2022/03/29

Ware gesag en valse gemaksone

Lees: Luk. 20:9-20

Gedagte vir kinders: Elkeen wat Jesus verwerp, sal verlore gaan.          

Oorsig: Die Here Jesus het deur sy intog op ’n esel in Jerusalem reeds verklaar dat Hy wel die Messias is. Hierna was daar ’n duidelike spanning tussen Hom en die godsdienstige leiers van Jerusalem. Hulle het hom dan ook reguit gevra deur watter gesag Hy optree. Hy het hulle indirek geantwoord deur hulle eers te vra vanwaar Johannes die Doper se gesag was. Dit het hulle in ’n moeilike posisie teenoor die skare geplaas en daarom wou hulle nie antwoord nie. Daarom wou die Here Jesus hulle ook nie antwoord nie, maar sy antwoord het duidelik gemaak dat dit dieselfde gesag was waarvan Johannes die Doper gepraat het (Luk. 20:1-8).

Hierna het Hy sy antwoord oor gesag voortgesit deur ’n gelykenis. Dit het gegaan oor ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan landbouers verhuur het toe hy vir ’n lang tyd op reis gegaan het (v.9). Toe die tyd reg was om sy deel van die wingerd te kry, het hy ’n dienskneg gestuur, maar hulle het hom geslaan en met niks weggestuur (v.10). Hulle het die volgende dienskneg ook geslaan en ook skandelik behandel. Die derde een het hulle gewond en uitgedryf (v.11-12). Uiteindelik het die eienaar besluit om sy geliefde seun te stuur met die gedagte dat hulle miskien vir hom ontsag sal hê (v.13). Maar die landbouers het presies anders geredeneer. Om ’n vreemde manier het hulle gedink dat as hulle die enigste seun doodmaak, hulle die grond sal erf. Hulle het die seun toe buitekant die wingerd gegooi en hom daar doodgemaak. Die Here Jesus vra toe wat die eienaar sal doen. Sy antwoord was dat die eienaar sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Toe die mense dit hoor het hulle uitgeroep dat so iets nooit mag gebeur soos wat die landbouers gedoen het en toe hulle regverdige oordeel ontvang het nie (v.14-16).

Die Here Jesus het hulle toe aangekyk en aangehaal uit Ps. 118:22. Dit gaan oor ’n steen wat die bouers verwerp het omdat hulle gedink het dit slegte materiaal is, maar wat uiteindelik tog baie eg was en die hoeksteen geword het. 

2022/03/25

Twee soorte probleemkinders

 Lees: Luk. 15:1-3, 11-32.

Gedagte vir kinders: Die Vader nooi ons uit na die fees van genade in sy huis.

Oorsig: Die Here Jesus het drie gelykenisse vertel omdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes gemor het omdat tollenaars en sondaars  (1) ’n gewoonte gehad het om na Christus te kom en (2) na Hom te luister en (3) Hy hulle ontvang en (4) saam met hulle geëet het (v.1-3). Die Here Jesus het toe die drie gelykenisse vertel om iets uit te beeld van God se vreugde oor en verbintenis tot die redding van verlore mense. Ons lees eers van honderd skape, dan van tien pennings en dan van twee seuns. 

2022/03/23

​Oom Ches oor dogma wat vrymaak

“In werklikheid is daar net twee soorte mense; diegene wat dogma aanvaar en dit weet, en diegene wat dogma aanvaar en dit nie weet nie. – GK Chesterton

Ons het die vorige keer by oom Ches geleer dat daar romanse in  die algemene en ontwyfelbare Christelike geloof is. In hierdie aflewering gaan ons net na 'n eerste lokprent oor oom Ches se voorwaardes vir romantiek kyk. Die eerste saak is so voor die hand liggend dat ons dit maklik kan mis. Dit is dat nie net die Credo nie, maar elke siening en elke filosofie ook op dogma van een of ander aard gebou is. Mense sê maklik dat hulle nou vry is van die dogma van die Kerk, maar oom Ches het nie hiervoor geval nie.

“In werklikheid is daar net twee soorte mense,” sê oom Ches: “diegene wat dogma aanvaar en dit weet, en diegene wat dogma aanvaar en dit nie weet nie.”[i] Op ’n ander plek sê hy in dieselfde trant: “Die spesiale kenmerk van die moderne wêreld is nie dat dit skepties is nie, maar dat dit dogmaties is sonder om dit te weet...Hulle vryheid bestaan ​​daarin om eers vrylik ’n geloofsbelydenis aan te neem, en dan vrylik te vergeet dat hulle dit aanneem. Kortom, hulle het altyd 'n onbewuste dogma; en 'n onbewuste dogma is die definisie van 'n vooroordeel... hulle het nog altyd die einste feit of fantasie vergeet waarvan hul hele teorie afhang.”[ii]

Wanneer ’n mens oom Ches se hoofstuk 8 in sy boek Orthodoxy oor die romanse van die geloof lees, is dit duidelik dat hy oortuig is dat die dogmas van moderne filosofieë ware vryheid op die langtermyn aan bande lê. Oom Ches verhang die bordjies en toon aan in watter onuitgespreekte dogma die twyfel dikwels groei. Hy wys byvoorbeeld daarop dat iemand wat twyfel aan die bestaan aan God, se twyfel maarnet in ’n ander dogma gegrond is wat hom nie toelaat om te glo nie: “Die twyfel van die agnostikus was slegs die dogmas van die monis.”  

Iemand soos die bekende Jordan Peterson illustreer hierdie geheime grond in ons eie tyd ook betekenisvol wanneer hy die DIG-dogmas se bedekte fascisme ontbloot (Die akroniem, DIG, staan vir diversiteit, inklusiwiteit en gelykheid en word in Engels deur Peterson en ander teenstanders daarvan afgekort as DIE). En omdat die nuwe dogmas nie werklik tot vryheid lei nie, kan dit daarom ook nie ware romantiek aanmoedig nie. Die eerste voorwaarde wat oom Ches dus aandui, is dat jy ’n dogma benodig wat ware romantiek kan laat gedy, ook op die langtermyn. Oom Ches stel dit op teenoor mode-sienings met versteekte dogmas wat tot in ons dag gewild is, maar reeds in sy tyd aanspraak gemaak het om ware vryheid te bring. Hy gaan onder meer in op monisme en panteïsme, waarby ons nie nou in diepte gaan stilstaan nie., maar wat baie nou aansluiting vind in hedendaagse New-Age benaderings. Chesterton het toe alreeds aangetoon dat dit juis die mode-sieninge is wat ware vryheid en romantiek inperk. Dit het oom Ches egter ook uitgebring by die identifisering van die ruimte vir egte romantiek.  

Oom Ches voer aan dat die hele verskynsel van die roman juis aangevuur is deur die vrymakende dogmas van die Christelike geloof. Want, sê oom Ches opgesom in eie taal, hier word nog geglo dat daar 'n wonderlike werklikheid met ’n wonderlike verhaal van die lewende God buite onsself is. Dit gaan oor Hom wat self in ons geskiedenis verlossend ingekom het. Dit veroorsaak glinsterende oë by die heiliges, al is die liggaam ook uitgeteer, omdat daar ’n daadwerklike wegkyk van die self is om die verlossing buite jouself in God en sy dade en woorde te vind, saam met soveel ander mense. Die ander mense is ook interessante mense wat glad nie soos jyself is nie. En bo alles kan jy in verwondering wees oor die God wat nie net heel anders as jy is nie, maar die Gans Andere wat ons tog deur sy Seun en sy Gees in sy gemeenskap van liefde intrek.

Oom Ches is van mening dat dit juis die dogmas van die Christelike geloof is wat ware vryheid en romantiek bring. Om die waarheid te se, hy is van mening dat dit juis die robuuste handhawing van hierdie dogmas is wat al die kleur veroorsaak. Net in sy vorige hoofstuk, voordat oom Ches voluit ingaan op die romanse van die geloof, het hy reeds hierop  begin sinspeel. Hy wys daarop egte romanse saamhang met keuses waarin ewige konsekwensies opgesluit lê. Dink maar in ons eie tyd net weer aan daardie bekende uitspraak van generaal Maximus aan die begin van die film, Gladiator: “Wat ons in lewe doen, eggo in die ewigheid.” Werklike drama en werklike romanse kan nie daarsonder nie. Mense wat die werklikheid van die verbond hoog ag, behoort Oom Ches toe te kan gee as hy dit so verduidelik:

“En die gevare, belonings, strawwe en vervullings van 'n avontuur moet werklik wees, of die avontuur is net 'n verskuiwende en hartelose nagmerrie ... As ek uitdaag, moet ek gedwing word om te veg, of daar is geen poësie in uitdaag nie. As ek belowe om getrou te wees, moet ek vervloek word as ek ontrou is, of daar is geen lus in die belofte nie...Daarom moet selfs die wildste romanse se resultate eg wees; resultate moet onherroeplik wees. Die Christelike huwelik is die groot voorbeeld van 'n werklike en onherroeplike resultaat; en daarom is dit die hoofonderwerp en middelpunt van al ons romantiese skryfwerk.”

Die romanse bly dus op spoor deur definitiewe keuses en definitiewe dogmas. Dit beteken dat ons werklik met nuwe oë na die woord dogma sal moet kyk. Enersyds sal ons die onbewuste dogmas van die tydsgees duideliker voor oë moet kry. Mense soos genoemde Jordan Peterson help ons vandag baie hiermee. Die DIG-dogmas word aan die meeste universiteite in ons land as evangelie aangebied. Ons sal ’n duideliker oog moet ontwikkel oor die dwang en nuutspraak soos wat Orwell dit aangedui het, wat daardeur aan ons opgedring word. Ook die nuwe stel 10 gebooie aan die hand van die DIG-dogmas behoort uitgeken te word as verplasing van die 10 gebooie van God. En ons sal ook die bekoorlike drama van die kerk se dogma moet herontdek. Die kollega en tydgenoot van C.S. Lewis, Dorothy Sayers, wat self diep teue gedrink het by oom Ches, het by geleentheid die volgende bekende woorde oor dogma gesê:    

"Ons word voortdurend verseker dat die kerke leeg is omdat predikers te veel op dogma aandring - vervelige dogma soos mense dit noem. Die feit is presies die teenoorgestelde. Dit is die verwaarlosing van dogma wat tot verveling lei. Die Christelike geloof is die opwindendste drama wat ooit die verbeelding van die mens verbyster het - en die dogma is die drama."[iii]

Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dogma sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die fassinerende en dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van reformatoriese teoloë soos Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie herontdekking van die drama in dogma van Sayers bekend geraak. Die drama-beeld het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. So gebruik Horton byvoorbeeld 'n treffende struktuur van vier D's om die groot temas van sy sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie. Goeie dogma trek altyd hierdie ander D’s saam. Oom Ches herinner ons dat dogma onvermydelik is. En hy het moeite gedoen om in sy tyd reeds aan te toon dat die dogma van Christene vol avontuur is. Daarom is ware romanse ook nie ver van Christene af nie. Dit is in hulle mond en hulle hart om dit te glo, te bely en te leef.


[i] G.K. Chesterton in Fancies Versus Fads.

[ii] G.K. Chesterton, “The Debate on Spiritualism (March 15, 1919),” The Collected Works of G.K. Chesterton, Vol. XXXI: The Illustrated News, 1917-1919, Ed. Lawrence J. Clipper (San Francisco: Ignatius Press, 1989), 31: 441.

[iii] Sayers, D. The Greatest Drama ever Staged, in: Letters to a Diminished Church.


[

Oom Ches oor romantiek

Het jy al ooit 'n klein seuntjie hoor kla dat hy by 'n treinstasie moet aanhang en vir 'n trein moet wag? Nee; want om binne 'n spoorwegstasie te wees is vir hom om binne 'n spelonk van wonders en 'n paleis van digterlike genot te wees. Want vir hom is die rooi lig en die groen lig op die seinbord soos 'n nuwe son en 'n nuwe maan. - GK Chesterton

Oom Ches, soos ons hom in hierdie reeks noem, het die vermoë om die mor in jou hart tot bedaring te bring. Dit is geen geringe  saak nie, want selfs verloste Israeliete kan nog steeds in die woestyn agterbly (vgl. 1 Kor. 10). En oom Ches help verrassend baie om die beloofde land sommer in jou eie land, jou eie huis en op jou eie werf te vind. In die bekende artikel van hom waarna ons die vorige keer gekyk het, gaan ons hierdie keer by ’n spesifieke element van oom Ches se oop geheim aanhaak. Dit is sy oog vir romantiek, selfs in ongemaklike situasies:

“Maar eintlik is hierdie romantiese siening van sulke ongerieflikhede net so prakties soos enige ander praktyk. Die ware optimis wat in sulke dinge 'n geleentheid vir genot sien, is net so logies en baie meer sinvol as die gewone "verontwaardigde belastingbetaler" wat 'n geleentheid vir grimmigheid sien.”[i]


Oom Ches het sterk daarop aangedring dat daar op die langtermyn niks so prakties is soos ’n goeie filosofie en ’n romantieke verbeelding nie. Oor die belangrikheid van ons filosofie het hy dit alreeds geëien by loseerders, maar ook in oorlog:

“Ons dink dat dit vir 'n eienaar wat 'n loseerder oorweeg, belangrik is om sy inkomste te ken, maar dit is nog belangriker om sy filosofie te ken. Ons dink dat dit vir 'n generaal wat op die punt staan ​​om 'n vyand te beveg, belangrik is om die vyand se getalle te ken, maar dit is nog belangriker om die vyand se filosofie te ken.”[ii]

En hiermee, dames en here, stel ek u opnuut voor aan om Ches. U het nie gedink dat oom Ches kan praat oor Rusland en die Oekraïne nie. Maar pas besef u dat hy iets geweldig daaroor en sommer ook jou toekomstige huurder gesê het. Terug na ons punt toe: 

2022/03/22

Oom Ches oor ongerief en dergelike avonture

In die vorige aflewering is die bekende G.K. Chesterton, Oom Ches soos ons hom maar in die volksmond kan noem, aan die orde gestel. Hy verteenwoordig die heerlike alternatief op die visie van suspisie wat soveel ongeloof by ons in stand hou. In hierdie aflewering gaan ons, soos voorgeneem, fokus op ’n bekende artikel van hom, On running after one’s hat.[i] Hierdie ryk en humorgeurende artikel illustreer op treffende wyse oom Ches se gawe om die wonder in alles raak te sien. Ons weet in teorie dat ons almal veronderstel is om die lewe in groter mate as avontuur te sien. Maar ons het ook iemand nodig wat aan ons die nodige middele gee om ons te help om so te wees. Wel, in oom Ches het ons iemand wat ons hiermee kan help. 



Genadetyd is nog hier

Lees: Luk. 13:1-9

Gedagte vir kinders: Wie die Here se roepstem hoor, moet duidelik antwoord en vrugte dra.

Oorsig: Die Here Jesus was met sy apostels op pad na Jerusalem om die groot versoening tussen God en mense deur sy kruis heen te bewerk. Op pad daarheen het Hy oor baie dinge van God se koninkryk gepraat. Hy het ook wonders gedoen en vrae wat opgekom het hanteer. Een so ’n geval het plaasgevind toe mense vir hom berig gebring het van die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, wat in daardie tyd daar aangestel is. Hy het deur sy soldate sekere Galileërs in die tempel doodgemaak terwyl hulle offers gebring het. So het die bloed van die mense gemeng geraak met die offers van die diere (v.1). Daarmee het hulle deur geweld duidelik maak wat met enigeen gebeur wat die Romeinse mag probeer teengaan.  

Die Here Jesus het hierop geantwoord deur vir die mense te vra of hulle dink dat hierdie Galileërs met wie dit gebeur het, groter sondaars was al die Galileërs uit die Noorde van die land omdat hulle so moes omkom (v.2). Hy het self geantwoord dat die antwoord nee is, maar hulle moes tog die regte boodskap hieruit kry.  Hulle moes weet dat almal wat hulle nie bekeer nie, net so sal omkom (v.3). Die Here het hierna ’n verdere voorbeeld bygevoeg wat ook met ander mense as die Galileërs gebeur het. Daar was 18 mense op wie die toring van Siloam in daardie tyd geval en hulle gedood het. Hy het gevra of ook daardie mense meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon (v.4). Weer eens was sy antwoord nee. Ook hier was boodskap dieselfde. As mense hulle hul nie bekeer nie, sou hulle almal net so omkom. Die tragiese gebeure was dus wel ’n vingerwysing na die tragiese einde van die tweede dood na hierdie dood (vgl. Op. 22:11-15) as hulle hul nie tot die lewende God bekeer nie (v.5-6).

Hierna het die Here Jesus ’n gelykenis vertel. Daar was ’n man wat ’n vyeboom in sy wingerd gehad het. Dit het waarskynlik daar gestaan omdat die grond so vrugbaar daar was. Die man het daarom gekom en vrugte daaraan gesoek, maar niks gekry nie (v.6). Toe het hy vir die tuinier gesê dat dit nou al drie jaar is wat hy kom om vrugte daaraan te soek en niks kry nie. Die tuinier moes dit daarom uitkap omdat dit net die grond onvrugbaar maak. Die tuinier het egter gepleit dat hy dit nog een jaar moes laat staan totdat dit hy weer gespit en mis gegooi het. As dit dra dan vrug dra, goed, maar indien nie, kon dit die volgende jaar uitgekap word. Die vyeboom staan vir Jerusalem en vir elkeen tot vandag toe wat nie reageer op die boodskap van Jesus Christus en die bewys daarvan lewer deur vrug te dra wat by die bekering pas nie.

Vir elkeen wat wil

Lees: Luk. 13:18-35

Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep elkeen persoonlik om op sy roepstem te antwoord.     

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem waar Hy deur sy sterwe en opstanding sou seker maak dat die koninkryk van God in mense se lewens ’n werklikheid word. Om iets hiervan te verduidelik, het Hy onder meer die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg vertel (Luk. 13:18-21; vgl. Mt.13:31-33). Hierdie gelykenisse gaan daaroor dat die skynbare klein begin van God se koninkryk uitbrei tot iets baie groot. By die mosterdsaad gaan dit spesifiek oor hoe groot en wyd dit uitbrei en by die suurdeeg hoe diep dit inwerk in alles.      

In daardie tyd het iemand vir Christus ook gevra of die wat gered word, min is (v.22-23). Die Here Jesus het nie direk op hierdie vraag geantwoord nie, waarskynlik omdat ons so maklik daaroor kan praat asof dit net ’n syfer is. Hy het eerder geantwoord dat hulle elkeen self hard moes stry om in te gaan (v.24). Dit beteken nie dat hulle moes werk vir hulle verlossing nie, maar wel om moeite maak om God se weg van verlossing te waardeer. Hulle moes dit doen op ’n wyse dat hulle nie bloot weet van Christus nie, maar so dat Hy, die eienaar van die huis, hulle sou ken as deel van sy eregaste (v.25). Die Here Jesus verduidelik dan dat dit nie genoeg was dat hulle selfs in sy teenwoordigheid geëet en gedrink het nie. Dit gaan daaroor of Hy hulle ken omdat Hy in ’n egte verhouding met hulle is. Anders is hulle, selfs naby aan Hom, steeds werkers van ongeregtigheid (v.27). Die smart sal vir sulke mense baie wees wanneer hulle hul bekende voorvaders en profete in die koninkryk sien, maar self uitgedryf buite toe. Meer nog, allerhande mense sal uit alle oorde van die aarde kom en wel aansit in die koninkryk. Maar hulle moes weet dat die gangbare verwagtinge omgekeer sal word (v.28-30.)

Die Fariseërs het toe na Jesus gekom en Hom gewaarsku om daar te vertrek omdat Herodus Antipas Hom wou doodmaak (v.31). Die Here Jesus het egter geantwoord dat Hy sy werk van duiwels uitdryf en genesing sou klaarmaak en dat Hy wel sou vertrek na Jerusalem om daar te sterf, soos dit met baie profete die geval was (v.32-33). Hy het deur die verwysing na drie dae ook reeds gesinspeel op sy opstanding uit die dood. Hierna het Hy getreur oor Jerusalem en twee keer die naam uitgeroep. Hy wou Jerusalem met sorg bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens, maar hulle wou nie (v.34; vgl. Dt. 32:11; Rut 2:12; Jes. 31:5). Die gevolg hiervan sou wees dat die tempel verwoes sou word. 

2022/03/03

Oom Ches vir ons tyd

Maroela Media het hierdie stuk goedgunstig geplaas. Dalk kan dit 'n reeks word:

Sommige studente begin al meewarig glimlag as ek oom Ches vir die soveelste keer aanhaal. Ek praat nou van G.K. Chesterton, veelsydige Britse Joernalis (1874-1936). “Maar hy is dan Ingels”, hoor ek iemand sê, “en hy was Rooms-Katoliek”, voeg iemand anders ingelig by. My eerste antwoord is eenvoudig dat ons Heer se genade groter is as wat ons dink. En my verdere antwoord is dalk oorbekend: God het daarvoor gesorg dat mense hom nie verafgod nie, en hom daarom maar Engelsman en Rooms Katoliek gemaak. Maar hier is my troefkaart in Afrikaner-land. Chesterton was pro-Boer tydens die Anglo-Boereoorlog. 


Hy was die tipe man wat Boere nie sal omgee om oom Ches te noem nie, want sy hart was op die regte plek. En oom Ches had ’n baie besondere gawe: Hy kon en kan vistas vir jou oopbreek wat jy eenvoudig nie sien kom het nie. En hierdie gawe is so belangrik vir elkeen van ons wat hartlik stry om minder soos murmurerende Israeliete en meer soos positiewe Kalebs te leef. Dit is ook uiters belangrik vir ’n geslag wat blykbaar dink dat die huidige opvolge van 50 skakerings van grys na die donkerder en dierliker kant toe, die enigste fassinering is wat daar is, al roep die donker ook al hoe dieper in. 

Versoeking wat weerstaan is

Lees: Luk. 4:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus is ons Verlosser, want Hy het die satan se versoekings weerstaan.  

Oorsig: Die Here Jesus se amptelike bediening het begin toe Hy in die Jordaan gedoop is (Lk. 3:21-22). Daar het die Gees op Hom neergedaal en die stem uit die hemel bevestig dat Hy die geliefde Seun van God is. Net hierna hoor ons uit sy geslagsregister ook dat Hy seun van Adam is wat seun van God was (Lk 3:23,38). Die vraag is nou wat hierdie tweede Adam as Seun van God gaan doen? Ons lees dat Hy vol van die Gees in die woestyn gelei is (4:1). Dit herinner ons aan Israel wat veertig jaar in die woestyn was. Jesus Christus was veertig dae daar waarin hy niks geëet het nie en deur die duiwel versoek is (v.2). Beraders wys daarop dat jy baie meer weerloos is wanneer die akroniem HALT in jou lewe waar is (Hungry, Angry, Lonely, or Tired).

Na veertig dae het Jesus begin honger word, en ook hier het die satan sy kans gesien. Hy het gesê dat as Jesus die Seun van God is (soos by sy doop uit die hemel gesê is), Hy moes sê dat die klip ’n brood word (v.3). Die Israeliete het deur honger in die woestyn hul verhouding met God verbreek, maar die Here Jesus het nie en aangehaal uit Dt.8:3. Daar staan dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord van God (v.4). God se wil bring lewe voor enigiets anders. Die duiwel bring hom toe op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd (v.5). Hy sê toe dat aan Jesus dat hy aan Hom al hierdie mag en heerlikheid sal gee (as die owerste van hierdie wêreld – Jn. 12:31) as Jesus hom aanbid (v.6-7). Die Here het hierdie keer die satan weerstaan deur te sê dat hy moet weggaan en uit Dt. 6:13 aangehaal. Daar staan dat jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien (v.8).             

Toe bring die satan Jesus na Jerusalem en stel hom op die dak van die tempel. Hy het toe gesê dat Jesus Homself moes neerwerp van daar af. Die satan het op Ps. 91:11-12 gewys waar daar staan dat God sy engele sal beveel om jou te bewaar en dat hulle jou op die hande sal dra sodat jy nie miskien jou voet teen ’n klip stamp nie (v.9-11). Die Here Jesus het hom egter gewys op ander woorde in die Skrif wat ook in ag geneem moet word. Daardeur het die Here ons geleer dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk en moeilike gedeeltes in die lig van duideliker gedeeltes moet verstaan. Ons moet dus alle gedeeltes in die Bybel met mekaar in verband bring en in Dt. 6:16 staan ook dat jy die Here jou God nie moet versoek nie (v.12). Toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Jesus gewyk (v.13). En so het die Here Jesus oorwinnend, in die krag van die Gees na Galilea teruggekeer (v.14).           

Besprekingsvraag: Hoe stry ons vandag teen die basiese versoekinge wat ons hier sien?

Insig: Die Bybel vertel ons van bekende beproewings en toetse. Dink aan Josef en Abraham en Job wat sterker anderkant uitgekom het. Daar is ook toetse wat gedop is, soos Israel in die woestyn en Saul as koning. Niemand van ons het nog altyd elke beproewing deurstaan nie, hetsy in woorde, dade, gedagtes, gesindheid of versuim. Die media herinner ons daagliks aan toetse wat gedop word, en daarmee aan die gevallenheid van die mens. In Adam en Eva het ons almal die doel gemis en mis dit steeds dikwels. Ons behoort ten regte baie bewus te wees van eie gevallenheid. Daarom is die wet as spieël en tugmeester belangrik. Die is juis so dat ons Jesus Christus sien skitter in die woestyn. Hy het teenoorgestelde toestande as Adam in die tuin, maar bly gelowig en lojaal. Israel murmureer in die woestyn, soos ons, en sondig. Maar Jesus Christus bly optree in die krag van die Gees en tree oorwinnend anderkant uit.

Aanskou sy heerlikheid

Lees: Lk. 9:28-36

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se heerlikheid sal eendag vir almal duidelik wees.  

Oorsig: Net voor hierdie gedeelte kom die dissipels by die oomblik van waarheid waar hulle moet sê wie hulle dink Jesus is. Petrus antwoord dan dat Jesus die Messias van God is (v.20). Hierna wys die Here Jesus hulle daarop dat Hy baie moet ly en verwerp en doodgemaak word en dat Hy op die derde dag sal opstaan (v.22). Hy wys hulle daarop dat elkeen wat sy dissipel wil wees, ook bereid moet wees om hulself te verloën en selfs elke dag kruis toe te gaan (v.23). Die belofte is egter dat die heerlikheid op pad is en dat sommige van hulle reeds iets daarvan sou sien (v.27). Iets hiervan sou sommer reeds agt dae daarna plaasvind (v.28).

Die Here Jesus het toe die binnekring van sy dissipels, Petrus en Johannes en Jakobus, saamgeneem en op ’n berg (Hermon, of bes moontlik Tabor) geklim om te bid. Later sou Johannes en Petrus terugverwys na ook  hierdie gebeure. (Joh. 1:14; 2 Pt. 1:16-18). Die dissipels was deur slaap oorweldig, maar toe hulle wakker word, sien hulle die Here Jesus in heerlikheid en twee manne wat by Hom staan (v.32). Wat gebeur het, was dat terwyl die Here Jesus gebid het, sy voorkoms anders geword het en sy klere skitterwit. Volgens Mattheus het sy gesig geblink soos die son (Mt. 17:2). Die twee manne was Moses en Elia. Hulle verskyning bevestig ook vir ons dat daar lewe na die dood is. Hulle het in heerlikheid daar verskyn en spesifiek met die Here Jesus gepraat oor sy uitgang (letterlik: eksodus) in Jerusalem (v.31). Daardeur het hulle hulle verwys na sy dood wat ’n bevryding vir God se kinders sou bring. Dit sou soos ’n nuwe eksodus wees, maar hierdie keer uit die slawerny van die sonde en die dood.