Lees: Luk. 21:5-28
Gedagte vir kinders: Mense wat
aanhou om teen Jesus te staan sal swaar gestraf word.
Oorsig: Die Here Jesus was reeds in Jerusalem waar Hy gekruisig sou
word. Terwyl Hy in die tempel was, het mense gepraat oor die indrukwekkende tempel
met sy groot en mooi klippe en versierings (v.5). Die tempel was in daardie tyd
bekend as een van die wonders van die tyd. En tog het die Here Jesus vir hulle gesê
dat daar dae sou kom wat elke groot klip daarvan afgebreek sou word (v.6). En
toe die mense hom vra wanneer dit sou gebeur en wat die teken sou wees, het Hy
hulle as die groot Profeet geantwoord. Hy het vir hulle daarop gewys dat alles
nie dadelik sal plaasvind nie. Daar sal mense wees wat maak asof hulle in sy
Naam kom en daar sou oorloë en opstande wees, maar dit sou nie dadelik die
einde wees nie (v.7-9).
Daar sou wel oorlog en groot
aardbewings en hongersnode en pessiektes en groot tekens van die hemel wees. Maar
hulle sou eers vervolg word en oorgelewer word in sinagoges en tronke en voor
konings en goewerneurs gebring word ter wille van sy Naam – en tog ’n
geleentheid om te getuig (v.10-13). Hulle moes ook nie bekommerd wees wat om te
sê nie, want Christus sou woorde en wysheid gee wat niemand sou kon teenstaan
nie (v.14-15). Selfs hulle naaste mense sou hulle oorgee en hulle sou gehaat
wees ter wille van sy Naam (v.16-17). En tog sou hulle geen werklike skade ly
nie en moes hulle deur volharding hul lewe in besit kry (v.18-19).
Hulle moes wel weet dat wanneer Jerusalem omsingel is, dat die verwoesting naby was. Dan moes hulle wegvlug uit die stad en na die berge. Dit sou dan die dae van wraak wees oor Israel wat sy Messias verwerp het en die Skrif sou vervul word (v.20-22).