2011/09/30

Dit is hoe dinge verander

Gebed verander nie sake nie, maar lê beslag op die God wat sake verander.
Ralph Davis, kommentaar op 2 Kon 19.

2011/09/27

Net om onsself?

As ons geregtigheid liefhet wanneer dit om onssself gaan, maar nie wanneer dit om ander gaan nie, is dit onsself wat ons liefhet, nie geregtigheid nie. As ons vryheid liefhet wanneer dit om onsself gaan, en nie wanneer dit om die hele wêreld gaan nie, het ons dit lief as 'n selfsugtige luukse, nie as beginsel nie.
Josiah Strong

Wat reg is, geld oral en vir almal

He's true to God who's true to man ; wherever wrong is done,
To the humblest and the weakest, 'neath the all-beholding sun,
That wrong is also done to us ; and they are slaves most base,
Whose love of right is for themselves, and not for all their race.
                                              aangehaal deur Josiah Strong 

2011/09/25

Opgestaan om te verras

Ietsie vir Sondag en die viering van die opstanding:

Dat Jesus lewe beteken dat sy liefde, vervolmaak aan die kruis, nou aktief is om ons te verras. Dat Jesus lewe beteken dat daar 'n onderwerp is wat ons as sy voorwerpe het, en wat vir ons die goeie wil in 'n vryheid wat ver bo ons voorspellings is.
            
- Robert Jenson, Systematic Theology I,  p.199.

2011/09/22

Die uitbundige land van die Drie-eenheid

Om eenvoudig te weet dat die lewe van God in sigself die lewendigste van alle lewens is, is 'n medisinale korreksie vir ons siek, selfgesentreerde denke - Fred Sanders, in The Deep Things of God, p. 81.

2011/09/21

"'n Persoonlike verhouding met die Here" wat naar maak.

Die uitdrukking "'n persoonlike verhouding met die Here" word dikwels goedbedoeld onder Christene gebruik. Daarmee wil ons aandui dat die verbondsverhouding met God iets persoonliks is wat jou hart opeis. Christenskap is nie maar bloot 'n filosofie of gedragskode waar jou kop en jou hart en jou hande op verskillende kontinente bly en net so nou en dan vir vuisvergaderings byeen kom nie. Nee, Christenskap beteken dat jou wese in beslag geneem is en dat daar 'n wonderlike, intieme en egte verhouding tussen jou en God is. Dit is mos kindertuin kategese, sou baie reken. Of nee, wag: Dit is die enigste kategese wat nodig is. Solank kinders net dit gesnap het, net dit in hul harte geskrywe staan, is alles reg. Kategese met al die leerstellinge en doktrines en dogma kan hierdie proses maklik net belemmer. Persoonlike verhouding, persoonlike verhouding - dit is wat saak maak. So lui die postmoderne kategese, Postmodern Cats 101, 201 en 301 se handleidings.

Maar het die Heidelberg Cats (Heidelbergse Kategismus) dan geen antwoord hierop nie? Hulle het, maar blykbaar wil mense nie meer luister nie. Miskien is dit ons skuld. Ons dis dikwels die HK in rasionalistiese gewaad op en is so abstrak en eksistensieel afgewater as wat kan kom - 'n byna onvergeeflike sonde as jy toevlugsoorde soos Veldkamp, om maar een van die bekendstes te noem, op jou rak het. Dit word vertel dat Abraham Kuyper die kinders so kon boei dat hulle op die punte van hulle stoele gesit het as hy vir hulle kategese gegee het. Gebeur dit nog in ons aanbiedings van die 52 weke? Blykbaar het die vissers van sy eertydse gemeente in die week sy verklaring op die Kategismus, E Voto Dordraceno saam see toe geneem om te bestudeer.

Ek wil dit waag om myself baie bloot te stel. As jy nie die moeite wil doen om die Heidelbergse Katte se waarheid met goeie beplanning, passie en kleur oor te dra nie, of ten minste binne 'n konteks van liefde, warmte en geborgenheid nie - en hier is my kop nou op die blok - los dit liewer heeltemal uit. Laat 'n Arminianis wat die Bybel glo hulle eerder met vuur tot by die troon van genade bring as wat hulle deel word van die gevriesde uitverkiesdes.

Maar ons is nog steeds by tweede (derde, vierde) prys. Daar is die eerste prys of ten minste iets wat baie beter is. Dit is vir seker beter as baie goedbedoelde gebrabbel oor die persoonlike verhouding met die Here. Waarom so sterk hierteen standpunt inneem? Het die eerste paragraaf dan nie by die skrywer self ingesink nie? Dit het en drie hoeras daarvoor. Maar, die begrip persoonlike verhouding met die Here, is op sigself so wyd dat jy met 'n ossewa en selfs 'n paar liberale teoloë bo-op daarbinne kan draai. Die groot vraag is: Hoe spel jy jou persoonlike verhouding met die Here? Dit is die vraag wat al die verskil maak. Kom ons neem 'n voorbeeld: Richard Niebuhr het die liberale teologie se definisie van 'n persoonlike verhouding met die Here by geleentheid so beskrywe:

'n God sonder toorn,
bring mense sonder sonde
in 'n koninkryk sonder oordeel
deur die bedienige van 'n Christus sonder 'n kruis

Dit is ongelukkig hoe baie steeds vandag implisiet 'n verhouding met die Here spel as die Bybel en die HK nie meer funksioneer nie. Sonder om die algemene genade daar te ontken, gaan kyk maar net Oprah-verwante programme. En moenie dink dit gaan nie gepaard met mense wat ernsig is met vroom uitdrukkings daarby nie. Wie wil dan nou stry teen mense wat so gevoelvol hieroor is? Beslis nie die duiwel nie. Want sien, bogenoemde beskrywing is 'n pseudo-verhouding wat naar maak, wat die vrees en geregtigheid van God nie ken nie en nie sidder vir die kake van die hel nie. Beteken dit dat hier 'n pleidooi gelewer word vir die rehabilitering van helleprediking? Soos die gevierde apostel dit stel: Nee, stellig nie! In elk geval nie soos wat dit maklik bloot moralisties verstaan word nie: Wees nou 'n goeie seuntjie of dogtertjie sodat jy nie hel toe hoef te gaan nie. Stellig nie! Maar waarvan ons

2011/09/11

As Jesus werklik die Here is ...

Probeer om vir eers verby die skets in hierdie insetsel  te kyk as dit jou pla. Kyk net waar werk die Here oral in die wêreld. Jesus Christus is inderdaad die Koning en Verlosser van elke duimbreedte van hierdie aarde. Laat hierdie insetsel jou by die omvang van die implikasies uitbring. Dank en erkenning aan In Context bedieninge vir hierdie verwysing.

2011/09/02

Die dinamiek van 'n deftige drieslag

“Bloed, sweet en trane.” 
“Vrede, brood en grond.” 

Moenie die krag van bevatlike betoë onderskat nie. Jy kan daardeur bewegings op sleeptou neem. Winston Churchill en Vladimir Lenin het met bogenoemde gelaaide woorde mense geïnspireer, op heilsame maar ongelukkig ook onheilsame wyses. Hulle en talle ander instellings en persone het dit deur die eeue heen reggekry deur die gebruik van dit wat ’n triade genoem word (lees mooi - nie 'n tirade nie ... ). ’n Triade is ’n deftige woord om ’n drieslag aan te dui, sê die HAT. Afvaardigings, advertensies en betoë maak dikwels hiervan gebruik. Oor die algemene gebruik hiervan in betoë merk Mayer in sy boek oor effektiewe redevoering, How To Win Every Argument (vieslike titel, effektiewe verkoopstegniek), op dat daar in die praktyk eenvoudig net iets is wat krag aan ’n triade verleen en iets afrond.

Ons weet dit is waar. ABSA sê "Vandag, more, altyd saam." Rice Crispies sê "Snap, Cracle, Pop". Die advokaat se finale effektiewe betoog het dikwels drie punte. En die dominee, voor hy hom kon kry het sy preek gewoonlik drie punte. "Hoekom het 'n dominee se preek altyd drie punte?" vra iemand nou die dag. Miskien is dit omdat die gemeente nie meer as drie punte kan hanteer nie...? Net gou 'n realiteitsflits. Dit word vertel dat Puriteinpredikers dikwels op 'n Sondag so ses en dertig punte in hul preek gehad het. En dan sou twee bure in die week met mekaar oor die heining gesels en selfs 'n bietjie verskil oor wat punt nommer vier en twintig nou weer was! Maar miskien is die storie nie reg vertel nie. Die dominee het maar net drie punte met twaalf onderafdelings elk gehad en hulle kon net die eerste twee punte onthou. Ondankbare lidmate as jy my vra ...

2011/09/01

Bevryde en bevrydende ortodoksie

“Christian freedom is a quiet laughter, not the harsh laughter of a
defensive apocalypticism that cannot distinguish a minor cultural crises
from the End of Days. It is a laughter rooted in unmerited grace and
historical awareness that knows that it need not grovel before either the
dogmas or the myopias of a particular time. This freedom is what I
prefer to call liberated orthodoxy ...”
~ Thomas Oden ~