2022/07/07

’n Ontblotende omkeervraag

Lees: Luk. 10:25-37

Gedagte vir kinders: Christus roep ons om in sy krag graag ander mense te help.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring en in hierdie tyd hoor ons baie van dissipelskap. Hier leer ons hoe dissipels van die Here Jesus se liefde vir die naaste lyk. Op die Here se pad het ’n sekere man wat in die wet van God geleerd was, gekom en die Here Jesus getoets deur vir Hom te vra wat Hy moes doen om die ewige lewe te beërwe (v.25-26). Die Here het hom met ’n teenvraag geantwoord en gevra wat hy in die wet daaroor lees. Die man het toe geantwoord dat jy God met alles (let op die drie dimensies: hart, siel, krag. Die verstand, gewoonlik ingesluit by die hart, word hier bygevoeg) in jou moet liefhê en jou naaste soos jouself. Die Here het geantwoord dat hy reg was en dat hy dit moes doen en lewe. Die Skrifgeleerde wou homself egter regverdig (let wel), en het toe gevra wie sy naaste is (v.27-29). Die Ou Testament het hieroor alreeds duidelike riglyne gegee (Lev. 19:18,34) en die Here Jesus het toe hierdie riglyne se bedoeling verder  gevoer. Hy het hom geantwoord deur ’n gelykenis te vertel.

Daar was ’n sekere man wat afgegaan het van Jerusalem na Jerigo.  Dit het was ongeveer 25km en het steil na onder geloop en ongeveer 1000m gesak tot by die see. Op die pad het rowers het hom aangeval, uitgetrek en geslaan en toe weggegaan en hom half dood daar laat lê. Daar het toe ’n priester met daardie pad afgekom (dus vanaf Jerusalem en die tempel af na Jerigo, en hom gesien, maar anderkant verbygegaan. Ook ’n Leviet wat nie ’n priester was nie, maar gehelp het met werk by die tempel, het daar gekom en die man gesien, maar ook anderkant verbygegaan (v.30-32). En toe het daar iemand anders gekom wat heeltemal anders opgetree het. Hy was ’n Samaritaan (Samaritane was nie op goeie voet met die Jode nie). Toe hy op sy reis op die gewonde man afgekom en die man sien, het hy (1) hom baie jammer gekry, (2) na hom te gegaan, en (3) sy wonde verbind en (4) olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom verder (5) op sy eie pakdier gehelp en (6) die man na ’n herberg geneem en (7) vir hom daar gesorg.

Asof dit nie al genoeg was nie, het hy (8) toe hy die volgende more weggaan, twee pennings uitgehaal (Die waarde van twee dae se werk vir ’n dagloner en wat iemand ’n hele paar dae kon versorg) en dit aan die eienaar van die herberg gegee om die versorging te behartig. Meer nog, (9) hy het gesê dat indien daar enige onkoste meer is, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom (v.33-35). Die Here Jesus het toe die wetgeleerde se vraag omgedraai. Hy het nie gevra wie die Samaritaan se naaste was nie, maar wie die naaste was van hom wat nood gehad het. Die Skrifgeleerde het toe nie bloot geantwoord dat dit die Samaritaan was nie, maar dit beskrywe as “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”. Toe het die Here Jesus hom geantwoord dat hy moes gaan en net so moes doen (v.36-37).

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor naasteliefde wanneer Christus die man se vraag omkeer?  

Insig: Ons kry in die onmiddellike verband te make met allerhande dimensies van dissipelskap. (Die koste: 9:57-62; die missie:10:1-24; Christus: 10:38-42; God en gebed: 11:1-13). Hier hoor ons van dissipels se liefde - tot God en (uitgebrei) tot die naaste. Dit is opvallend dat die Here Jesus se lering hier drie groot kenmerke het. Hy maak dit (1) baie konkreet deur ’n gelykenis, Hy gebruik (2) ’n onverwags-ontblotende voorbeeld, en (3) Hy draai die rigting van die vraag oor wie my naaste is heeltemal om. Ons het nodig om meermale so hanteer te word.

Oor konkreetheid in ons geloofsake: Telkens konfronteer hierdie gedeelte ons met die woord “doen”(v. 25,28,37) en dit waarmee doen in verband staan (v.34-35). Ons kan so maklik abstrak raak in ons besprekings, veral oor die vraag oor wie ons naaste is. Dit kan ook saamhang, soos hier, met die feit dat die vraagsteller homself eintlik hieroor wou regverdig (v.29). Konkrete doen-voorbeelde en ontblotende verhale kan dan help om die spieël op te hou en ons uit ons selfregverdiging te kry. Ons begryp verder nie altyd hoe skokkend die voorbeeld van die Samaritaan hier is nie. Sommige wil die angel uithaal en daarop wys dat die Samaritaan die naaste was omdat die gewonde man ’n Samaritaan was en juis daarom dat die priester en Leviet verbygehou het. Hierdie verklaring probeer egter wegkom van Christus se skokbehandeling. Die Samaritane wou Christus nie eens ontvang nie vanweë die vyandskap met die Jode (Lk. 9:51-53). Hulle voorgeslagte was uit die laer stand en het vermeng met die heidene (2 Kon. 17:7-41). Hulle het hulle eie tempel op hul eie berg gebou (Joh. 4:16-26), en hulle het hul Bybel gemeng met ander tradisies. Die voorbeeld kom dus uit die geledere van vyandiges uit ’n ander volk, ’n ander godsdiens, ’n ander kultuur, en dwaalleringe.

Maar hoe verkeerd Samaritane ook al was oor die tempel, hierdie man het dit uitgeleef dat barmhartigheid beter is as offerande (Hos. 6:6). Ons kan ook deur dwalendes beskaam word as ons nie ons naasteliefde voluit wil handhaaf in samehang met die liefde vir God nie. Die twee veronderstel mekaar altyd. Christus help ons verder ook hieroor deur die vraag om te keer: Om eerder in liefde te vra vir wie ons ’n naaste kan wees (vgl. Mt. 5:44). Let op die innige jammerte wat op “sien” volg, anders as by die priester en Leviet, en ook op die doen-woorde wat betrokke is tot by die volledige herstel van die gewonde man. Dit ontbloot ons karigheid, maar dit laat ons ook op Christus fokus. Want Hy het die groot Samaritaan vir ons geword. Hy is gerig op ons volle herstel. In Hom kan ons so begin lewe teenoor hulle wat ons pad kruis.           

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C. (Bergsma wys tereg daarop dat die verdere vlak van betekenis van Christus as ons Samaritaan, verdedig kan word. Vir 'n voorbeeld van 'n totale vergeestelik/allegoriese interpretasie in hul tradisie, kyk hierna. Hierdie volle weg hoef egter nie voluit bewandel te word om tog waarde uit die Christologie hiervan te put nie. Vir die oorspronge hiervan, kyk na die skakel by PS).

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.

Chris van Wyk: Bybelskool.

PS: Hierdie artikel bied sewe insiggewende gesigspunte oor die gelykenis.