2022/10/12

Om met moed te bid

Lees: Luk. 18:1-8

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus leer ons om met geloof en hoop tot God te bid.

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar Hy vir ons sondes sou sterf, het die Here Jesus die mense deur gelykenisse oor die Koninkryk van God geleer. By een geleentheid het Hy spesifiek aan die mense ’n gelykenis vertel met die doel dat hulle moes besef dat hulle aanhoudend moet bid en nie moedeloos moet word en God se antwoord nie dadelik kom nie (v.1). Hy het hulle vertel van ’n regter in ’n stad. Hy was nie ’n goeie regter nie en het God nie gevrees nie. Dit beteken dat hy goddeloos was. Hy het ook vir geen mens respek gehad nie (v.2).

En toe het daar ’n interessante ding gebeur tussen hierdie goddelose regter en ’n sekere weduwee in daardie stad. Die weduwees (vrouens wie se mans oorlede is) het in daardie dae baie min ondersteuning en geld gehad en was maklik die prooi van kansvatters. So het dit gebeur dat iemand haar onregverdig behandel het en niemand het haar gehelp nie. Sy het toe oor en oor aan die goddelose regter gevra dat hy as regter sy werk sal doen en seker maak dat die een wat verkeerd teenoor haar opgetree het (die teeparty), tot orde geroep word. Dit het ook beteken dat dinge reggestel moes word wat verkeerd gedoen is (v.3). Hierdie regter wou vir ’n hele tyd lank nie hoor nie, maar sy het nie opgehou om te hom te vra nie. Na ’n ruk het Hy egter vir homself gesê: Al is dit ook so dat ek geen eerbied het vir God nie en my ook aan geen mens steur nie, sal ek tog, omdat hierdie weduwee my nou moeite gee, aan haar reg doen. Anders kom sy dalk en slaan my uiteindelik in die gesig (v.4-5).

En toe het die Here Jesus vir hulle ’n toepassing gemaak. Hy het gesê dat hulle moes hoor wat die onregverdige regter sê. As selfs ’n onregverdige regter reg sal optree as iemand aanhoudend vra, dan moes hulle mos besef dat God, wat regverdig is, soveel te meer dit sal doen. God sal reg doen aan sy mense wat uitverkies is om sy Naam te dra (uitverkorenes) en wat dag en nag tot Hom roep, al is dit ook so dat God eers wag met die antwoord (v.6-7). Die Here Jesus het hulle toe verseker dat God gou sal reg doen aan hulle wat onreg beleef. En hierop het Hy ’n vraag gevra wat te doen gehad het met sy woorde pas vantevore toe Hy gepraat het oor sy wederkoms (17:26-37). Hy het gevra of Hy, wanneer Hy weer sou kom, wel die geloof op aarde sou vind. Met ander woorde, sal mense nog aanhoudend tot God bid en uitkyk vir sy antwoorde? Sou hulle veral nog wagtend wees op Hom wat alles finaal sou regstel? Die Here se vraag is bedoel om ons te roep tot ’n antwoord van geloof en gebed.

Besprekingsvraag: Hoe kan ons iemand bemoedig wat moedeloos is en nie meer wil bid nie?

Lukas dui die doel van die gelykenis by voorbaat aan: Dat ons gedurig sal bid en nie moedeloos word nie. Gebed is ’n teken dat ons God eer, moed het en hoop op Hom. So eer ons Hom. Dit is nie opsioneel nie. Dit is ons asemhaling en gemeenskap met God en bevestig dat ons gebruik maak van die wonderlike verhouding waarin God ons ingetrek het in Christus. Ons moet ook in praktyk leer wat dit is om nag en dag tot Hom te bid, te volhard daarin, en geduldig te wees terwyl ons soos die Psalms sê, “wag op die Here” (Ps. 31:25; 130:5-8).  Soms is God “lankmoedig” en daarmee het Hy ook sy doel. Soms beleef ons (1) vinnige verhoring, soms (2) eers na ’n tyd, en soms (3) sien ons eers in die lig van die ewigheid hoe God beter geantwoord het as wat ons besef het. Hier gaan dit eerstens om verdrukking en onreg wat God se kinders ly. Ons behoort daarom spesifiek te bid teen die aanslae van die bose, teen onderdrukking van enige bendemag of staatstirannie, en in besonder vir die vervolgde Kerk.

Die wyse waarop ons hier bemoedig word is om te fokus op wie God is. Goddeloosheid onder mense is erg, maar veral onder regters en regeringslui. En tog is God se reg so ingeskryf in die werklikheid dat hierdie weduwee selfs dan daarop kan staan. Selfs die goddelose het grense in God se werklikheid en word deur sy reg gekonfronteer. Sommige teoloë  praat daarvan as God se weerhoudende genade. En God se heerlikheid skitter hier wanneer ons besef dat Hy nie omgepraat hoef te word tot reg of barmhartigheid nie. Die Skrif is vol van God se reg teen verdrukkers en sorg vir weerloses soos weduwees (vgl. Ex. 22:21-24; Deut. 24:17-18; Ps. 65:8; 82:2-7; 146:9; Jes. 1:17;  Jer. 21:3). Hy is nie soos die goddelose regter wat net iets doen as dit tot sy voordeel strek nie. Hy hoef nie omgepraat te word nie. Hy is regverdig en barmhartig en die grondslag daarvan. Hy gee selfs sy eniggebore Seun sodat beide reg en barmhartigheid oor ons sonde kan geskied.

Ons word verder hier deur Christus aangemoedig om te fokus op sy belofte oor se God reg. Sy belofte is dat God gou reg sal doen. Hy sal nie ’n oomblik langer wag as wat nodig is nie. Maar ons moet ook berus in God se bepaalde tyd. En ons moet leer om aan te hou bid, deur te bid, en voortdurend (dag en nag) tot Hom met moed te bid. Ja, ons moet leer om te vertrou dat Hy die beste weet. Sommige antwoorde se tydsberekening begin ons nou al insien wanneer die antwoord op die regte tyd kom, maar eendag sal alles sin maak. Wanneer Christus weer kom, sal alles finaal opgeklaar word. Daarop kan ons ons blymoedig bly wag. En Christus se vraag roep elke geslag op om te antwoord of Hy nog geloof sal vind as Hy kom.

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

Matthew Henry.