Wys tans plasings met die etiket Jeremia. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jeremia. Wys alle plasings

2024/03/15

Om God te ken in die nuwe verbond

Lees: Jer. 31:31-34

Gedagte vir kinders: Die Here skryf deur die Gees sy wet in sy kinders se harte.

Oorsig: Die Here het die profeet Jeremia van jongs af geroep om ’n profeet vir die nasies en koninkryke te wees, om (1.1) uit te ruk en (1.2) om te gooi en (1.3) te vernietig en (1.4) te verwoes, om (2.1) te bou en (2.2) te plant (vgl. Jer. 1:10). Ons lees baie van die eerste vier negatiewe in Jeremia 1-29, maar in hoofstuk 30 en 31 (vgl. 31:28) hoor ons ook van die opbou en die wonderlike beloftes van die Here. Dit gaan oor ’n terugkeer uit die ballingskap en is verder ook tipies van die heerlike dinge wat in vervulling sou gaan vir die Kerk wanneer die Messias sou kom. Ons verneem in hoofstuk 31 van herstelde vrede en eer en vreugde en oorvloed (v.1-14). Hulle hartseer oor hulle kinders wat hulle verloor het, sal tot ’n einde kom, en hulle sal hul van hul sonde bekeer en God sal hulle in genade aansien (v.15-20). Hulle en hul kinders en hul vee sal besonder vermenigvuldig en seën beleef (v.21-30). 

En dan hoor ons dat God ’n nuwe verbond met Israel asook die huis van Juda sal sluit (v.31). Dit sal nie soos die verbond wees wat die HERE met hulle vaders gesluit het by Sinai toe Hy hulle kragtig uit Egipte gelei het nie. Daardie verbond het hulle verbreek, alhoewel die Here hulle gebieder/eggenoot was, het die HERE gesê (v.32). En dan beskryf die HERE hierdie nuwe verbond. Hy gee sy wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart. Die HERE bevestig dit ook verder deur die uitdrukking wat dikwels gebruik is om te benadruk dat Hy met sy volk in ’n verbond lewe: “En Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir my ’n volk wees.” (vers 33).

Die HERE verduidelik ook verder wat dit beteken. Hulle sal nie meer elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer leer om die HERE te ken nie. Die rede is dat almal Hom sal ken, klein en groot, het die Here gespreek (belowe). Dit beteken nie dat niemand meer enige lering sal benodig nie, maar wel dat die basiese kennis van God, wat ook intieme kennis insluit, alle gelowiges se voorreg sal wees deur sy Heilige Gees. Daar word ook verder duidelik gemaak wat dit beteken. Daar sal ’n nuwe kennis van sondevergifnis wees. Waarom? Want iets wonderliks sou gebeur. Die Here sou iets doen dat al hul ongeregtigheid vergewe kon word op so ’n manier dat Hy nooit meer aan hulle sonde sou dink nie (v.34). Later sou dit duidelik word hoe dit kon gebeur. Want die Here Jesus sou die finale offer aan die kruis bring wat so groot en so effektief sou wees, dat alle skuld van God se kinders vergewe kon word.    

Besprekingsvraag: Waarom was ’n nuwe verbond nodig in die Ou Testament?

Insig: ’n Nuwe verbond in Israel het absoluut noodsaaklik geword. Jerusalem en die tempel was verwoes weens die volk se aanhoudende ontrouheid. Eintlik was God genadig om die oordeel en verwoesting so lank uit te stel. Maar hul afkerigheid was ongeneeslik (vgl. Jer. 7:21-29; 11:1-14). Dit word ook duidelik in elkeen se lewe van vleeslikheid en sonde. Israel kon nie maar net terugkeer nie. Hul verbond met God was aan flarde. By Sinai en die goue kalf kon Moses darem nog vir hulle intree. Jeremia word egter deur die volk verwerp en die Here beveel hom ook om nie vir hulle in te tree nie (vgl. Jer. 7:16, 11:14). Was daar nog enige hoop? Deut. 30:6 bied reeds die groot antwoord: Daar is alleen hoop as God self iets hieraan doen. Hier weerklink dit, die belofte van ’n nuwe verbond, die enigste keer uitdruklik so genoem in die Ou Testament. Ons lees in lyn hiermee verder ook van ’n nuwe toe-eiening van Israel en van ’n ewige verbond (vgl. Hos. 2:14-23; Es 16:60; 37:26; Jes. 55:3).

2022/02/10

Met uitskietwortels by God se stroom

Lees: Jer. 17:5-14           

Gedagte vir kinders: By die HERE alleen vind ons lewende water.  

Oorsig: Jeremia is in hoofstuk 17 besig om oor verskillende sake met die volk te praat. Ons hoor hier veral van wat die verskille is tussen ’n geseënde lewe en ’n lewe wat tot oordeel lei. In vers 5-8 fokus hy veral op die vertroue van elke mens se hart. Jeremia praat reguit oor twee tipes harte. Die een soort hart is die van iemand wat op self en ander mense vertrou, menslike mag en krag hoog ag, en in die proses van God afwyk. (v.5). Hy gebruik dan ’n beeld om sulke mense te beskrywe. Hulle is soos ’n kaal bos in die wildernis, sien nie die goeie raak nie, en bewoon dor plekke in die woestyn. Hulle word daarna beskryf as brakkerige en onbewoonde land (v.6) Hulle lewe dra dus nie vrug nie, is droog, lei tot niks en is sonder ware gemeenskap met ander mense. Net daarna (v.7-8) beskryf Jeremia die mens wie se hart op die HERE vertrou. Hy beskryf so ’n mens interessant genoeg ook omgekeerd as die een wie se vertroue die HERE is. Hy gebruik dan ook ’n beeld om sulke mense te beskryf. So ’n mens is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom. So ’n boom het drie kenmerke van wat nie gedoen word nie: Dit kry ook hitte, maar (1) vrees nie en die blad bly groen en (2) is ook nie besorg in ’n jaar van droogte nie en (3) hou nie op om vrugte dra nie.   

Hierna gaan die profeet in. v.9-14 oor om te praat oor wat God doen om ons te ondersoek en wat ons dan behoort te doen as ons sy seën wil hê. 

2022/02/03

Om te sloop, te bou en te plant

Lees: Jer. 1:4-10, 17-19            

Gedagte vir kinders:  Wanneer die HERE roep, belowe Hy om by ons te wees in moeilike tye.

Oorsig: Die profeet Jeremia het veertig jaar lank die Woord gebring aan Juda en ander koninkryke en nasies, totdat Juda in gevangenisskap (ballingskap) weggevoer is na Babel. Daarna het hy in die land agtergebly en moes steeds beleef hoe die volk wat oorgebly het, ongehoorsaam was. In Jeremia 1 lees ons waar Jeremia se roeping as profeet begin het.

Ons lees dat die Here hom reeds geken het voordat hy in die moederskoot gevorm is en voordat hy gebore is. Reeds toe al was hy bestem as profeet vir die nasies (v.5). Jeremia was nog baie jonk toe die HERE hom geroep het, waarskynlik nog voor sy twintigs, en hy het gereken dat hy te jonk is (v.6). Die HERE het egter geantwoord dat hy dit nie moes sê nie. Hy moes eerder gehoorsaam wees (v.7). Hy moes nie vrees nie, omdat die HERE beloof het dat Hy Jeremia sou uitred (v.8).

Die HERE het hierdie roeping bevestig deur Jeremia se mond aan te raak. Daardeur het Hy bevestig dat Hy sy woorde in Jeremia se mond lê (v.9). Hy het ook deur ses besondere woorde duidelikheid gegee oor wat Jeremia deur sy woorde oor nasies en koninkryke sou doen. Vier daarvan was negatief en twee positief. Hy moes enersyds uitruk, omgooi, vernietig en verwoes. Maar hy moes ook bou en plant (v.10). Hierna het die HERE twee beelde aan Jeremia gegee wat Hy verklaar het en waarop ons nie nou ingaan nie.

Ons hervat die woorde aan Jeremia by vers 17. Die Here het Jeremia beveel om sy heupe te omgord. Dit het beteken dat hy gereed moes maak vir sy taak en daarmee ook gereed om die goeie stryd te stry. Hy moes alles aan die volk oordra wat God beveel en hy moes nie verskrik wees nie. Indien hy sou toelaat dat vrees hom oorweldig, sou die HERE sy vrees bevestig en hom daaraan oorgee om te skrik vir sy vyande. Hy het egter ook aan Jeremia getoon waarom Hy nie verskrik moes wees nie: Want die HERE sou hom maak soos die volgende beelde van krag: ’n versterkte stad, ’n ysterpilaar en kopermure. 

2021/11/25

Groot en ondeurgrondelik

Lees: Jer. 33      

Gedagte vir kinders: Wanneer die Here sonde vergewe, is daar groot vreugde in ons harte  

Oorsig: Die profeet Jeremia was opgesluit in die voorhof van bewaking van die koning. Dit was in die tyd toe Babel besig was om Juda te verwoes en in te neem. Daar in die voorhof het die Here alreeds aan Jeremia geopenbaar dat hoewel Juda as gevolg van hulle sonde swaar gestraf sou word, hulle uiteindelik sou terugkeer en wonderlike seën van die Here sou belewe. En toe kom die Woord van die Here vir ’n tweede keer tot Jeremia daar in die voorhof.

Hierin bevestig die Here eerste wie dit is wat spreek en dan bevestig Hy dat Hy, die Een wat kan, aangeroep moet word wat groot en ondeurgrondelike dinge bekend maak (v.2-3).  Hy bevestig eerstens dat dit Hy is wat die verwoesting en onheil oor Jerusalem gebring het (v.4-5). Dan herhaal Hy sekere gedagtes oor die wonderlike herstel wat ook in die vorige hoofstuk genoem is. Daar sal genesing kom en die lot van Juda en Israel sal verander (v.6-7). Die rede is dat die Here hulle sal reinig en vergewe en so sal daar weer vreugde in Jerusalem wees en die nasies sal met emosie daarvan kennis neem (v.8-9). Hierna weerklink twee maal die woorde: So Spreek die Here. Telkens word daar gewys op hoe die volk “sonder” mense en inwoners is, maar dan word twee beelde gebruik om te wys op wat God sal gee – die beeld van bruidegom en bruid en van herder, kudde en vredevolle landskap (v.10-13).

Die volgende beeld wat gebruik word is baie kragtig. Daar word gewys op die beloftes oor die koningshuis van Dawid. Daar sal Iemand kom wat reg en geregtigheid doen in die land en wat die rede sal wees vir die genesing en herstel van Juda en Israel. Jerusalem sal genoem word met ’n baie spesifieke Naam wat vroeër aan die Een wat kom, gegee is (Jer. 23:5-6): DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Dit beteken dat die verlostes deel sal kry aan die geregtigheid van die Here wat in die Messias gesetel en uit die Here self afkomstig is (v.14-16).