Wys tans plasings met die etiket Jesaja. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesaja. Wys alle plasings

2025/10/06

Terwyl Hy nog te vinde is

Lees: Jes. 55:6-13 

Gedagte vir kinders: Die tyd om terug te draai na die Here se pad van oorvloed is vandag.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging en oproep van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na almal om te kom na die oorvloed en dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

In vers 5 hoor ons dat hoe die nasies geroep sal word en hulle na die HERE getrek word en dat hulle selfs na Hom sal hardloop. Waarom? Ter wille van die HERE, omdat Hy Israel deur hierdie Messias verheerlik het (vgl. Jes. 52:13-Jes. 53:12). Maar dan kom weer die dringende oproep: Die HERE moet gesoek word terwyl Hy nog te vinde is en naby is (v. 6). Dit sal nie vir altyd so wees nie. Dit beteken konkreet dat (1) die goddelose sy weg sal verlaat en (2) die kwaadoener sy gedagtes. Dit beteken verder dat daar nie net van hierdie verkeerde dade en gedagte weggedraai word nie, maar ook dat (3) daar positief na die HERE omgedraai word. Dan sal barmhartigheid en menigvuldige vergifnis by Hom beleef word (v.7)  

Daar word vervolgens daarop gewys dat die HERE se gedagtes nie ons gedagtes is en sy weë nie ons s’n nie. Dit is soos die hemel wat hoër as die aarde is (v.8-9). Verder sal sy woord soos reën en sneeu wees uit die hemel wat die aarde deurvogtig en saad (produksie) en brood (voeding en versorging) gee. So sal God se Woord ook nie leeg terugkeer nie maar doen wat Hom behaag en voorspoedig wees in alles waartoe dit gestuur word (v.10-11).  Dan word die belofte gegee van ’n nuwe eksodus, ’n uittog van vreugde en vrede. Die natuur sal saam jubel. Berge en heuwels sal jubel en die bome van die veld hande klap. In die plek van ’n doringboom (simbool van die sondeval) sal ’n sipres (simbool van heerlikheid) opgaan. En net so vir die distel (simbool van die sondeval) sal ’n mirteboom (simbool van seën) opgaan. Dit sal die HERE se Naam verheerlik en ewige teken wees wat nie uitgeroei sal word nie (v. 12-13).  

Besprekingsvraag: Waarom word die mirteboom en die sipres as simbole gekies?

Insig: Jesaja 55 is gaan oor die uitnodiging na die groot oorvloed van God se banket. En tog, die verstommende is dat daar diegene wat dit nie hoog ag om na die Koning se feesmaal genooi te word nie (vgl. Luk. 14:18-20). Daarom moet ons naas die heerlike vrye uitnodiging in vers 1 ook die dringende oproep van vers 6 hoor: Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Daar breek iewers ’n tyd aan wat die deure toegemaak word. Laat dit insink. 

2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

2025/02/07

Die grootpad van verlossing

Lees: Jesaja 35:1-10

Gedagte vir kinders: God kan ons woestyne deur sy genade in ’n paradys verander.

Oorsig: In Jesaja 34 kondig die profeet Jesaja oordeel aan oor Edom en daarmee aan almal wat God verlaat het. In hoofstuk 35 kondig hy egter ’n heerlik verfrissende tyd aan vir Israel. Dit vertel van die herstel in koning Hiskia se tweede deel van sy regering, maar daarmee kyk dit ook ver anderkant die oordeel oor die Edomiete, na die koninkryk van God. So word die profesieë oor Edom en Israel, God se Woord aan ontroues en getroues vir alle tye. 

Ons kyk in hoofstuk 35 na die verfrissende beloftes. Die belofte word gemaak dat die woestyn en dor land bly sal wees. Dit sal juig en blom soos ’n tulp/roos (2020 vertaling; KJV). Ja dit sal lustig blom en juig met gejubel. Want die heerlikheid van die Libanon met hulle statige sederbome word nou aan die woestyn gegee. Soos Karmel en Saron bekend was vir die wonderlike prag van hul plantegroei, so sal die skoonheid en heerlikheid van ons God sigbaar word in die dorre plekke (v.1-2; vgl. Ps. 104:16; Hoogl. 2:1). Daarom kom daar ’n oproep om die verswaktes, die met slap hande en struikelende knieë, te versterk. Die wat vreesagtig/angstig is word opgeroep: Wees, sterk, wees nie bevrees nie. Die rede is dat hulle God kom met wraak en met vergelding van Homself af en wat hulle sal verlos (v.3-4).

Dit sal ook onder die mense sigbaar word. Blindes se oë sal geopen word en die ore van dowes sal hoor. Die verlamde sal nie net loop nie, maar spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal nie net praat nie, maar jubel. Ja, soos destyds na die uittog sal daar waters uitbreek in die woestyn en strome in die wildernis (v.5-6). Die grond wat gloei deur die versengende hitte van die son sal ’n waterplas word, en die dorsland sal fonteine van water wees. Daar waar die jakkalse rus in die dorre en onbewoonde plekke, sal daar gras en biesies wees - die tekens van baie water. Daar sal ook ’n grootpad wees, ’n tipe snelweg, wat die heilige weg genoem sal word. Geen onreine sal op daardie pad verbygaan nie. Dit sal wees vir diegene wat reg lewe en God se pad stap. Selfs die dwase sal nie meer dwaal nie (v.7-8). Daar sal ook geen leeu wees wat soos ’n roofdier optree nie. Ja, geen verskeurende dier sal daarop kom of aangetref word nie. Maar die verlostes sal wel daar loop. Die losgekooptes van die HERE sal teruggaan na Sion, die berg waarop die tempel gebou is. Hulle sal kom met gejubel en ewige vreugde sal op hulle hoof wees. Hulle sal vreugde en blydskap verkry, maar kommer en gesug sal wegvlug (v.9-10).  

Besprekingsvraag: Watter toepassings kan ons alles maak oor woestyntoestande wat omkeer?

Insig: In Jesaja 34 en 35 kry ons teenoorstaande sketse – die een van oordeel (hoofstuk 34) en die een van genade en verlossing (hoofstuk 35). Dit verteenwoordig toestande wat in die geskiedenis reeds voltrek word en eenmaal ten volle geteken sal staan. 

2024/04/06

Geen ander nie

Lees: HK 34; Fil. 2:9-10; Jes. 45:5, 23-25

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om niemand te aanbid nie, behalwe Hom alleen.

Oorsig: Ons het in Sondag 33 gehoor dat goeie werke gemeet word aan die wet van God. In Sondag 34 word ons gevra wat in die wet van God geskrywe staan. Die antwoord word dan gegee uit Ex. 20.  Die tien gebooie word hiervolgens ingedeel op die wyse waarop Gereformeerdes dit doen en nie op die wyse wat die Rooms Katolieke en Lutherane indeel nie (antw. 92). By Gereformeerdes is daar ’n verdere basiese verdeling in twee dele. Die eerste vier gebooie leer ons oor ons verhouding met die lewende God. Die laaste ses gebooie leer ons wat ons aan ons naaste verskuldig (let wel) is (antw. 93; vgl. Mat. 22:37-40).

En dan gaan die Heidelbergse Kategismus in hierdie Sondagsafdeling spesifiek in op die eerste gebod. Waaroor gaan dit in die eerste gebod en wat is alles ingesluit in dit wat God in die eerste gebod van ons vra/gebied? Die antwoord is dat dit gaan oor hoe kosbaar ons God se redding/saligheid ag. En as sy redding  dan vir my kosbaar is, dat ek dit nie in gevaar sal stel deur enige afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels sal (1) vermy en (2) ontvlug. Dit beteken verder positief gestel, dat ek die enige ware God, want daar is net een (vgl. 1 Kor. 8:6), alleen moet vertrou, in alle nederigheid en geduld, van Hom alleen alles wat goed is moet verwag, Hom met die hele hart sal liefhê, vrees en eer. Dit moet met so ’n gesindheid wees dat ek eerder van enige skepsel sal afsien en laat vaar, as dat ek op enige manier teen sy wil sal gaan (antw. 94).

Dit is duidelik dat dit in hierdie gebod oor ander gode gaan en daarom is dit belangrik om te verstaan wat afgodery presies is. Die Kategismus antwoord dan dat dit enigiets is wat jy het of versin (uitdink) waarop jy vertrou. Dit kan iets wees waarop jy vertrou in die plek van die lewende God wat Hom aan ons geopenbaar het in sy Woord. Dit kan egter ook meer verfynd voorkom. Dit gebeur wanneer jy nie hierdie afgod van jou in die plek van God stel nie, maar wel naas Hom stel sodat dit aan Hom gelykgestel word (antw. 95). Ons is makliker geneig om op hierdie verfynde manier te sondig. Ons wil darem nie met God wegdoen nie, maar ons bring iets anders in die verhouding wat ons hanteer asof dit op dieselfde vlak is as die lewende God. So beledig ons enersyds God deur Hom aan enigiets in die skepping gelyk te stel, en andersyds te maak asof enigiets met Hom vergelyk kan word.   

Besprekingsvraag: Hoe definieer die HK ’n afgod en hoe pas ons dit vandag toe?

Insig: Goeie werke in die Christelike lewe is nie net goed nie. Dit is ook edel en lieflik en loflik (vgl. Fil. 4:8), juis omdat dit in lyn met God se wet is. Vir die gelowige is God se wet nie swaar en die HK hanteer die wet onder die afdeling van dankbaarheid. So was dit reeds bedoel by Sinai. Israel het nie die wet ontvang sodat hulle bevry kon word nie, maar omdat hulle bevry is.

2023/08/02

Kom koop verniet

Lees: Jes. 55:1-5

Gedagte vir kinders: Kom eet en drink verniet by Jesus Christus se fees.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na die hele wêreld om dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

2023/04/06

Deurboor ter wille van ons

Lees: Jes. 52:13-53:12

Gedagte vir kinders: Jesus Christus het die straf vir ons sondes in ons plek gedra.

Oorsig: Jesaja 52-53 gaan oor die Kneg van die Here, Jesus Christus, wat sy lewe vir ons oorgegee het. Ons kan hierdie gedeelte indeel in vyf dele wat elkeen drie verse bevat. Die eerste gedeelte (52:13-15) en die laaste gedeelte (53:10-12) gaan oor hoe die Kneg van die Here wat so gely het, en tog ook so geweldig groot en hoog geword het. In die middel-dele hoor ons van sy geboorte tot sy dood - hoe Hy verwerp is (53:1-3), wat die diepste rede vir sy lyding was (53:4-6), en hoe dit uitgeloop het op sy onskuldige dood en begrafnis (53:7-9).

Jesaja begin met die verwondering (“Kyk”) oor hoe so ’n groot verhoging (hoog, verhewe, baie hoog) van die Kneg van die Here kan voortkom uit soveel lyding en kan lei tot so ’n groot erkenning daarvan. Ja, Hy laat die nasies opspring (in die Hiphil naamval, besprinkel Hy die nasies. Vgl. KJV en ook Ex. 29:21; Lev. 8:11; 14:7; 16:14-16), en selfs konings hou hulle mond toe (52:13-15). Maar dan hoor ons dat hierdie Kneg smarte ly en misverstaan word (53:1-3). Hy is die arm van die Here wat geopenbaar is (v.1) en voor God se aangesig is, maar ook so ’n gewone mens dat die mense Hom nie ag nie (v.2-3). Hy was die Een wat ons siekte en smarte gedra het, maar sy eie mense het Hom eerder beskou as deur God gestraf. En tog is Hy ter wille van ons oortredinge (uiterlike sonde) en ongeregtighede (innerlike sonde) deurboor en verbrysel. So het daar vir ons vrede en genesing gekom. Ons het gedwaal soos skape en ons eie pad geloop. Maar die Here het ons sonde op Hom laat neerkom (53:4-6).

Hierdie Kneg van die Here het vrywillig sy dood aanvaar (53:7-9). Hy is sonder teenstand mishandel, na die plek van teregstelling gelei,  en onregverdig tereg gestel. Sy begrafnis, wat gelyk het of dit saam met die goddelose sou wees, het uiteindelik by ’n ryke geëindig omdat hy in sy hart en dade onskuldig was. Ons hoor daarna dat hierdie Kneg van die Here tog oorwin (53:10-12). Hy word as die Een wat lewe voorgehou, al word dit nie reguit gesê nie. Hy sal ’n nageslag sien as gevolg van sy offer, en die dae verleng en sy hand bring voorspoed (v.10). Hy sien dit as gevolg van sy lyding waardeur Hy moes gaan en is tevrede. En deur sy kennis van wat nodig is vir verlossing, maak hy baie regverdig en dra hulle skuld (v.11). Daarom deel God Hom uit vir baie en Hy verdeel die buit met baie (v.12, letterlik vertaal). Waarom? Omdat Hy (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So red Hy tot die uiterste toe (vgl. Hebr. 7:25).

Besprekingsvraag: Is dit nie wreed dat ’n onskuldige vir skuldiges moet sterf nie?

Insig: Sommige is krities of skepties oor die gereformeerde waardering van Christus se versoening as plaasvervangende genoegdoening. 

2023/02/03

Twee soorte godsdiens

Lees: Jes. 58:1-14

Gedagte vir kinders: Daar is ’n groot verskil tussen ware en valse godsdiens.

Oorsig: Jesaja vertel dat die Here hom geroep het om hard, uit die keel uit (volle bors- NAB), te roep en niks terug te hou nie. Hy moes sy stem soos ’n basuin (ramshoring) verhef en dit behoorlik laat hoor. Hy moes aan God se volk hulle oortredings en sonde verkondig (v.1). Hulle was wel vol van godsdienstige dade. Hulle het skynbaar (1) die Here elke dag gesoek, (2) graag kennis van sy wil opgedoen, net soos (3) ’n nasie wat geregtigheid doen (4) en die reg van God nie verlaat het nie, en (5) wat vra na sy verordeninge. Ja, hulle het (6) graag genader tot God (v.2). En tog het hulle beleef dat die Here hulle nie raaksien nie, en dit terwyl hulle gevas het en bekommerd was. Die probleem was hulle motiewe en dade. Hulle het in hulle vas geleentheid gesoek om sake te doen, arbeiders vermoei, getwis en selfs met die vuiste geslaan. Hulle vas was nie bedoel om hulle stem in die hoogte te laat hoor nie (v.3-4).

2023/01/20

Heerskappy wat lig, vrede en vreugde bring

Lees: Jes. 8:23-9:1-6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus se heerskappy bring volmaakte vrede en geluk.

Oorsig: Die profeet Jesaja het God se oordeel in hoofstuk 8 aangekondig en gesê dat hulle vyand uit die Noorde sou inval om Israel en Juda in te neem. Maar nou verkondig Jesaja ook goeie nuus. Hy profeteer van ’n tyd waar dit nie langer donker sal wees soos toe God die stamme in die Noorde, Sebulon en Naftali, begin verneder het nie. Want God sou daardie dele eerste in ere herstel, onder meer die weg na die see wat ’n gewilde roete was vir die nasies, die deel wat tot oorkant die Jordaan gestrek het en wat ook die gebied van die heidene genoem is (8:23 - sommige vertaal dit met “Galilea van die heidene” soos bv. ook Mat. 4:15).

Jesaja profeteer dan verder dat daardie volk wat in duisternis geleef (gewandel ) het, ’n groot lig gesien het. Hy praat in die verlede tyd om te wys hoe vas en seker dit sal gebeur. Ja, hierdie volk wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn (v.1). Jesaja vertel dan dat God die nasie baie gemaak het en vertel vier keer, onder meer deur beelde van oestyd en oorlog-einde, van groot blydskap: (1) Mense se vreugde is groot gemaak; (2) hulle is vrolik voor God se aangesig, (3) soos iemand vrolik is in die oestyd, (4) soos iemand juig as die buit verdeel word as die oorlog verby is (v.2). Jesaja gebruik dan beelde van die bevryding uit die slawerny uit Egipte van hierdie nuwe bevryding: Die juk wat gedruk het, die stok op die rug, die roede van die drywer, is verbreek. Hy vergelyk dit ook met die bevryding wat die volk later beleef het toe God hulle hulle deur Gideon van die Midianiete bevry het (v.3). Hy wys ook daarop dat elke soldateskoen en uniform wat vol bloed is, in die vuur gegooi sal word (v.4).

En dan gee Jesaja die rede waarom dit sal gebeur: ’n Kind is gebore en deur God vir ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer en Hy sal genoem word met verskillende name wat vir ons ’n idee gee van sy Persoon en werk wat natuurlik net die Messias kan wees. 

2023/01/13

Verlossing vir Israel en die hele wêreld

Lees: Jes. 49:1-7

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is uitverkies om die ’n lig vir die hele wêreld te wees.

Oorsig: Die profeet Jesaja het aan die mense wat weggevoer is in ballingskap verkondig dat die Here hulle sal laat terugkeer uit Babel. En tog is die terugkeer net een kant van die saak. Want wat sou gebeur as hulle nie in hulle harte ook teruggekeer het na die Here nie? En dan vertel Jesaja in hoofstuk 49 van ’n gesprek tussen die HERE en Iemand wat hy sy Kneg noem wat die antwoord hierop sou gee. Hierdie Kneg maak groot uitsprake. Hy roep die verste gebiede, die eilande, en volke wat ver is, om te hoor en te luister. Hierdie Kneg sê dan dat die Here Hom geroep het en dat so belangrik is dat dit al kom van sy geboorte af (v.1).

Hierdie Kneg vertel verder dat Hy baie goed toegerus is vir sy taak. Die HERE het sy mond gemaak soos ’n swaard en Hom beskerm en Hom soos ’n skerp pyl gemaak en in sy pylkoker weggesteek (v.2). Hy getuig verder dat die HERE vir Hom gesê het dat Hy sy Kneg Israel is, in wie die Here Homself verheerlik (v.3). Daarmee word bedoel dat hierdie Kneg een met Israel sou wees en Israel sou verteenwoordig in dit wat Israel veronderstel was om te wees, en dat God sy Naam deur hierdie Kneg groot sou maak.     

Hierdie Kneg antwoord dan dat hoewel dit gelyk het of Hy Homself tevergeefs vermoei het en sy krag vir niks sinvol gebruik het nie en dat alles vrugteloos was, iets belangriker aan die gang was. Dit was dat sy reg nogtans by die HERE, en sy loon by sy God is (v.4). En dan wys Hy verder daarop dat die HERE wat Hom van sy moederskoot gevorm het om sy Kneg te wees en Jakob (die volk Israel) na Hom terug te bring, Hy wat geëer is in die oë van die HERE en wat in God sy sterkte gevind het, dat hierdie lewende God vir Hom gesê het: “Dit is te klein dat U my Kneg sou wees om  die stamme van Jakob ( die volk Israel) op te rig en die gespaardes in Israel terug te bring. Ek het jou gemaak het tot ’n lig van die nasies en om my heil en verlossing te wees tot aan die eindes van die aarde (met ander woorde, vir al die volke)” (v.6).

Hy vertel ook verder wat die HERE, die Verlosser van Israel, die Heilige God, as ’n belofte gegee het aan die Kneg wat so diep verag is deur die volk, en wat ’n dienaar van die heersers was. Konings en vorste sal opstaan en neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is. Want die Heilige van Israel het hierdie Kneg uitverkies om die lig en verlossing na die wêreld te bring (v.7).

 

Besprekingsvraag: Waarom kan net Jesus Christus die Kneg wees waarvan Jesaja hier praat?

Insig: Wie is die Kneg waarvan Jesaja hier praat? Vanaf die tyd van die hofdienaar van Ethiopië tot by moderne kritici van die Bybel weerklink die vraag: Jesaja self of iemand anders? (vgl. Hd. 9:34; vgl. Jes. 53. Israel word wel ook kneg in Jesaja genoem (vgl. Jes. 41:8; 44:21), maar dit is duidelik dat hierdie Kneg hier ook Israel moet terugbring na God toe (v.5-6). Vanaf Bybelse tye was daar reeds iets soos verteenwoordigers van ’n hele volk. Veral Konings en Hoëpriesters het so ’n rol vervul en reeds in Jesaja 7-9 verneem ons van so ’n koninklike figuur en ook in Jes. 42. In Jes. 53 verneem ons verder dat hierdie Kneg ons sonde op Hom sou neem. En in Jesus Christus wat beide koning en priester is (vgl. Hebr. 7-10) word hierdie profesie in sy volheid vervul. (vgl. Hd. 9:9:35-40). Dit laat ons besef dat ons eintlik hier inluister op 'n intertrintariese gesprek tussen die Vader en die Seun. Wat 'n voorreg! Moontlik het teoloë wat spekuleer oor die vredesraad (pactum salutis) van die Drie-enige God ook hierdie soort teksgedeeltes in die oog. En deur hierdie Skrifgedeelte besef ons weer eens: Jesus Christus kom doen wat Israel en ons moes doen, maar nie kon nie. Hy is die ware Jakob - die ware Israel - en die lig van die wêreld (Joh. 8:12).

Hy bring na nasies die reg

Lees: Jes. 42:1-9

Gedagte vir kinders: Jesus is die Kneg van die Here wat Homself vir ons oorgegee het.

Oorsig: In Jesaja 41 hoor ons twee keer dat die profeet Jesaja uitroep: “Kyk.” Hy beklemtoon daarmee dat afgode niks en niksseggend is (41:24;29). En dan lees ons aan die begin van die volgende hoofstuk God se oplossing vir daarvoor ’n sondige en gebreekte wêreld: “Daar is my Kneg...” Ons hoor dat God hierdie Kneg, (1) sy Uitverkorene noem en (2) dat sy siel in Hom ’n welbehae het en (3) dat Hy sy Gees op Hom gelê het en (4) dat Hy die reg na die nasies sal uitbring. (v.1).  Jesaja gaan dan voort om te beskrywe hoe hierdie Kneg dit sal doen.

Hierdie Kneg van die Here sal nie optree soos die wêreldheersers en tiranne wat skreeu of uitroep en hulle stem op die straat laat hoor nie. As iemand soos ’n geknakte riet is wat klaar nie sterk is nie, sal Hy dit nie breek nie, en as iemand soos ’n dowwe lamppit is wat op die punt is om uit te brand, sal hy dit nie uitblus nie (v.2-3). Hoe sal Hy dan optree? Hy sal met getrouheid die reg uitbring, m.a.w. God se wil bekend maak soos dit is (vgl. NAV). In terme van die beeld van die riet en die lamppit hoor ons verder dat Hyself nie dof sal brand of geknak word totdat Hy God se reg op aarde gebring het nie, m.a.w. Hy sal deurdruk tot Hy God wil gevestig het. En dit wat Hy doen sal so groot wees dat selfs die verste eindes van die aarde, die eilande soos hulle dit genoem het, dit kan verwag (v.4).

2022/12/17

Wanneer die Paradys terugkeer

Lees: Jes. 11:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus was vol van God se Gees en so het Hy ons verlos.  

Oorsig: Die profeet Jesaja het vertel van God se oordeel, maar Hy het die mense ook telkens gewys op die Messias wat sou kom. In Hoofstuk 11 profeteer hy dat ’n takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai en dat ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra (v.1). Isai was die pa van Koning Dawid (1 Sam. 16:1) en Jesaja profeteer dus in digterlike taal dat al lyk dit of die stomp afgekap is van die Konings wat uit Isai en Dawid gebore sou word, daar iewers in die toekoms ’n nederige nuwe begin sal wees. En op hierdie Persoon sou die Gees van die Here nie net kom nie, maar op Hom rus. Die Gees van die Here word hier soos ‘n kandelaar voorgestel uit wie ses kenmerke  voortkom. Hy word die Gees van wysheid en verstand genoem, wat te make het met die vermoë om te heers. Hy word ook genoem die Gees van raad en sterkte (die vermoë om uit te voer wat Hy beplan). Hy word ook genoem die Gees van kennis en van die vrees van die Here (geestelike vermoë  - v.2). Ons hoor verder dat hierdie Messias vreugde vind in (behae het/wakker is – letterlik dit kan ruik) die vrees van die Here (sy diens). Ons verneem ook dat Hy nie sal regspreek volgens wat mense kan sien of volgens hoorsê nie (v.3). Hy sal eerder reg aan die armes doen en die nederiges regverdig oordeel. En Hy sal deur sy mond en asem die goddelose doodmaak (v.4). Hy sal met sy geregtigheid so gereed soos ’n gordel om sy lendene en met getrouheid so gereed soos die gordel om die heupe wees (v.5). 

En dan begin Jesaja om te vertel van die herstel wat hierdie Messias sal bring. Die toestand sal weer soos in die tuin van Eden in die begin wees, want die wolf sal by die lammetjie wei en die luiperd gaan staan nie net nie, maar gaan lê by die bokkie. En die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee lê almal bymekaar. Hulle is so rustig dat ’n klein seuntjie hulle kan aanjaag (v.6). Die koei en die beerwyfie wei saam en hulle kleintjies lê bymekaar en ook die leeu eet nie meer vleis nie, maar strooi soos ’n os (v.7 - vgl. Gen. 1:30). En die baba (suigling) speel by die gat van ’n adder en steek sy hand uit na die woonplek van ’n giftige slang sonder om seer te kry (v.8). Niemand doen enige kwaad of slegte dinge op die Here se heilige berg nie, daar waar die Paradys eens was (vgl. Es. 28:13-14). En hierdie berg is nou eintlik die hele aarde wat vol is van die kennis van die Here soos wat die waters die seebodem volmaak (v.9). In daardie tyd sal die nasies vra na Hom wat die wortel (nie net die takkie) van Isai en Dawid is en Hy sal ’n vaandel (banier) wees vir die volke. Ja, die nasies sal na Hom vra en sy woonplek sal vol heerlikheid wees (v.10). 

2022/11/28

In die lig van die Here

Lees: Jes. 2:1-5

Gedagte vir kinders: Die Here roep ons om in sy Lig te lewe.

Oorsig: Die profeet Jesaja het opgetree in ’n tyd (rondom 700 v.C.) toe die noordelike stamme van Israel gevang, gedood en in ballingskap gegaan het. Ook in die Suide het baie mense in Juda en Jerusalem die Here verlaat. Jesaja het hulle gewaarsku dat God hulle sou straf, maar dat Hy ook weer goeie dinge sou doen aan die wat oorgebly het. Daarom het Jesaja by tye ook gewys waarop dit alles sou uitloop en wat die groter prentjie van alles is. Hier gee Jesaja vir ons so ’n prentjie. Jesaja praat oor wat aan die einde van die dae sal gebeur. Dit wys op die dae van die einde van die Ou Testament en die dae waarin die Messias sou kom.

Jesaja praat dan met hulle deur beelde wat vir hulle bekend was om iets te sê van wat in die toekoms sou gebeur. Berge word dikwels gesien as plekke waar mense die naaste aan die hemel is en God kan ontmoet. Maar Jesaja wys daarop dat Huis van die Here en die berg Sion waarop dit gebou was, al was dit nie die hoogste nie, sou uitstaan bo almal. Meer nog, die nasies wat vroeër gewoond was aan hulle eie plekke van afgod-aanbidding, sal letterlik stroom - toestroom (skynbaar opwaarts) - na die huis van die Here (v.1-2). Ook Miga (4:1-3) sou later hierdie woorde gebruik en Maleagi (1:11) sou ook reeds praat daarvan dat God se Naam groot sou wees onder die heidene. Hierdie beelde is vervul in die bediening van die Here Jesus en wys heen na die Kerk wat die stad op ’n berg geword het, oral waar gemeentes op aarde ontstaan het (vgl. Mat. 5:14-16; Handelinge). Want ná die Here Jesus se kruisoffer het die evangelie dan ook na die heidene begin uitgaan (vgl. Mat. 28:18-20). 

Jesaja profeteer dat nie net enkelinge nie, maar volke, baie volke, sal heengaan en mekaar aanmoedig om na daardie berg te gaan waar die huis van die God van Jakob is. Hulle doel was sodat hulle (1) die Here se paaie kan leer ken en dat hulle dit nie net sal ken nie, maar (2) daarin sal wandel. Want vandaar sou die Wet en die Woord van die Here uitgaan na al die volke toe (v.3). Die Here sal ook deur sy Woord oordeel tussen die nasies en regspreek. Die gevolg daarvan sal wees dat hulle nie meer teen mekaar oorlog sal voer nie. Daarom sal hulle van hulle swaarde eerder pikke maak om die grond te bewerk en van hulle spiese snoeimesse. Die nasies sal nie meer wapens soos swaarde teen mekaar lig en nie meer leer om oorlog te voer nie (v.4). En dan roep die profeet die volk op, die huis van Jakob, om te wandel in die lig van die Here (v.5). Sy lig gee verlossing en leiding (Num. 6:25; Ps. 27:1; Ps. 43:3; Ps. 119:105).

Besprekingsvraag: Wat is die verband tussen Gen. 12:1-5 en Jesaja 2:1-5?

Insig: Jesaja leef in ’n tyd waarin baie mense afvallig was. In die eerste deel hoor ons van dit wat God gaan doen, maar in die tweede deel hoor ons waarmee die mense besig was en wat ’n spieël voor hulle en ook ons ophang: 

2022/02/03

Mysterium tremendum et fascinans

Lees: Jes. 6         

Gedagte vir kinders: Wanneer ons besef wie die HERE is, weet ons dat net Hy ons kan red.  

Oorsig:  Die profeet Jesaja vertel hier van sy roeping as profeet. Dit het gebeur in die sterfjaar van koning Ussia, ’n koning wat vir 52 jaar in Jerusalem regeer het en toe dit oor die algemeen nog redelik goed gegaan het met die volk (2 Kon. 15:1-7; 2 Kr. 26). Koning Ussia het egter homself aangematig en wou sommer self die werk van die priesters doen in die tempel (2 Kr.26:16-19). God het hom toe gestraf en die koning het melaats geword. Boonop het die gerugte oor die magtige en wrede ryk van Assirië wat almal verower, ook al hoe meer geword.

In die jaar waarin koning Ussia gesterf het, sê Jesaja dat Hy die Here sien sit het op ’n hoë  en verhewe troon. Hy was so groot dat net sy some alreeds die hele tempel gevul het (v.1). Besondere engele wat serafs genoem word, was by Hom. Selfs hierdie sondelose wesens moes hulleself bedek in die teenwoordigheid van die heerlikheid en heiligheid van die lewende God (v.2). Hulle het ses vlerke gehad, maar met twee het hulle die aangesig bedek en met twee die voete. Met die orige tee het hulle gevlieg en mekaar toegeroep: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (v.3). Daardeur het hulle bevestig dat al die eienskappe van God saamgevat kan word met die woord, heilig en dat dit heerlikheid beteken vir die hele aarde. Hiermee saam het die drumpelposte gebewe van die geluid van die roepers en die huis van die Here het vol rook geword (v.4).

Jesaja kon onder hierdie groot besef van wie die Here is, maar net uitroep dat hy vervloek en verlore is. Die rede was dat hy besef het dat hyself onrein van lippe is en ook woon onder ’n volk wat onrein van lippe is (vgl. Mt.15:11; Mk. 7:21-22.). Hy het die Here in sy heerlikheid gesien en besef hoe vol sonde hy en sy volk is (v.5). En tog het een van die serafs toe ’n gloeiende kool van die altaar af geneem met ’n tang en Jesaja se mond daarmee aangeraak. Hy het daarna aan Jesaja bevestig dat sy sonde weg was deur die aanraking en sy sonde versoen (v.6-7). Toe het Jesaja gehoor dat die Here vra wie hulle sal stuur. Hierop het hy geantwoord dat hy gereed is om gestuur te word (v.8). Die opdrag wat Jesaja gekry het was egter nie maklik nie. Hy moes die boodskap bring, maar die mens sou nie luister nie en tog moes hy voortgaan (v.9-10). Hy moes daarmee voortgaan totdat die land verwoes is en die volk in ballingskap gegaan het (v.11-12). Maar uit die oorblyfsel van die klein oorblyfsel sou daar nuwe lewe kom, soos vanuit ’n afgekapte boomstomp (v.13).

Besprekingsvraag: Wat is die verskil tussen praat oor God en praat vóór God?  

Insig: ’n Mens kan praat oor God en dan kan jy ook jouself bevind vóór die aangesig van God.  Vóór Hom besef ons werklik wie ons is. 

2021/11/03

Terugskouing en vooruitskouing op C-19

Vanoggend weer afgekom op die volgende boodskap wat op 9 April 2020 aan ons dosente en studente uitgestuur is. Die Corona-pandemie/histerie was toe nog net onlangs in swang. Belangriker, ons was oppad om weer Paasfees te vier. 

Geagte BA en NGOS dosente en studente 

Hier waar ons byna op die vooraand van Goeie Vrydag is, staan ons stil by Jes. 26:20: "Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan."

 Jesaja verwys na God se oordeel in sy tyd wat die inwoners van die aarde geregtigheid sou leer. Dit klink baie toepaslik, maar om dit hier, net voor Goeie Vrydag en in die virus-tyd, vir ons toe te pas in die lig van die hele Bybel, moet ons op twee sake let: 1. Skuiling in tye van God se oordeel en 2. Skuiling by die plek wat God aangedui het.

1.       Skuiling in tye van God se oordeel

Die patroon van oordeel en skuiling vir gelowiges is duidelik in die Bybel. God bring sy oordeel, en Noag gaan skuil in die Ark. God bring sy oordeel oor Egipte, en die Israeliete gaan skuil in die huise met bloedbestrykte kosyne. God bring oordeel oor Jerigo, en Ragab en haar huis skuil in die huis met die rooi tou wat sterk herinner aan die vroeëre huise met rooi deurposte. Ook in Jesaja se tyd lees ons daarvan. Dit herinner sterk aan die verlede, maar wys ook heen na die toekoms, want die volk word hier spesifiek opgeroep word om in hul binnekamers te gaan. Die Here Jesus verwys waarskynlik ook hierna wanneer Hy in die bergpredikasie in Mt. 6:6 ons oproep om na die binnekamer te gaan vir gebed. En dit sluit natuurlik ook aan by die Psalms waar die Here soveel keer aangeroep word as Rots, Skuilplek of Bergvesting. En soos die bekende Spreuke 18:10 dit stel: “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Vriende, laat ons dan in hierdie tyd onthou dat daar in tye van oordeel altyd ’n besondere skuilplek in die Naam van die Here is, in besonder daar in ons binnekamers waar ons Hom aanroep. As daar een ding is waarvoor ons die inperkingstyd kan gebruik, is dit hiervoor.

2.       Skuiling by die plek wat God aangedui het.

Die gedeelte in Jesaja is ook duidelik ’n terugverwysing en die besondere toepassing vir ons, veral hier op die vooraand van Goeie Vrydag, is die skuiling wat die Israeliete gehad het tydens die Paasfees met die dood van die eersgeborenes in Egipte. Die HERE sou met sy oordeel by huise verbygaan, net as hy die bloed van die paaslam aan die deurposte sien (Ex.12:13,22-23). Niks anders sou die oordeel weghou nie – nie die sogenaamde karakter van die mense wat binne was, of die sterkte van die huis, of die sogenaamde geneesmiddels wat mense gebruik het nie, want dit alles was steeds met sonde bevlek.