2024/03/23

’n Nederige Koning met dubbele vergoeding

Lees: Sag. 9:9-12

Gedagte vir kinders: Die Here se kinders is baie bly oor hulle nederig-getroue Koning Jesus.

Oorsig: Die profeet Sagaria het na die terugkeer uit die ballingskap opgetree saam met die profeet Haggai. Hy het sy brief met ’n kort praktiese preek begin (1:1-5) en toe begin vertel van die gesigte wat hy van die Here ontvang het (1:6-6:15). Hy het daarna die Jode oor hulle vrae oor vas geantwoord (hoofstuk 7-8). En toe het hy twee langer preke (telkens genoem “Godspraak”/”uitspraak”/“profesie”/“burden”) gegee (hfst. 9-11 en 12-14). Ons kyk hier na die tweede deel van die eerste Godspraak. Nadat die Here oordeel maar ook genade oor die volke aangekondig het, hoor ons van ’n oproep tot groot vreugde.

Die gelowiges van Jerusalem en die tempel (Sion was die berg waarop die tempel gebou is) word met die innige name aangespreek as dogter van Sion en Jerusalem. En hulle word opgeroep om hulle grootliks te verheug en te juig. Die rede is dat hulle Koning na die ballingskap na hulle sal kom. Hierdie Koning is enersyds regverdig en ’n oorwinnaar. Andersyds is Hy ook nederig en ry op ’n jong esel, die vul van ’n eselin (v. 9; vgl. Gen. 49:11; Rigt. 5:10; 2 Sam. 16:2). Hierdie koms is nie volgens die oorwinning met strydwaens nie en perde en strydboog nie. Inteendeel, dit word vernietig. Tog bring hierdie Koning se koms vrede en heerskappy wat uitkring tot by die einde van die aarde (v. 10; vgl. Ps. 72:8).   

Die Here sê verder deur Sagaria dat Hy die gevangenes uit ballingskap sal vrylaat/vrygelaat het, omdat daar krag is in die bloed van die verbond (vgl. Ex. 24:8; Luk. 22:20).  Die gevangenes was soos Josef en Jeremia in die dieptes (vgl. Ge. 37:23-24,28; Jer. 38:6), ’n put sonder water (donker/helse omstandighede), maar daaruit is hulle bevry en sal hulle bevry word (v.11). en dan word hulle wat in gevangenskap was “hoopvolle gevangenes” genoem omdat hierdie ballinge hoop mag hê. En hulle word opgeroep om terug te keer na die vesting. In hulle tyd was dit Jerusalem en die tempel wat weer opgebou sou word op grond van God se beloftes, en vandag is dit die vesting van die Kerk as liggaam van Jesus Christus. Die Here kondig ook deur sy profeet aan dat Hy hulle dubbel sal vergoed vir hul smart (v.12). Hulle sal nie net van hulle smart bevry wees nie, maar hulle sal ook die seën van die Here beleef in hulle nuwe toestand. So het Josef ook destyds dubbel ontvang vir sy smart en so het die Here die manier om dit steeds vir sy kinders te doen, ver bo wat ons dink (vgl. Joel 2:25; Ef. 3:20).

Besprekingsvraag: Hoe is dit moontlik dat die Here sy kinders dubbel kan vergoed?

Insig: God se verlossing staan hier in verband met ’n nederige Koning. Dit kom eintlik hier onverwags, want pas vantevore verneem ons van die oordeel oor verskillende volke, moontlik deur die oorwinnings van Alexander die Grote. Maar dan hoor ons skielik van die eintlike Grote, die Koning uit die geslag van Dawid (v.10; vgl. Ps. 72:8) wat regverdig is en oorwin, maar wat ook nederig ry op ’n esel. 

2024/03/15

Om God te ken in die nuwe verbond

Lees: Jer. 31:31-34

Gedagte vir kinders: Die Here skryf deur die Gees sy wet in sy kinders se harte.

Oorsig: Die Here het die profeet Jeremia van jongs af geroep om ’n profeet vir die nasies en koninkryke te wees, om (1.1) uit te ruk en (1.2) om te gooi en (1.3) te vernietig en (1.4) te verwoes, om (2.1) te bou en (2.2) te plant (vgl. Jer. 1:10). Ons lees baie van die eerste vier negatiewe in Jeremia 1-29, maar in hoofstuk 30 en 31 (vgl. 31:28) hoor ons ook van die opbou en die wonderlike beloftes van die Here. Dit gaan oor ’n terugkeer uit die ballingskap en is verder ook tipies van die heerlike dinge wat in vervulling sou gaan vir die Kerk wanneer die Messias sou kom. Ons verneem in hoofstuk 31 van herstelde vrede en eer en vreugde en oorvloed (v.1-14). Hulle hartseer oor hulle kinders wat hulle verloor het, sal tot ’n einde kom, en hulle sal hul van hul sonde bekeer en God sal hulle in genade aansien (v.15-20). Hulle en hul kinders en hul vee sal besonder vermenigvuldig en seën beleef (v.21-30). 

En dan hoor ons dat God ’n nuwe verbond met Israel asook die huis van Juda sal sluit (v.31). Dit sal nie soos die verbond wees wat die HERE met hulle vaders gesluit het by Sinai toe Hy hulle kragtig uit Egipte gelei het nie. Daardie verbond het hulle verbreek, alhoewel die Here hulle gebieder/eggenoot was, het die HERE gesê (v.32). En dan beskryf die HERE hierdie nuwe verbond. Hy gee sy wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart. Die HERE bevestig dit ook verder deur die uitdrukking wat dikwels gebruik is om te benadruk dat Hy met sy volk in ’n verbond lewe: “En Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir my ’n volk wees.” (vers 33).

Die HERE verduidelik ook verder wat dit beteken. Hulle sal nie meer elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer leer om die HERE te ken nie. Die rede is dat almal Hom sal ken, klein en groot, het die Here gespreek (belowe). Dit beteken nie dat niemand meer enige lering sal benodig nie, maar wel dat die basiese kennis van God, wat ook intieme kennis insluit, alle gelowiges se voorreg sal wees deur sy Heilige Gees. Daar word ook verder duidelik gemaak wat dit beteken. Daar sal ’n nuwe kennis van sondevergifnis wees. Waarom? Want iets wonderliks sou gebeur. Die Here sou iets doen dat al hul ongeregtigheid vergewe kon word op so ’n manier dat Hy nooit meer aan hulle sonde sou dink nie (v.34). Later sou dit duidelik word hoe dit kon gebeur. Want die Here Jesus sou die finale offer aan die kruis bring wat so groot en so effektief sou wees, dat alle skuld van God se kinders vergewe kon word.    

Besprekingsvraag: Waarom was ’n nuwe verbond nodig in die Ou Testament?

Insig: ’n Nuwe verbond in Israel het absoluut noodsaaklik geword. Jerusalem en die tempel was verwoes weens die volk se aanhoudende ontrouheid. Eintlik was God genadig om die oordeel en verwoesting so lank uit te stel. Maar hul afkerigheid was ongeneeslik (vgl. Jer. 7:21-29; 11:1-14). Dit word ook duidelik in elkeen se lewe van vleeslikheid en sonde. Israel kon nie maar net terugkeer nie. Hul verbond met God was aan flarde. By Sinai en die goue kalf kon Moses darem nog vir hulle intree. Jeremia word egter deur die volk verwerp en die Here beveel hom ook om nie vir hulle in te tree nie (vgl. Jer. 7:16, 11:14). Was daar nog enige hoop? Deut. 30:6 bied reeds die groot antwoord: Daar is alleen hoop as God self iets hieraan doen. Hier weerklink dit, die belofte van ’n nuwe verbond, die enigste keer uitdruklik so genoem in die Ou Testament. Ons lees in lyn hiermee verder ook van ’n nuwe toe-eiening van Israel en van ’n ewige verbond (vgl. Hos. 2:14-23; Es 16:60; 37:26; Jes. 55:3).

2024/03/12

Kyk na die Gekruisigde

Lees: Joh. 3:14-21

Gedagte vir kinders: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Jesus Christus vir ons gegee het.

Oorsig: Ons lees hier van Nikodemus, ’n man uit die Fariseërs, wat soekend was en in die nag na Jesus gekom het. Die Here het hom toe geleer van ’n nuwe geboorte wat nodig is as iemand die koninkryk van God wil sien. Nadat Hy telkens vir Nikodemus daarop gewys het dat dit iets is wat net God kan doen en Nikodemus radeloos was oor hoe so iets kan gebeur, het die Here hom terug verwys na ’n besondere gebeurtenis in die Ou Testament toe die Israeliete met ’n houding 9murmureer) teenoor God gekla het. Die Here het toe slange onder die volk gestuur om hulle oor hul ondankbaarheid te straf (vgl. Num 21:4-9). Toe die volk besef het dat hulle besig was om te sterwe, het hulle tot die Here geroep en God het Moses toe bevel om ’n koperslang op ’n paal op te rig en dat almal wat na hierdie koperslang “kyk”, sal lewe.

En toe leer die Here vir Nikodemus en ons dat net soos die koperslang daar op ’n paal die weg tot genesing en nuwe lewe was, so sal Hy ook verhoog moet word om lewe te gee (v.14). Dit beteken dat Hy aan ’n kruis verhoog moes word bo die aarde en uiteindelik in die hemel.  Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. En toe het Hy dit nog verder verduidelik in die heerlik bekende woorde: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (v.15-16).

Die Here het toe verder verduidelik dat God sy Seun juis nie in die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (v.17). Elkeen wat in Hom glo, word eenvoudig nie veroordeel nie. Aan die ander kant,  die Een wat nie in hierdie wonderlike antwoord van God glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie (v.18). En die oordeel is dit: dat die lig in die wêreld vol duisternis ingekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, omdat hulle werke boos was (v.19). Dit werk eenvoudig so dat elkeen wat kwaad doen, die lig haat en sy bose werke nie bestraf wil hê deur die lig nie (v.20). Aan die ander kant is dit so dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werk openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (v.21). Dit laat ons besef hoe nodig ons Jesus Christus het wat ons kan reinig sodat ons kans sien om in die lig te kan staan (vgl. 1 Joh. 1:7,9).    

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor die eenvoud van die evangelie in die woord “kyk”?

Insig: In Joh. 3 hoor ons van twee kante af wat nodig is om vry te kom van die sonde wat ons so diep en terminaal aangetas het. In die eerste gedeelte (v.1-12) verneem ons van die aardse dinge wat vir mense nodig is om nuut te word. Nikodemus was veronderstel om te weet dat iets drasties nodig is. Hy moes ten minste geweet het van Israel se doodstoestand in die ballingskap en Esegiël se wonderlike beloftes oor ’n nuwe gees en water wat uitgegiet word wat heerlik reinig (vgl. Es. 11;19; Es. 36:25-27). Hy moes tog ook geweet het dat dit in lyn was met die profete wat reeds voor en na na Esegiël hierop gewys het en dat dit in verband gestaan het met die nuwe daad van God (vgl. Jes. 44:3; Jer. 31-34; Joel 2:28-29). Die hele Ou Testament loop daarop uit dat alles vasgeloop het en dat iets nuut nodig is. Dit is ook tekenend van ons eie vleeslike lewe. Daarvan getuig reeds die groot beloftes van die profete. In die tweede gedeelte (v.13-21) verneem ons watter hemelse dinge hiervoor nodig is. 

2024/03/01

Ons nuwe tempel

Lees: Joh. 2:13-25

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons tempel deur wie ons God aanbid.

Oorsig: Ons lees in Johannes, anders as in die sinoptiese evangeliebeskrywinge, drie keer van ’n Pasga in Jerusalem (vgl. Hfst. 2,6,18-19). Dit is hoe ook hoe ons aflei dat die Here Jesus se bediening ongeveer drie jaar lank was. Hier verneem ons van die eerste keer toe die Here Jesus opgegaan het na Jerusalem vir die Pasga. Die mense wat ver gekom het, kon hulle diere verkoop, met die geld reis na Jerusalem, en daar dan met die geld diere koop wat hulle as offers kon bring (vgl. Dt. 14:24-26. Let op die oorvloedige lewe hieroor). Ongelukkig het sommige besigheidsmense, die geldwisselaars, die situasie ook uitgebuit om geld te maak (toerisme-strik). Boonop lyk dit of hulle die markplek vir die diere saam met die geldwisselaars sommer verskuif het na die tempel self, daar in die buitehof waar die heidene toegelaat is om te kom bid (v.13-14; vgl. Mark. 11:15-17; Jes. 56:7; 2 Kr. 6:32-35).

Die Here Jesus het toe ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uit gedrywe, ook die skape en die beeste. Die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. Hy het toe spesifiek vir die duiweverkopers gesê om hulle dinge daar weg te neem:  “Moenie die huis van my Vader (let op) ’n handelshuis maak nie.” (v.15-16). Sy dissipels het toe onthou dat daar geskrywe is in Ps. 69:10: “Want die ywer vir u huis het my verteer ...” Die Jode het toe vir Hom gevra-antwoord watter teken Hy kan toon wat Hom die reg gee om hierdie dinge te doen? Die Here Jesus het toe geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek (let op) dit oprig.” Die Jode het toe gesê dat daar al 46 jaar aan die tempel gebou word (sedert 20 v.C. tot 64 n.C.). Hoe sou Hy dit in drie dae regkry om dit op te rig? (v.17-20).

Die Here het egter oor die tempel van sy liggaam gespreek. Toe Hy later opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het. Voor sy opstanding was dit egter net vir hulle  uitdrukking/gesegde wat hulle nie verstaan het nie. Daarna het hulle dit beter verstaan en die Skrif geglo (vgl. Ps. 16:10-11) asook die woord wat Jesus gespreek het (v.21-22). En daar, tydens die Pasga in Jerusalem, het baie ook alreeds in sy Naam geglo omdat hulle die tekens gesien het wat Hy daar gedoen het. Maar die Here Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie, maar Hy het almal geken, selfs sy eie dissipels. En Hy het nie nodig gehad dat iemand vir Hom sou getuig van wat in mense se diepste harte aangaan nie (v.23-25).          

Besprekingsvraag: Watter tempel is afgebreek en watter tempel is uiteindelik opgerig?

Insig: Die belangrikste stad in Israel was Jerusalem, die stad van Koning Dawid, en die belangrikste plek in Jerusalem was die tempel. Politiek en godsdiens is plofbare sake. Wie by oor tempelsake moeilikheid maak, kry vinnig met geweld te doen (vgl. Hand. 19). Hierdie tweede groot tempel deur Herodes begin bou, na die eerste tempel van Salomo was boonop besonder groots, een van die wonders van die antieke wêreld. Daar is reeds 46 jaar daaraan gebou en daar sou nog 37 jare gebou word tot die pragstuk klaar was. En tog was dit net vir ses jaar voltooi gewees voor dit tot die grond verwoes is in 70 n.C. Waarom? Omdat Jerusalem die boodskap van die beloofde Messias verwerp het (Luk.19:43-44). Wat is sy boodskap?