2019/06/14

Tyd vir 'n roomsnor

Van tyd tot tyd sal hierdie blog ook skrywes bymekaarmaak wat op ander plekke verskyn het. Die oorspronklike plasing sal in sulke gevalle telkens aan die einde verwys word. En soms mag dit lyk dat dit erg anachronisties geplaas word, soos hieronder. Maar oorweeg gerus: Is dit nie dalk ook nou tyd vir 'n roomsnor nie? Die waarhede hieronder is mos tydloos en het deur die genade 'n langdurige nawerking.

Kersfees het nie net een stel remme nodig nie. Ons is nogal goed bekwaam om die voorremme aan te slaan as dit kom by die kommersialisering van kersfees. As ons egter nie daarteen waak nie, kan ons die agterremme verwaarloos wat net so sterk teen iets anders moet rem: streng en stroewe gesigte in die feestyd. Om met strak gesigte die tongskote te laat klap teen kommersialisering, kan óók dui op ’n gebrek aan waardering vir die evangelie. 

Kerstyd herinner ons aan die mees dramatiese gebeure in die geskiedenis van die mensdom – dat die God van die heelal geopenbaar is in die vlees (1 Tim. 3:16). Dit het die begin van ’n salige wending aangekondig wat ons lewens van dienskeg-wees na kind-wees, van bedelaars na koningskinders, verander het. Dit het aan ons bevestig dat die stoflike waarde het en dat God se verlossing ook atome insluit. In hierdie wêreld van ons wat so gekraak en gebroke is, en tog nog soveel tekens van skoonheid vertoon, het God deur sy Seun die grootste moeite denkbaar kom maak. Hy het alle messias-komplekse beskaam toe Hy aan ons die ware Messias gegee het om op die regte tyd op te daag. 

God het hierdie wêreld van koggelmanders en klippe, van kremetarte en dolfyne, van atoom-fisika en sondige mense, so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het om dit te red. Hierdie oorwinning deur ’n kruisdood en ’n opstanding uit die dood sou egter net kon gebeur as die Messias ook eers as mens gebore word. In die geskiedenis van die mensdom is daar nooit so iets gesien nie. In hul wildste drome kon selfs die Jode nie hierdie wending vooraf met begrip voorspel nie; dat God ná soveel gesante, uiteindelik sy eie Seun stuur (vgl. Mk. 12:6) om te verseker dat verlossing nie ’n moontlikheid nie, maar vir altyd ’n werklikheid is. 

Die beste verhale, so het die kenners lankal aangetoon, vertoon ’n wending wat jy nooit vooraf heeltemal kon sien kom nie. Nádat die wending plaasgevind het, kyk jy egter met verwondering terug en sê: dit kon op geen ander manier werklik bevredigend uitwerk nie. Hierdie kenmerk van die beste verhale is natuurlik geskoei op die grootste en beste verhaal ooit. Nadat Jesus Christus gekom het, besef ons dat Hy die die verpersoonliking van salige wendings is. Dit kon inderdaad op geen ander wyse gebeur het nie. Daar was reeds baie skaduwees en tipes in die Ou Testament, ja, maar sonder die verrassende ontknoping daarvan in die Nuwe Testament, sou ons nie met versadiging “a-ha” kon sê nie. En ons wat anderkant die kruis en die leë graf met ’n nog groter prentjie leef, mag onder leiding van die Gees selfs “a-ha-leluja” uitroep. “Die grootste en beste verhaal,” so mag elke gelowige jubel, “het ook mý verhaal geword, want mý verhaal is ingetrek in die wending wat Jesus Christus gebring het.” 

2019/06/04

Paulus en prudentia

Ons werk tans aan 'n publikasie, Woord in die Hart, deel 3. In hierdie publikasie wat huisgesinne wil help om rondom die Woord te vergader, word 'n vraag behandel oor Paulus se benaderings tot Joodse gebruike en spesifiek met betrekking tot  besnydenis in die geval van Titus en Timótheüs. Hieronder volg die vraag en die antwoord uit 'n deel wat fokus op Handelinge 21:10-34 waar Paulus bereid was om selfs die koste op hom te neem van 'n gelofte wat saam met Joodse Christene gemaak is.

Besprekingsvraag: Vergelyk Handelinge 21:10-34 met Galasiërs 2:3-5 en ook met Handelinge 16:1-3. Was Paulus nie inkonsekwent in dit wat hy oor die besnydenis vir mense geleer het nie? Wanneer staan gebruike en gewoontes van mense in die pad van die evangelie en wanneer kan ons dit toelaat?

Insig: Paulus het van Tarsus na Antiochíë en vandaar na die res van die destydse bekende wêreld op sy sendingreise vertrek. Oral het hy die evangelie van Jesus Christus verkondig en baie mense, Jode sowel as heidene, het tot geloof gekom. In dieselfde tyd het daar in Jerusalem ook duisende Jode tot geloof gekom wat in hulle leefstyl baie nou aangesluit het by die gebruike van die Jode waarmee hulle grootgeword het. Een van die groot uitdagings waarmee Paulus te make gehad het, was om te verduidelik wat die verskil is tussen die ou verbond, waar almal soos die Jode moes word om deel van die volk van God te wees, en die nuwe verbond waar gelowige Jode en heidene nou saam deel van die volk van God uitmaak (vgl. Efés. 2:11-22; Rom. 9-11). Met Paulus se aankoms in Jerusalem het hierdie strydvrae opnuut na vore gekom.

2019/06/03

Apologetiek volgens W.D. Jonker

Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.

1. Die doel van die Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en waarom ons glo.
2. Die Evangelie word as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.