2019/06/04

Paulus en prudentia

Ons werk tans aan 'n publikasie, Woord in die Hart, deel 3. In hierdie publikasie wat huisgesinne wil help om rondom die Woord te vergader, word 'n vraag behandel oor Paulus se benaderings tot Joodse gebruike en spesifiek met betrekking tot  besnydenis in die geval van Titus en Timótheüs. Hieronder volg die vraag en die antwoord uit 'n deel wat fokus op Handelinge 21:10-34 waar Paulus bereid was om selfs die koste op hom te neem van 'n gelofte wat saam met Joodse Christene gemaak is.

Besprekingsvraag: Vergelyk Handelinge 21:10-34 met Galasiërs 2:3-5 en ook met Handelinge 16:1-3. Was Paulus nie inkonsekwent in dit wat hy oor die besnydenis vir mense geleer het nie? Wanneer staan gebruike en gewoontes van mense in die pad van die evangelie en wanneer kan ons dit toelaat?

Insig: Paulus het van Tarsus na Antiochíë en vandaar na die res van die destydse bekende wêreld op sy sendingreise vertrek. Oral het hy die evangelie van Jesus Christus verkondig en baie mense, Jode sowel as heidene, het tot geloof gekom. In dieselfde tyd het daar in Jerusalem ook duisende Jode tot geloof gekom wat in hulle leefstyl baie nou aangesluit het by die gebruike van die Jode waarmee hulle grootgeword het. Een van die groot uitdagings waarmee Paulus te make gehad het, was om te verduidelik wat die verskil is tussen die ou verbond, waar almal soos die Jode moes word om deel van die volk van God te wees, en die nuwe verbond waar gelowige Jode en heidene nou saam deel van die volk van God uitmaak (vgl. Efés. 2:11-22; Rom. 9-11). Met Paulus se aankoms in Jerusalem het hierdie strydvrae opnuut na vore gekom.
Die gelowiges uit die Jodedom het met groot ywer aan die gebruike van die ou verbond vasgehou, ook nadat hulle tot geloof gekom het. Hulle het waarskynlik geredeneer dat hulle mos nog steeds dieselfde God aanbid, met die belangrike byvoeging dat die beloftes nou in Christus vervul is. Daarom het hulle nie die nodigheid gesien om afstand te doen van dit wat in hulle kultuur nie teen Christus was nie, maar eintlik na Hom heengewys het. Daar is egter aan hulle halwe waarhede oor Paulus vertel wat baie ooreengekom het met dit waarvan Stéfanus vroeër beskuldig is (vgl. Hand. 6:13-14). Hulle het gehoor dat Paulus buitekant Judéa vir die Jode sê dat die kinders nie besny moet word nie en ook nie volgens die Joodse sedes moet wandel nie. Dit was egter ’n verdraaiing van Paulus se woorde.

Paulus moes in ingewikkelde situasies buitekant Judéa vir Jode sowel as heidene leiding gee oor hoe die Ou Testament in Christus vervul is. In sulke situasies het Paulus gestel dat die Jode nie die besnydenis moet laat verander nie, maar dat die onbesnedenes hulle ook nie moet laat besny nie (1 Kor. 7:17-24; Rom. 14:5). Die besnydenis is daardeur gerelativeer, maar dit het ook nie beteken dat mens uit die ou verbond dit moes verag as dit deel van hulle kultuur was nie. Ons kan Paulus se benadering hieroor slegs begin verstaan as ons aanvaar dat die seremoniële wette in Christus vervul is. Paulus het in hierdie verband ook telkens in die gemeentes vermaan dat jy nie onnodig jou broeder aanstoot moet gee nie (vgl. Rom. 16:17). Tog het Paulus wel geweier om Titus as Griek te dwing om hom te laat besny, en die rede was daar dat  mense daarvan ’n saligheidskwessie wou maak (Gal. 2:3-5). Aan die ander kant het Paulus wel vir Timótheüs wie se vader ’n Griek was, besny, omdat hy hom wou saamneem op sy reise en omdat dit sou help om nie onnodig teenstand by die Jode te ontlok wat nog nie die Messias leer ken het nie (Hand. 16:1-3). Paulus was glad nie hierin inkonsekwent nie. Wanneer ons snap wat vervulling van die verbond in Christus beteken en verder ook kan onderskei wanneer iets ’n saligheidskwessie is, maak Paulus se optrede baie sin. Dan sien ons in dat hy met groot wysheid hierin gewandel het en hom deur die omstandighede laat lei het oor hoe hy die beginsel van vervulling met wysheid moes toepas. Ons kan egter ook begryp waarom die bose hierdie saak maklik kon misbruik om valse gerigte te versprei.

Die leier en broer van ons Here, Jakobus, het hierdie onderskeide ook gesnap en daarom vir Paulus gevra om ter wille van die misverstande, deel te neem aan ’n Joodse gebruik oor geloftes. Paulus het mos ook self gesê dat hy vir die Jode soos ’n Jood geword het om die Jode te win (1 Kor. 9: 20-23). Paulus het daarom saam met vier ander manne bekend gemaak dat hulle heiliging vir ’n aantal dae sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring sou word. Hierdie optrede kom ooreen met die Nasireër gelofte waarvan in die Ou Testament vertel word en dit het op toewyding aan God gedui volgens die wet (Núm. 6). Paulus sou so met die betaal van die kostes sy erns om die wet te eerbiedig, bewys. So kon hy die beweringe wat oor hom gemaak is, weerlê, terwyl hy steeds getrou aan die evangelie van Jesus Christus was. Die feit is egter dat die bose hierdie dinge kan misbruik om verdeeldheid te saai en soms word gelowiges soos Stéfanus, en nou ook Paulus hier, ten spyte van die beste verduidelikings, vervolg omdat sommige mense se harte gewoon verduister is. Behoudende tradisies kan ongelukkig ook soms die rede wees vir vervolging ter wille van Christus. Wanneer ons alles gedoen het wat ons kon om nie onnodig aanstoot te gee nie en om misverstande uit die weg te ruim, en die vervolging steeds uitbreek, moet ons luister na wat ons Here sê. Hy wys ons daarop dat ons dan moet bly wees, aangesien dit dan bevestig dat ons deel is van die vervolgdes ter wille van Christus (Mt. 5:11-12).