Wys tans plasings met die etiket Naaste. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Naaste. Wys alle plasings

2023/10/26

Ons is gemaak om lief te hê

Lees: Mt. 22:34-46

Gedagte vir kinders: Die Here het ons gemaak om Hom baie lief te hê en ook ons medemens.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het drie vrae (soos satan aan die begin) vir Hom gevra: oor (1) die verhouding met die regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), en (3) die grootste gebod in die wet (v.34-40). Daarna het Hy hulle die belangrike vraag gevra oor die identiteit van die ware Messias (v.41-46). Hier fokus ons op hulle derde groot vraag en daarna sy belangrike opvolgvraag.

Die Fariseërs (Bruner: die suiweres) het gehoor dat die Here Jesus die Sadduseërs (Bruner: die gesofistikeerdes) se monde gesnoer het en toe almal saam teen Hom vergader. Een van hulle wat ’n wetgeleerde was, het Hom toe met ’n vraag probeer vastrek: Hy het gevra: Meester, wat is die grootste gebod in die wet? (v.34-36). Hierop het die Here Jesus die wetgeleerde geantwoord dat jy die Here jou God (let wel) moet liefhê met jou hele hart (die setel van jou menswees) en met jou hele siel (jou diepste menswees) en met jou hele verstand (jou denkende menswees). Dit is die eerste en groot gebod. Die tweede wat hiermee gelykstaan is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hiermee het die Here Jesus gebruik gemaak van Deut. 6:45 en Lev. 18b. Hy het toe gesê dat aan hierdie twee gebooie die hele wet (die eerste deel van die Ou Testament) en die profete (die tweede deel van die Ou Testament) hang (v.37-40). Dit beteken dat die hele Bybel van hierdie liefde tot God en jou naaste afhang.

En toe die Fariseërs saamgekom het, het die Here Jesus ook vir hulle ’n vraag gevra. Daarmee het Hy vir hulle ook gesê dat hulle die belangrikste vraag nog nie gevra het nie. Hy het hulle gevra wat hulle van die Messias (Grieks: Christus) dink en spesifiek wie se seun die Messias is. Hulle het geantwoord dat die Messias uit Dawid is (v.41-42). En toe vra Hy vir hulle waarom Dawid dan in Ps. 110: 1 in die Gees hierdie Messias Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? (v.43-44) Hy het dit verder verduidelik en gevra dat as Dawid die Messias dan Here noem, hoe kan hierdie Messias bloot sy seun (nageslag) wees. Niemand kon Hom daaroor antwoord nie (vandag weet ons dat dit was omdat Jesus ook God is). Hulle het toe ook nie meer gewaag om Hom vrae te stel voordat Hy gevange geneem is nie (v.45-46).

Besprekingsvraag: Wat beteken dit dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself?

Insig: Die Here Jesus verdiep en gee fokus aan die eenvoud van God se wil vir ons lewe. Ons is gemaak om geliefd te wees en lief te hê. Maar dan moet hierdie liefde reg begryp en begrond word. Die fokus op God staan sentraal (m.b.t tot die staat en dood vooraf en hier m.b.t. die naaste). Naasteliefde raak gou sentimenteel wanneer dit nie in God begrond bly nie. Die tien gebooie (God se wil) bly daarom ook die konkretisering van die liefdesgebod (Prof. Paul De Bruyn). Maar die liefde tot God hang ook nie in die lug nie. Die liefde tot die naaste is (1) die geleentheid, (2) die toets en (3) die voertuig van die liefde tot God wat in ons lewens oorloop (vgl. 1 Joh. 4:20). Vertikale en horisontale liefde veronderstel mekaar altyd.

2022/07/07

’n Ontblotende omkeervraag

Lees: Luk. 10:25-37

Gedagte vir kinders: Christus roep ons om in sy krag graag ander mense te help.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring en in hierdie tyd hoor ons baie van dissipelskap. Hier leer ons hoe dissipels van die Here Jesus se liefde vir die naaste lyk. Op die Here se pad het ’n sekere man wat in die wet van God geleerd was, gekom en die Here Jesus getoets deur vir Hom te vra wat Hy moes doen om die ewige lewe te beërwe (v.25-26). Die Here het hom met ’n teenvraag geantwoord en gevra wat hy in die wet daaroor lees. Die man het toe geantwoord dat jy God met alles (let op die drie dimensies: hart, siel, krag. Die verstand, gewoonlik ingesluit by die hart, word hier bygevoeg) in jou moet liefhê en jou naaste soos jouself. Die Here het geantwoord dat hy reg was en dat hy dit moes doen en lewe. Die Skrifgeleerde wou homself egter regverdig (let wel), en het toe gevra wie sy naaste is (v.27-29). Die Ou Testament het hieroor alreeds duidelike riglyne gegee (Lev. 19:18,34) en die Here Jesus het toe hierdie riglyne se bedoeling verder  gevoer. Hy het hom geantwoord deur ’n gelykenis te vertel.

Daar was ’n sekere man wat afgegaan het van Jerusalem na Jerigo.  Dit het was ongeveer 25km en het steil na onder geloop en ongeveer 1000m gesak tot by die see. Op die pad het rowers het hom aangeval, uitgetrek en geslaan en toe weggegaan en hom half dood daar laat lê. Daar het toe ’n priester met daardie pad afgekom (dus vanaf Jerusalem en die tempel af na Jerigo, en hom gesien, maar anderkant verbygegaan. Ook ’n Leviet wat nie ’n priester was nie, maar gehelp het met werk by die tempel, het daar gekom en die man gesien, maar ook anderkant verbygegaan (v.30-32). En toe het daar iemand anders gekom wat heeltemal anders opgetree het. Hy was ’n Samaritaan (Samaritane was nie op goeie voet met die Jode nie). Toe hy op sy reis op die gewonde man afgekom en die man sien, het hy (1) hom baie jammer gekry, (2) na hom te gegaan, en (3) sy wonde verbind en (4) olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom verder (5) op sy eie pakdier gehelp en (6) die man na ’n herberg geneem en (7) vir hom daar gesorg.

Asof dit nie al genoeg was nie, het hy (8) toe hy die volgende more weggaan, twee pennings uitgehaal (Die waarde van twee dae se werk vir ’n dagloner en wat iemand ’n hele paar dae kon versorg) en dit aan die eienaar van die herberg gegee om die versorging te behartig. Meer nog, (9) hy het gesê dat indien daar enige onkoste meer is, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom (v.33-35). Die Here Jesus het toe die wetgeleerde se vraag omgedraai. Hy het nie gevra wie die Samaritaan se naaste was nie, maar wie die naaste was van hom wat nood gehad het. Die Skrifgeleerde het toe nie bloot geantwoord dat dit die Samaritaan was nie, maar dit beskrywe as “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”. Toe het die Here Jesus hom geantwoord dat hy moes gaan en net so moes doen (v.36-37).

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor naasteliefde wanneer Christus die man se vraag omkeer?  

Insig: Ons kry in die onmiddellike verband te make met allerhande dimensies van dissipelskap. (Die koste: 9:57-62; die missie:10:1-24; Christus: 10:38-42; God en gebed: 11:1-13). Hier hoor ons van dissipels se liefde - tot God en (uitgebrei) tot die naaste. Dit is opvallend dat die Here Jesus se lering hier drie groot kenmerke het. Hy maak dit (1) baie konkreet deur ’n gelykenis, Hy gebruik (2) ’n onverwags-ontblotende voorbeeld, en (3) Hy draai die rigting van die vraag oor wie my naaste is heeltemal om. Ons het nodig om meermale so hanteer te word.