Lees: Nehemia 8:1-13
Gedagte vir kinders: God se Woord vorm ons om heilig en vol vreugde te wees.
Oorsig: Esra en Nehemia vertel ons van die heropbou van
Jerusalem se tempel en die mure, die sentrum van Israel se geloof, nadat hulle
teruggekeer het uit die ballingskap (458-445 v.C.). Maar ook die mense moes
opgebou word (vgl. Esra 7-10; Neh. 7-13). In Nehemia 8 hoor ons van die openbare
proklamasie van God se Woord onder leiding van Esra en watter effek dit gehad
het.
In die sewende
maand (Tishri – Sept/Okt), terwyl die kinders van Israel in hulle dorpe was,
het hulle soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaar gekom en aan
Esra die skrifgeleerde gevra om die boek van die wet van Moses wat die Here
beveel het (let wel), te bring. Esra die priester, het toe die wet voor die
vergadering gebring, bestaande uit manne, vroue en almal wat met verstand kon
luister. Dit was die eerste dag van die sewende maand, die dag van trompetgskal
en die nuwe siviele jaar, en ook die maand waarin die huttefees later gevier is
(v.1-3; , vgl. Lev. 23:24,34). Esra het voorgelees
vanaf ligdag tot die middag, in teenwoordigheid van almal wat kon verstaan. Almal
het aandagtig geluister (v.4). Esra het op ’n houteverhoog gestaan wat hulle
vir die geleentheid gemaak het en langs hom aan sy regterhand was ses manne, en
aan sy linkerhand sewe. Toe Esra die boek oopmaak, het die hele volk opgestaan
(v.5-6).
Esra het toe
begin met lofprysing en die hele volk het geantwoord, “Amen, amen!”, met
opheffing van hul hande en hulle het gebuig en die Here aanbid met die aangesig
na die aarde toe. Toe het dertien ander mans wie se name genoem word, saam met
die Leviete die volk in die wet onderrig, terwyl die volk op hul plek bly staan
het (v.7-8). Hulle het uit die boek, die wet van God (1) duidelik voorgelees en
(2) dit verklaar, sodat (3) die mense verstaan
het wat voorgelees is. Nehemia (goewerneur) en Esra (priester en skrifgeleerde)
en die Leviete het die volk onderrig. Die volk het gehuil toe hulle die woorde
van die wet hoor. Hulle is egter onderrig om nie te huil nie, omdat die dag
heilig was aan die Here (v.9-10). Hulle is eerder aangemoedig om lekker spys te
eet, soet dranke te drink en porsies te stuur aan hulle vir wie niks berei is
nie, omdat die dag heilig was aan hulle (onse) HERE. Hulle moes nie bedroef
wees nie omdat die blydskap van die Here hulle beskutting was (v.11). Die
Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en opgeroep om stil te wees,
omdat die dag heilig was en huilende gesigte nie daarby pas nie (v.12).
Besprekingsvraag: Waarom vind ons dit vreemd om te hoor dat heiligheid en vreugde saamgaan?
Insig: Ons het hier te make met die belangrike plek van proklamasie binne die verbondsvernuwing van die volk van God, asook die belangrike plek van vreugde in die Here daarin.
Esra was reeds 13 jaar besig, seder 458 v.C. om die wet van die Here te
bestudeer en te doen en vir ander te leer (Esra 7:10). Hier sien ons bepaalde
vrug op sy werk wanneer die mense daarna by die Waterpoort vra. Die muur is in
die sesde maand voltooi en nou vra hulle na die Woord. Dit is baie gepas, want
dit is nie net die mure van Jerusalem wat opgebou moet word nie, maar ook die
mense (vgl. Esra 7-10; Neh. 7-13)
en dit gebeur deur verbondsvernuwing en die proklamasie van God se wet en die onderrigting
daarmee saam. Na die uittog uit Egipte het die mense die wet by Sinai ontvang
wat hulle gevorm het, en na die uittog uit ballingskap wil die mense weer
hierdie onderrigting ontvang. Daar is selfs ’n korrelasie tussen wat hier na
die ballingskap gebeur het en dit wat net voor die ballingskap gebeur het onder
koning Josia (2 Kon 23:2). Die wet van God bly eenvoudig die patroon
waarvolgens God se heilige volk sal lewe.
Die proklamasie en lering van God se
Woord het deur die eeue heen ’n belangrike plek onder God se volk gehad. Reeds Aaron het opdrag ontvang om die volk te onderrig (Lev. 10:11). Ons
sien dit ook duidelik in die bediening van Esra wat sy voorgeslagte kan
terugspeur tot by Aaron. (Esra 7:1-5). Ons sien dit in die bediening van Esra
en Nehemia en die Leviete hier (v.8-10)
en ons hoor dit tot in Maleagi (2:1-7) in die Ou Testament. Die Here Jesus
se bediening het ’n basiese komponent van lering gehad (Mark. 1:21-22) en later
ook sy apostels soos Paulus (Hand. 18:11). Paulus beveel Timotheüs ook dat Hy
moet aanhou met voorlesing en om die Woord tydig en ontydig te verkondig (1 Tim
4:13; 2 Tim 4:2). Daarom beskou sommige tradisies hierdie gedeelte as die eerste
duidelike tekens van die bediening van die Woord in die erediens. Dit is
insiggewend dat mans en vroue en kinders, die wat kon verstaan, almal hierby
ingesluit word (v.3-4; vgl. Deut. 31:9-13). Dit is ook insiggewend om te hoor
dat dit duidelik vir die mense verklaar is (v.9). Die betekenis van die Woord
moet nie aangepas word nie, maar dit moet wel so duidelik en maklik verstaanbaar
gemaak word, dat mense weet waarop hulle ja of nee antwoord.
Dit is verder ook belangrik om te
verneem wat sentraal behoort te staan by sulke heilige plegtighede – vreugde.
Die volk huil wanneer hulle die wet hoor. Dalk was gedeeltes soos Lev. 26 of
Deut. 27-32 vir hulle so konkreet omdat dit presies beskryf het wat met hulle in
die ballingskap gebeur het. Dalk was dit ander konkrete wette waaraan hulle
duidelik ongehoorsaam was. Hoe dit ook al gebeur het, God se Woord en Gees het
arresteer, maar die hartseer is vir eers op ys geplaas. Dit bevestig dat hulle
nie trane-emosie as sodanig sentraal wou stel nie. Die huttefees was op hande
en dit was tyd om die sorg en goedheid van God te herdenk, eens in die woestyn,
maar ook in hul tyd. Net daarna sou hulle wel vas en bid (Neh. 9), maar die vas
sou eers volg op die fees. Dit bevestig wat die belangrikste is – die vreugde
oor God en sy guns. En ons moet dit vandag steeds duidelik hoor dat die heiligheid
van God nie met hartseer nie, maar met blydskap in verband staan (v.11-12). God
is heilig en het meer vreugde as enigeen denkbaar. Soos C.S. Lewis dit stel:
Vreugde is die ernstige besigheid van die hemel. Die huttefees wat hulle kort
daarna vir agt dae sou vier, sou spreek van ’n nuwe skeppingsweek wat uitloop
op ’n nuwe skeppingsdag en wat heenwys na die nuwe Jerusalem waar gelowiges vir
altyd sal tuiskom in volmaakte heiligheid en vreugde. Dit is wat die weeklikse
verbondsvernuwingsfeeste tot vandag toe steeds beteken en daarom is die nie
vreemd dat soveel Christelike tradisies vandag nog soveel elemente van hierdie
gebeure handhaaf nie.
Werke geraadpleeg:
J.
Hamilton, Christ-centred exposition: Exalting Jesus in Ezra-Nehemiah
Matthew
Henry.
M. Levering, Ezra & Nehemiah
(Brazos).
J. Bergsma, the Word of the Lord
(Year C).