Gedagte vir kinders: Die HERE se beloftes soeter as heuning vir elkeen
wat dit glo.
Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende
onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik
aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van
die alfabet het dan agt verse wat met daardie spesifieke letter in die Hebreeus
begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z
van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die onderrigting
beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings
gebruik, maar elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten
minste ses van woorde.
Ons lees in vers 97 onder die Hebreeuse letter, Mem, dat die Psalmis hier
’n belydenis doen, sonder enige klag of versoek. Hy het die HERE se wet (onderrigting/instruksie)
lief. Daarom bedink hy dit die hele dag (v.97). Daar is ’n besondere gevolg
hiervan wat hy in die volgende verse noem waar hy stel dat dit hom laat uitstyg
bo verkillende groepe mense. Dit maak hom (1) wyser as sy vyande. Vyande gaan
hier oor hulle wat in opstand teen God is en hom vervolg en planne maak in
stryd met God se wil. Die Psalmis begrond sy wyser wees in die feit dat God se
gebooie syne is (toegeëien) vir ewig (v.98). Die HERE se getuienisse laat hom
verder ook (2) uitstyg bo al sy leermeesters. Die rede is dat die HERE se
getuienisse sy bepeinsing (meditering/deurdenking) is (v.98). Die Here se
bevele gee hom selfs meer verstand as die ou mense. Die rede is omdat hy die
bevele ook doen (bewaar; v. 100).
Hierna gaan die Psalmis voort om te getuig dat hy in sy praktiese lewe sy
voete teruggehou het van elke verkeerde pad, sodat hy wel die HERE se woord kan
bewaar (v.101). Hy verduidelik verder dat hy van die Here se verordening nie
afgewyk het nie, aangesien die HERE self (Ú) hom geleer het (v.102). God self is
dus teenwoordig in sy verordeninge. Van hier af gaan die Psalmis voort om sy
genieting van God se woord en sy beloftes te beskryf. Hy roep uit dat die HERE
se beloftes soet is vir sy verhemelte, meer as heuning vir sy mond (v.103). Hy
sluit dan hierdie gedeelte af deur te verklaar dat hy verstand kry uit God se
bevele. Daarom haat hy elke leuenpad (v.104). Die haat gaan is dus nie uit
vanaf ’n seergemaakte eie-ek nie, maar eerder dat hy verstand gekry het uit God
se bevele oor die ware en goeie pad en daarom die afskuwelike alternatiewe wat uitloop
op ondergang, verafsku.
Besprekingsvraag: Wat is die geheim van ’n lewe wat in wysheid uitstyg?
Insig: Postmoderne mense verbeel hulle maklik dat hulle nou totaal bevry anderkant ’n vorige era getree het en daarmee ook van sekere strukture en strakke redenasies bevry is. Daar is egter een ding waarmee die mens van vandag net so vasgevang is en selfs meer as vorige geslagte: Die nietige najaag van jou outonomie (eie wetlikheid) wat eenvoudig sal eindig waar Adam en Eva, Babel en elke eie poging van “I did it my way” al lankal beland het. Die Woord wys hier op die lewegewende alternatief wat tot wysheid lei wat jou bo jou tydgenote kan laat uitstyg. Wanneer ons dit verneem kan ons nie anders as om na te dink oor die lewe van Dawid as jong vlugteling teen die bestaande orde van die ongehoorsame Saul nie. En natuurlik is daar ook sy groot Afstammeling, die Here Jesus op aarde, wat dit meer as enigeen vergestalt het om van kleins af wyser as die leraars en die ou mense te wees en sy vyande te troef (vgl. Luk 2:46-47; Mat. 15:1-20; 22:46). Dit is opvallend dat hierdie afdeling met liefde begin (v.97) en met haat eindig (v.104). Dit beteken dat ons eers deur ware liefde moet werk om die regte soort haat te kan vertoon wat nie in ons eie-ek gestel is nie. Die Kerkvader, Augustinus, het ook daarop gewys dat hierdie liefde vir God se onderrigting verstaan moet word vanuit die vorige vers 96 wat ontdek het dat God se gebod baie wyd is en daarom soveel ruimte bied om waarlik te leef. Hier is werklik sprake van die groot en liefdevolle alternatief op mense se eiewilligheid.