Gedagte vir kinders: Vir mense wat weet hulle het sonde, is dit goeie
nuus dat Jesus Christus die groot Geneesheer is.
Oorsig: Ons lees hier te midde van die wonderwerke van
die Here Jesus, hoe dat Hy een van sy apostels geroep het en dat dit ’n
strydvraag laat ontstaan het. Hier verwys Mattheus na homself en hoe die Here
hom geroep het. In die ander evangeliebeskrywinge word hy met sy ander naam,
Levi genoem, maar Mattheus verkies hierdie naam. Wat sy motief was, weet ons
nie, maar dit help ons om hom met albei sy name te identifiseer. In daardie tyd
het mense dikwels met twee name bekend gestaan.
Mattheus vertel dat die Here hom by die tolhuis
sien sit het (v.9). Mattheus was dus ’n tollenaar en hulle het ’n baie slegte
naam by die Jode gehad. Die rede is dat hulle Herodes Antipas en die Romeine
gehelp het om die belasting by hulle eie volk te hef, en boonop hulself in die
proses verryk het. Hulle is daarom deur die volk as verraaiers beskou. En tog,
die Here Jesus sien hom en sê: “Volg my.” En dan hoor ons dat Mattheus
eenvoudig opgestaan en Hom gevolg het (v.9). Direk daarna hoor ons van ’n huis,
Mattheus s’n (Luk. 5:29) waarby Jesus aan tafel was en dat daar baie tollenaars
en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan het (v.10). Dit
klink soos ’n fees, maar vir Jode het dit beteken dat jy daar onrein sal word
en boonop eet saam met mense met wie jy innige bande het. Die Fariseërs, een
van die strengste groepe onder die Jode oor die onderhouding van die wet, het
dit so gesien en toe nie vir Christus nie, maar vir die dissipels gevra waarom
Hy eet saam met tollenaars en sondaars (v.11).
Toe die Here dit hoor, het hy vir hulle gesê dat
die wat gesond is nie die geneesheer nodig het nie, maar die wat ongesteld is
(v.12). Hy het ook verder vir hulle gesê dat hulle moet gaan leer wat die
volgende woorde in die Ou Testament in Hosea 6:6 beteken: “Ek wil barmhartigheid
hê en nie offerhande nie.” Hy het toe verder gegaan en gesê dat Hy nie gekom
het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (v.13). Daardeur het
die Here twee dinge duidelik gemaak: (1) Hy het nie gereken dat alles wel was
met die tollenaars en sondaars nie. Sy doel was daarom genesing wat bekering
insluit, soos Hy ook vanaf die begin van sy bediening geleer het (vgl. Mat.
4:17). Dit was (2) ook uit sy woorde duidelik dat net mense wat besef hulle is
sondaars en nie reg met God nie, sy
oproep sal hoor om hulle in sy Naam te bekeer.
Besprekingsvraag: Wat is die verband hier tussen genesing en
bekering en sonde?
Insig: Mattheus word net soos ander apostels vroeër, geroep by
dit wat sy beroep geword het (vgl. Mat. 4:18-22). Dit is asof die woorde van
die Here Jesus met kernkrag sy hart oopmaak as Hy ook vir Mattheus soos die
ander dissipels sê: ‘’Volg My.” Iewers behoort elke kind van God ook die
persoonlik hierdie roepstem van Christus te hoor. Sy roeping hier het
implikasies en leer dat dissipels dikwels moet afsien van die sonde, maar ook
van die bekende en van gemaksones. Mattheus was as tollenaar ’n welgestelde man
met onder meer ’n huis en onthaalfasiliteite wat hy moes prysgee, maar Christus
se roeping was ’n bevrydende oproep weg van die tolhuis en van tollenaar en
verraaier en swendelaar en om sonder morele kompas by sy eie volk te wees.
Die wonder is dat hierdie verraaier van sy volk dissipel en apostel word, ja selfs instrument om een van die geliefde Bybelboeke vir ons na te laat. Dit laat ons besef: As God roep, kyk Hy nie na jou prestasies of sondes vir kwalifikasie nie. Hy roep nie die wat kwalifiseer nie, maar gee eerder sy kwalifikasie aan die wat Hy roep.
Hy kan deur sy genade enigeen roep
en reinig en bekwaam maak. Dit is daarom ook insiggewend om te kyk na die
verskillende tipes mense wat Apostels geword het. Daar was welvarende
vissermanne, maar ook ’n eertydse tollenaar, handlanger van die owerheid, aan
die een kant. En dan was daar ook ’n seloot soos Simon, revolusionêr vir die
volksaak, aan die ander kant. Maar almal kom by Christus tuis. Laat ons daarom
waardering hê vir die verskillende omstandighede waaruit Christus ons roep om
deel van sy Kerk te wees. En let op: Niemand kan bloot bly wa hulle was nie.
Maar skep die situasie hier nie
ruimte vir te veel akkommodasie en vreemde invloede nie? Die Fariseërs, die
suiweres (vgl. Bruner), het so gedink. Hierdie tollenaars en sondaars was mos
bewese verraaiers van die verbondsvolk en gedeeltes soos Psalm 1 stel tog
duidelik dat die mens wat welgeluksalig is, nie sit in die kring van die
spotters nie. Christus gee egter vir hulle en ons die kategorieë om hieroor reg
te dink en op te tree. Hy help ons daarmee deur eers op ons gesonde verstand
appel uit te oefen en dan ook deur die Woord.
Christus gebruik die beeld
van ’n dokter en van mense wat ongesteld is. In die lig van die res van die
Bybel kan gesê word dat dit ’n siekte tot die dood is. Dit is mense wat Hy ook
sondaars noem. Hy kom nie om mense in hulle sonde aan te help nie, maar te
genees. Maar dan leer ons dat sy genesing ook beteken dat sondaars hulle
bekeer. Daarvoor het Hy gekom. Van die begin van sy bediening af roep Hy
sondaars tot bekering (vgl. Mat. 4:17).
Maar by Hom en in Hom gaan dit gepaard met genesing, en dat Hy roep en sondaars
wil. En sondaars soos Mattheus, is selfs bereid om baie prys te gee, maar dit
gaan gepaard met blydskap en dat hy selfs nog hieroor ’n ete vir ander gee. Die
rede is dat Christus werklik die groot Geneesheer is. Mense wat weet dat hulle
sonde het, is bly om dit te hoor.
Mense wat vandag nie meer
met die konsep van sonde wil werk nie, se nou dat Hy eerder net die goddelike
vonk in hulle moet aktiveer om die valse ego af te lê. Sulke mense neem nie
werklik toevlug tot Hom nie, want eintlik is Hy dan hoogstens instrumenteel en
eintlik opsioneel. Sulke mense vra dan ook eerder hoe Jesus integreer kan word
met ander godsdienste se diepste bedoelings waar hulle ook die valse self deur
hulle rituele aflê. Maar so word Christus net ’n instrument vir die eie
goddelike vonk in jou en selfs die eie godjie-agenda. Hierteenoor leer ons
hier: As jy besef dat jy sondaar voor God is en ’n sondelas het en net Christus
dit kan dra, is Hy baie kosbaar as die groot Geneesheer wat ons sonde wegneem
omdat Hy dit op Homself geneem het. Dit maak jou nie behep met sonde nie, maar
bevry van die sonde, om nou in vryheid vir Hom te lewe.
Christus gee ook die Skrifgedeelte
uit Hosea 6:6 as ‘’n sleutel om die Woord van waarheid reg te sny. Hierdie
Skrifgedeelte help ons om twee dinge duidelik te verstaan. (1) Ons kan nie die
eksterne en interne kant van die ware godsdiens van mekaar skei nie. Die
uiterlike veronderstel dat die innerlike teenwoordig is. (2) God se genade kom
voor ons dade en dit behoort ook in ons omgang met ander te wys: genade en dade
is belangrik maar genade kom eerste en stel die platform op vir die res (vgl.
Ex. 20:1). En so maak die Here Jesus Hos. 6:6 vir ons ’n sleutelteks wanneer
ons ons omgang oorweeg met hulle wat Hom nog nie ken nie. Dit is baie goeie
nuus dat God genadig is voor hy jou eise aan jou stel. So het Hy dwarsdeur die
ou verbond alreeds gewerk en so werk Hy ook met ons en roep ons op om so met
ander om te gaan. Daarom kan die Here Jesus enersyds prontuit stel dat die
tollenaars inderdaad sondaars is, maar daarom kan Hy ook genade aan hulle bewys
voor Hy eise stel.
Wat
beteken die vir sy Kerk vandag? Eerstens, maak seker jy ken Hom as Geneesheer
van jou lewe. Gaan na Hom en vra Hom om jou uit te sorteer. Want die Fariseërs
se geregtigheid was nie genoeg nie (vgl. Mat. 5:20). Ons het die Geneesheer
nodig wat ons ongeregtigheid gedra en sy geregtigheid aan ons gegee het sodat
ons nou in gemeenskap met Hom sy genesing mag ken en al hoe dieper mag leer ken.
En as ons dan sy genesing leer ken het, gaan bedien dit ook aan ander - een
pasiënt onder genesing wat vir ander wys waar om genesing te vind. So kan ons
nou in die voetspoor van ons Heiland na mense uitreik waar hulle op ons pad kom
deur sy leiding. Dikwels gebeur dit waar hulle werk. Die eenvoudigste manier
is: Nooi hulle saam Kerk toe as daar ’n vertrouensband begin ontstaan.
Dit
beteken ook dat die gemeente nie iemand moet ignoreer wat daar aankom net omdat
hulle dalk anders lyk nie. Onthou: Hulle is dalk een van die wat begin soek na
genesing. Laat hulle eerder aangetrokke voel deur die feestelike atmosfeer van
mense wat oortuigend kan sing oor die Geneesheer en sy genesing, mense wat nou
al hoe meer oos koningskinders begin lyk en optree. Laat hulle eers die genade
proe en kyk of hulle nie ook begin verander nie. Oorweeg ook weer jou eie
tafelgemeenskap. Dit is normaalweg iets wat ons net met naby vriende en familie
het, maar maak ook bewustelik uitsonderings en nooi mense of gaan na mense se
tafel wat genesing nodig het. Nie om soos sondaars te word nie, maar om hulle
soos Christus te bedien. Gaan daarom by geleentheid as hanskakies of verregses
jou byvoorbeeld met goeie bedoelings uitnooi. Waag dit met die Here. Moenie dom
of naïef wees nie. Wees versigtig soos slange en opreg soos duiwe, maar wees
ook oop vir God wat verrassend genadig met sondaars werk.
Geraadpleegde werke
FD
Bruner, Matthew: A Commentary.
D.
Platt, Exalting Jesus in Matthew.
C.
Mitch en E. Sri, The Gospel in Matthew.
Matthew
Henri.