Wys tans plasings met die etiket 1 Samuel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 1 Samuel. Wys alle plasings

2025/01/14

Gebed in onmag

Lees: 1 Sam. 1:1-28

Gedagte vir kinders: Om te bid beteken dat ons erken dat net die Here ons kan help.   

Oorsig: Die geskiedenis van Samuel vind plaas aan die einde van die tyd van die Rigters waar die mense net gedoen het wat hulle wil. In daardie tyd was daar 'n Leviet met die naam Elkana (1 Kr. 6:33-38) wat twee vroue gehad: Hanna, kon geen kinders hê nie en word eerste genoem. Peninna word tweede genoem en kon wel seuns en dogters hê. Elkana het jaar vir jaar opgegaan het om die Here te aanbid by Silo. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was daar, maar hulle was ontrou aan die Here, lees ons later (v.1-3; vgl. 1 Sam. 2:12).

Elkana  het tydens sy jaarlikse offers aan al sy gesinslede offervleis gegee, maar aan Hanna ’n dubbele deel omdat hy haar liefgehad het. Die Here het egter haar moederskoot gesluit. Peninna het haar ook bitterlik geterg om haar woedend in haar magteloosheid te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het (v.4-5). Dit herinner ons aan Sara en Hagar vroeër (Gen. 16:1-4; 21:9). Dit het vir ’n geruime tyd so aangehou, veral by die jaarlikse offers, en Hanna kon maar net ween en wou soms selfs nie eet nie. Haar man was baie lief vir haar en het haar getroos dat hy baie lief is vir haar en haar daarop gewys dat Hy vir haar beter was as tien seuns (v.7-8).

Toe hulle eenmaal opgetrek het om voor die aangesig van die Here te verskyn, het Hanna gegaan om haar hart voor die Here uit te stort terwyl Eli, die priester, by die deurpos van die tempel (waarskynlik die tabernakel in ’n gebou) gesit het in Silo. Sy het belowe dat as die Here van die leërskare (eerste maal so genoem in die Bybel), aan haar 'n manlike kind sou gee, sy hom aan die Here sou gee volgens die Nasireër-gelofte (vgl. Num. 6). Dit het onder meer beteken dat geen skeermes op sy hoof sou kom nie (v.10-11). Eli het gedink sy is dronk omdat sy lank sag en net met haar mond gebid het, maar Hanna het verduidelik dat sy haar siel voor die Here uitgestort het. Eli het haar toe vrede en gebedsverhoring toegebid en sy het weggegaan en daarna was haar aangesig anders (v. 12-18). Die volgende dag het hulle vertrek nadat hulle aanbid het en by hulle huis in Rama gekom. Die Here het Hanna het Hanna toe verhoor en so is Samuel gebore wat so genoem is omdat sy hom van die Here gebid het. Nadat die kind gespeen is, vermoedelik drie jaar oud, het sy die seuntjie met offers na Eli gebring en vir hom vertel dat haar gebede verhoor is en dat sy die kind afsonder vir God se werk soos wat sy gebid het (v.19-28).  

 

Besprekingsvraag: Gaan dit by Hanna net om persoonlike vervulling of gaan dit oor meer?

Insig: Die verhaal van Hanna vind plaas aan die einde van die Rigtertydperk. Dit was 'n tyd toe die mense elkeen net gedoen het wat reg was in hul eie oë en sommige priesters was korrup (Rigt. 17-19; 21:25). God se Woord en Wet was nie hul maatstaf nie en afvallige priesters soos Hofni en Pinehas het meegehelp dat die volk die offer aan die Here verag (vgl. 1 Sam. 2:12,17). Hulle het dus die teenoorgestelde gedoen as wat hulle veronderstel was om te doen: om die mense te help om heilig en met blydskap te lewe. In hierdie toestand het Elkana se eie gesin ook iets van Israel se toestand uitgestraal

2023/07/21

Patrone en uitdagings wanneer God nuwe dinge doen

Op 16 Januarie 2022 het ek die voorreg gehad om by 'n erediens voor te gaan wat ook deel was van die opening van die Afrikaanse Protestantse Akademie se jaarlikse verrigtinge. 'n Verkorte weergawe van die boodskap is later ook op Kragdag se blad gedeel. Ek leen in hierdie boodskap sterk aan op die homiletiese kommentaar op 1 Samuel van Joel McDurmon, asook die kommentaar van Peter Leithart naas 'n paar ander.

Lees: 1 Sam. 22:1-20; 1 Kr. 11: 10,15-19

Teks: 1 Sam. 22:1,2

1 Kron. 11:19b

Sing:

Ges. 39:1-3

Ges. 267:1-2

Ps. 144:1,4,5,6 

Inleiding

Een van die kenmerke van ons Whatsapp-tydvak, is dat ons deesdae met elke krisis ’n nuwe bombardering van boodskappe kry dat dit die einde van alles is. Ja, ons is by die punt dat daar al soveel keer wolf-wolf geskreeu is, dat mense geneig is om net maar te reageer met: “Die einde - hier gaan ons alweer...” Maar dit bring ons by ’n verdere dilemma. Te veel mense wat die oë rol oor die whats-app uitsprake, rol nie altyd die oë oor die heersende verhale van die hoofstroom-media nie. Hulle kan ook nie anders nie, want waar die Woord as ware Noord losgelaat word, gebeur nie niks nie. Nee, die hoofstroom-media en die hoofstroom denkwysies word die ware Noord. Wants soos al tereg aangedui is, mense wat nie meer in God en sy Woord glo nie, glo nie niks nie, hulle glo enigiets. Om dit dus in die beeld van die Matrix se rooi en die blou pil uit te druk: Diegene wat die blou pil neem, het gekies vir die hoofstroom-media as ware Noord, en hulle het ingekoop in ’n bepaalde staatsorde, waar die meubels dalk afgestof en rondgeskuiwe moet word, maar waar die mure en deure basies aanvaar is. En dan is daar diegene wat die rooi pilletjie geneem en verkies om te sien wat eintlik aangaan, maar iets haper, want dit lei meer tot whatsapp wolf-wolf boodskappe as enigiets anders.

Die Kerk van Christus doen iets anders. Hulle neem, om die beeld voort te sit, die koninklike pers pil wat gaan oor Christus as Koning en sy Woord. En dit is onder meer die roeping van die Kerk vandag om mense te wys op twee afgronde waarby ons maklik kan afval wanneer ons die tye wil lees en hanteer. Die een is om elke storie uit die monde van die Hoofstroom Media (HSM) te glo, en die ander afgrond is om elke selfaangestelde apokaliptiese profeet wat die eindtye op whatsapp aankondig, heeltemal te glo.

Ja, die Here is op pad en u en ek is nader aan die voleinding as toe ons gelowig geword het. Maar die Kerk van Christus is ook al deur die eeue met verstommende uitdagings gekonfronteer en deur watter avonture het Kerk van Christus nie al gegaan nie. En daarom moet ons uit ons gelese gedeeltes vanaand hoor: God lei sy Kerk en Koninkryk ook om nuwe dinge te doen, te midde van krisisse, te midde van nasionale, multi-nasionale en selfs globale krisisse, tirannie en massa-histerie. Donker wolke is nie net tekens dat ons nou by die einde is en net maar biddend kan toekyk nie. Nee, ons Skrifgedeeltes lei ons om om raak te sien dat God ook nuwe bewegings in sy Kerk en Koninkryk begin deur middel van krisisse en korrupsie. Vanuit ons Skrifgedeeltes fokus ons daarom op die volgende:

·       Die patroon van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die uitdagings van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die ywer van nuwe bewegings van God in moeilike tye