-7). Toe Hy dit neem, val die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge voor die Lam neer met siters en goue skale vol reukwerk, wat dui op die liedere en gebede van die heiliges (gelowiges). Hulle sing toe ’n nuwe lied en sê dat die Lam waardig is om die boek te neem en die seëls oop te maak. Die rede is dat Hy geslag is en die gelowiges (“ons”) vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie en hulle (ons) konings en priesters vir onse God gemaak wat as konings op die aarde sal heers (v.8-10).

2021/07/07

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.

2013/07/21

Hoog in die kerktakke

Ek het dit geweet, maar dit nie besef nie. My vorige possie kan deur 'n sekere mens maklik in 'n sekere rigting verstaan word; 'n rigting wat my eie bedoeling skeeftrek. Steven Wedgeworth van Calvinist International faam gee hier 'n baie belangrike kwalifikasie op die ou ou kerke gedagte. In wese kom dit daarop neer dat jongmense nie so hoog in die takke moet raak dat die lewende stem van die Woord, die Protestantse viva vox engelii, in die skadu's gehou word nie. Ek stem.

2013/07/18

Bring my die ou-ou kerke

Ek het dit geweet. Daar is meer mense wat reken jeugkerke kan uit die mode raak. Wat dan? 'n Dame genaamd Andrea gee hier rekenskap van haar terugtog na outentieke tradisie in die kerk. En sy kan boonop met woorde wiggel. Lees haar laaste paragrawe met jou fynproewer leestong. Haar artikel herinner my ook aan die woorde van James K. A. Smith. Hy reken dat postmodernes nie behoefte het aan kerke wat te byderwets is nie. Hulle soek iets uit 'n ander wêreld, meen Smith. Toegegee, nie almal nie, maar soos Andrea dit in haar artikel stel, almal is ook nie vervuld deur die nuutste neigings nie. Kerke met 'n soliede tradisie kan dalk juis die gevoel van 'n ander wêreld beter onthul.

2011/12/02

Hoe om jou deuntjie te verander

Reeds hier is verwys na die feit dat dit nie werk om iemand bloot met 'n Psalmbundel oor die kop te slaan nie. Lees dit gerus weer vir agtergrond op hierdie possie. Dit was my voorreg om onlangs aan Michael Lefebvre se eenvoudige, dog diepgrypende boekie te smul: Singing the Songs of Jesus: Revisiting the Psalms. Dit is hier beskikbaar. Wat 'n werwende boekie! So sal jy mense winnend oortuig dat die Psalms inderdaad die ruggraat van ons kerksang behoort uit te maak.

Lefebvre gaan oortuigend te werk om ons vir die standpunt te win dat wanneer jy die Psalms sing, sing jy die liedere van Jesus Christus met Hom - die Koning self - as jou sangleier. Hy toon aan hoe ons in die Psalms moet onderskei tussen die woorde wat die Koning aan God sing, wat die Koning aan ons sing, wat mense tot God sing, wat mense tot die Koning sing, ja ook wat die mense vir mekaar toesing. Anders gestel, die Psalms is verbondsmatige oefeninge - lofprysende gesprekke waarin ons saam met ander gelowiges en die Drie-enige God, alles gesentreer in die Middelaarskap van Christus, verkeer. Ja, sê Lefebvre, selfs die Psalms wat spreek van bekering sing implisiet saam met Hom in wie ons alleen waarlik vind dat bekering ons vind.

Lefebrve toon aan die lofprysing van die Psalms dikwels die einddoel is, maar dat dit nie in alleenstaande sin verstaan kan word nie. Daar is dikwels verwarring, nood en ontnugterende omstandighede waardeur jy eers moet werk voordat jy by lofprysing kan uitkom. Die Psalms is genademiddele om ons te dra tot by die punt van lofprysing, selfs al voel ons nie aanvanklik so nie. Met beelde wat jou lank bybly (soos die een wat nou kom) verduidelik Lefebvre op 'n vars wyse hoe die Psalms ons sterk veiligheidstoue is wat maak dat ons die bergpieke van die lewe kan aandurf tot ons eendag voor die aangesig van God verskyn.