Wys tans plasings met die etiket ideologie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ideologie. Wys alle plasings

2011/08/19

Die gees van Augustinus

Augustinus sê in die inleiding van Boek III van sy bekende werk, De Trinitate, veelseggende woorde oor sy gesogte publikasies. Ons kan gerus maar sy opinie oor sy uitsprake meet aan ons opinies oor ons eie uitsprake. Hy stel (1) dat hy eerstens nie bloot behoefte het aan 'n gawe leser/hoorder nie, maar ook 'n eerlike kritikus. Hy het (2) nie behoefte aan 'n blote naprater nie, sê hy, maar darem ook nie aan 'n kritikus wat net sy eie kritiek kan napraat nie. Hy vertrou ook (3) verder dat sy leser nie meer van hom sal hou as van die algemene en ontwyfelbare geloof nie. Hy gaan voort en ek vertaal vry:

Vir die eerste groep sê ek: Moenie aan my werke dieselfde eerbied betoon as aan die kanonieke Skrifte nie. Wat jy ook al vind in die Skrif wat jy voorheen nie geglo het nie, wel, glo dit onmiddellik. Maar wat jy ook al in my geskrifte vind wat jy nie tot dusver as seker geag het nie, as ek jou nie oortuig het dat dit seker is nie, gaan  voort om twyfel daaroor te hê. Vir die tweede groep sê ek: Moenie wat ek skryf kritiseer op grond van die standaard van jou eie vooroordele of beterweterigheid nie, maar op grond van die goddelike teks of onomkeerbare rede. As jy hierin enige waarheid vind, dan behoort dit nie bloot aan my nie, maar eerder aan beide van ons deurdat dit verstaan en omhels word deur ons altwee. As jy my uitvang in enigiets wat nie waar is nie, dan moet ek erken dat ek 'n fout gemaak het; maar van nou af, deur versigtiger te wees, kan beide van ons die eienaarskap van foute vermy.

Augustinus se werke bruis van die honger na God se waarheid soos dit in die Skrif gemyn word. Die simptome hiervan is die wyse wat hier pertinent aan die orde gestel is. Ons behoort in ons apologetiese styl hiervan kennis te neem. Mense behoort by ons 'n honger na die waarheid te bespeur wat diep uit ons siele opwel. Een van die kenmerke van so 'n honger en dors na die geregtigheid is dat jy graag hoor waar ander jou dalk reg kan help, op voorwaarde dat hulle nie in hul eie ideologie-web vasgevang is nie. Want dit gaan nie om jou of my nie. Dit gaan om God en sy waarheid wat Hy vir ons almal geopenbaar het en waarin ons almal hoe langer hoe meer behoort in te groei. Hierdie groei sal nooit ophou nie. Daarom bly dit altyd opwindend om verder na te speur, dieper te delf, verdere dimensies te ontdek. Beleef mense by ons hierdie Augustiniaanse gees?

2011/08/11

Dis hoe dit is - met en sonder Steve

In Suid-Afrika dink baie wat die frase "dis hoe dit is" hoor, onmiddellik aan Steve Hofmeyr en sy program(lied) op Kyknet. Steve is vir baie die voor die hand liggende eerste konnotasie. Maar daar is 'n ander kandidaat met 'n bedekte konnotasie wat baie kragtiger is. Hy kamoefleer hom met die frase "dis hoe dit is" beter as die beste voetsoldaat. Deur hierdie frase in ons monde en in ons koppe sluip hy in by ons geselskappe by die braaivleisvure, by ons debatte op verhoë, by ons wetenskapseminare. Ja, hy sluip in selfs by ons diep en minder diep mymeringe in ons badkamers. Sy van is mnr. Ologie - 'n bekende van in die wêreld van Ologieë. Maar sy naam wek oral siddering: Ide. Hy is beter bekend as ...

Ideologie kan op verskillende maniere verstaan word, sê die geleerdes vir ons. Dit kan beteken (1) dat 'n bepaalde idee buite die maat ons lewens beheers. Dit kan ook beteken (2) al daardie onbewuste aannames oor wat ons as vanselfsprekend ag ("dis hoe dit is"). Dit kan ook (3) bloot dui op 'n algemene agenda, 'n algemene opinie of algemene oortuiging. Kies jou kaart, maar weet dat hierdie kandidaat met meer as een weergawe kaart speel.

Dit is veral die "dis hoe dit is"- kaart (nr. 2) wat hier van toepassing is. Beide Protestante en Marxiste - elk uit verskillende hoek en met verskillende doelstellings - het lankal al teen hierdie streep in ons in opstand gekom. "Dis hoe dit is" kan 'n valse bewussyn wees, het hulle met vuur in hul oë en harte getuig.

2011/07/13

Kuns, Kultuur en Krygers in een asem

Die nuus in Suid-Afrika het onlangs by meer as een geleentheid berig oor die Kommandokorps. Wat insiggewend is, is dat die swartsmeer kwas nie meer so goed werk met hierdie tipe organisasies nie. 'n Mens is dankbaar dat RSG se monitor program op 13 Julie 2011 darem erkenning gee aan die polisiestem wat kort en kragtig stel dat daar nie eens rede vir verdere ondersoek bestaan nie. Daar is eenvoudig 'n toenemende ongemak by Afrikaners oor die werklikhede in Suid-Afrika. Die alarmistiese sirenes van diegene wat ideologiese en revolusionêre optrede van elke Boer vrees, begin al hoe meer klink soos wolf-wolf wat nou net duisend keer te veel uitgeroep is. Of miskien besef die skril alarms dat verlamming deur verwronge skuldgevoel projeksies nie meer so kragtig soos in die verlede werk nie. Die sondeval het die Boere inderdaad nie verbygegaan nie. Maar wie enige kind, enige mens, enige Boer op die langtermyn met hoofsaaklik skuld bombardeer, moenie verbaas wees as die teendeel bewerk word nie. En piëtistiese liberaal-demokrate kan maar ophou om hul harte vas te hou. Hulle moet eerder hul valse thou-shalt-not-boekie vir die Bybel wat die Ou Testament insluit, verruil.