Gedagte vir kinders: Die Here kan in moeilike
omstandighede wonderlike uitkoms bring.
Oorsig: Nadat Moses die volk Israel deur die Rooi See gelei het, het
die Here hulle begin beproef. Hulle was wel gered uit Egipte, maar in die skool
van die woestyn moes hulle geloof nog baie gesuiwer word. Ons lees net na die
wonderlike verlossing by die Rooi See en die bevestiging dat God self stry vir
sy volk en dat Moses waarlik sy kneg is, dat die volk gou ongelowig raak by die
eerste krisis. By Mara is die water bitter (Ex. 15:22-27). Later raak hulle
honger (Ex. 16:1-36), en toe hulle by Rafidim op bevel van die Here kom, die
gedeelte wat ons vandag lees (Ex. 17:1-7), was daar geen water om te drink nie
(v.1).
In plaas daarvan dat die volk in die geloof hierop reageer,
twis die volk toe met Moses. Hulle eis toe dat Moses en die ander leiers vir
hulle water moet gee om te drink. Moses het hulle toe gevra waarom hulle met
hom twis. Dit was mos die HERE wat hulle tot daar gelei het, en waarom wou
hulle dan die HERE versoek, met ander woorde op hulle voorwaardes toets asof Hy
Homself nie genoeg bewys het nie (v.2). Maar die volk het sterk gesug (gesmag)
na water en daarmee saam teen Moses gemurmureer (“gemoan”). Hulle het gevra
waarom Moses hulle dan uit Egipte uitgelei het om hulle, hul kinders en hul
vee, van dors te laat omkom (v.3).
Moses het toe die HERE aangeroep. Hy het gevra wat hy met die volk moet doen, want hulle was op die punt om hom te stenig (v.4). Die HERE het toe vir Moses geantwoord dat hy voor die volk moes uittrek en van die oudstes in Israel moes saamneem. Hy moes ook sy staf neem waarmee hy die Nyl geslaan het (v.5). Die Here het gesê dat Hy daar by die rots op Horeb sou wees en daar moes Moses met sy staf op die rots slaan. Dan sou daar water uitkom sodat die volk kon drink. Moses het toe so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel (v.6). Ons lees in die Psalms dat daar behoorlik water uitgestroom het: “Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke - 'n rivier!” (Ps.105:41) “Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede ... soos riviere.” (Ps. 78:15-16). Moses het daardie plek toe Massa (versoeking) en Meriba (twis) genoem omdat die kinders van Israel daar getwis het en omdat hulle die HERE versoek het (v.7). Hoe het hulle die HERE versoek? Deur te vra of die Hy werklik in hulle midde is. Ja, hierdie plekke moes Israel herinner dat hulle die Here versoek het terwyl Hy soveel wonders aan hulle in Egipte en by die Rooi See en ook daarna gedoen het. En tog was die HERE hulle genadig.