2025/01/14

Gebed in onmag

Lees: 1 Sam. 1:1-28

Gedagte vir kinders: Om te bid beteken dat ons erken dat net die Here ons kan help.   

Oorsig: Die geskiedenis van Samuel vind plaas aan die einde van die tyd van die Rigters waar die mense net gedoen het wat hulle wil. In daardie tyd was daar 'n Leviet met die naam Elkana (1 Kr. 6:33-38) wat twee vroue gehad: Hanna, kon geen kinders hê nie en word eerste genoem. Peninna word tweede genoem en kon wel seuns en dogters hê. Elkana het jaar vir jaar opgegaan het om die Here te aanbid by Silo. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was daar, maar hulle was ontrou aan die Here, lees ons later (v.1-3; vgl. 1 Sam. 2:12).

Elkana  het tydens sy jaarlikse offers aan al sy gesinslede offervleis gegee, maar aan Hanna ’n dubbele deel omdat hy haar liefgehad het. Die Here het egter haar moederskoot gesluit. Peninna het haar ook bitterlik geterg om haar woedend in haar magteloosheid te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het (v.4-5). Dit herinner ons aan Sara en Hagar vroeër (Gen. 16:1-4; 21:9). Dit het vir ’n geruime tyd so aangehou, veral by die jaarlikse offers, en Hanna kon maar net ween en wou soms selfs nie eet nie. Haar man was baie lief vir haar en het haar getroos dat hy baie lief is vir haar en haar daarop gewys dat Hy vir haar beter was as tien seuns (v.7-8).

Toe hulle eenmaal opgetrek het om voor die aangesig van die Here te verskyn, het Hanna gegaan om haar hart voor die Here uit te stort terwyl Eli, die priester, by die deurpos van die tempel (waarskynlik die tabernakel in ’n gebou) gesit het in Silo. Sy het belowe dat as die Here van die leërskare (eerste maal so genoem in die Bybel), aan haar 'n manlike kind sou gee, sy hom aan die Here sou gee volgens die Nasireër-gelofte (vgl. Num. 6). Dit het onder meer beteken dat geen skeermes op sy hoof sou kom nie (v.10-11). Eli het gedink sy is dronk omdat sy lank sag en net met haar mond gebid het, maar Hanna het verduidelik dat sy haar siel voor die Here uitgestort het. Eli het haar toe vrede en gebedsverhoring toegebid en sy het weggegaan en daarna was haar aangesig anders (v. 12-18). Die volgende dag het hulle vertrek nadat hulle aanbid het en by hulle huis in Rama gekom. Die Here het Hanna het Hanna toe verhoor en so is Samuel gebore wat so genoem is omdat sy hom van die Here gebid het. Nadat die kind gespeen is, vermoedelik drie jaar oud, het sy die seuntjie met offers na Eli gebring en vir hom vertel dat haar gebede verhoor is en dat sy die kind afsonder vir God se werk soos wat sy gebid het (v.19-28).  

 

Besprekingsvraag: Gaan dit by Hanna net om persoonlike vervulling of gaan dit oor meer?

Insig: Die verhaal van Hanna vind plaas aan die einde van die Rigtertydperk. Dit was 'n tyd toe die mense elkeen net gedoen het wat reg was in hul eie oë en sommige priesters was korrup (Rigt. 17-19; 21:25). God se Woord en Wet was nie hul maatstaf nie en afvallige priesters soos Hofni en Pinehas het meegehelp dat die volk die offer aan die Here verag (vgl. 1 Sam. 2:12,17). Hulle het dus die teenoorgestelde gedoen as wat hulle veronderstel was om te doen: om die mense te help om heilig en met blydskap te lewe. In hierdie toestand het Elkana se eie gesin ook iets van Israel se toestand uitgestraal

Daar was diegene soos Peninna met wie dit skynbaar vrugbaar en goed gegaan het, maar dan bitterlik spot met die diegene wat eintlik nader aan God lewe. Hanna verteenwoordig die oorblyfsel van Israel wat getrou, maar onvrugbaar is en op wie daar getrap word. Hanna vertenwoordig ook die gevalle skepping wat sug en in barensnood is dat die kinders van God geopenbaar sal word. Maar Hanna verteenwoordig ook die biddende Kerk in elke tyd wanneer dit lyk of die goddelose die oorhand het en die boonop lyk of hulle floreer. Wanneer ons swak is, is ons in die Here sterk en Hanna toon dit hier uitnemend aan.

Hanna se gebed gaan daarom ook om meer as net smart oor haar spottende mededingster. Sy bid nie maar net maar om ’n kind nie. Sy onderneem om ’n manlike kind volledig af te staan vir die diens aan God. Die belofte dat geen skeermes op sy hoof sal kom nie, wys dat dit hier om meer gaan, want sy sluit aan by die Nasireërgelofte (vgl. Num 6:1-21). Nasireërs was heilige krygsmanne in die ou verbond wat hulleself vir 'n tyd lank of in sommige gevalle lewenslank, afgesonder het vir God se koninkryk. Hulle het hulle van sekere sake weerhou wat in besondere gevalle net van die priesters by die tempel gegeld het (Lev. 10:9-11; Lev. 21:1-3; 10-11). Nasireërs was dus mense wat afgesonder is vir spesifieke tydperke om besondere dinge vir God se koninkryk te verrig. In die Bybel is Simson, Samuel en Johannes die Doper pertinente voorbeelde hiervan. Ons sou hulle ook heilige stryders vir God kon noem. Hanna is met ander woorde iemand wat in die verval van Israel bereid is om iemand aan die Here toe te wy vir koninkrykswerk in ’n haglike situasie. Die priesterskap was korrup en die mense afvallig en Hanna se lofgebed in die volgende hoofstuk getuig van haar begeerte om te sien dat God se geregtigheid en verlossing met krag deurbreek. En laat ons bereid wees om soos Hanna die offers te bring. Maar sy is bereid om ook iets daaraan te doen sou dit God behaag. Heidene het hulle kinders selfs vir die afgode gegee om te vernietig om sodoende guns te wen. Hanna toon wat eerder behoort te gebeur. Sy gee haar kind aan God af om kragtig te gebruik vir sy koninkryk om herstel te bring. Ons kinders is nie ons eiendom nie; hulle behoort nie eens aan hulleself nie, maar aan hulle enigste saligmaker, Jesus Christus. Hy bewaar hulle en gebruik hulle in sy heerlike koninkryk. Hanna leer ons wat dit beteken om ook in jou persoonlike smart dit in verband te bring met God se eer en die bede: Laat u Koninkryk kom, ook in en deur die kind wat u aan my gee soos dit u behaag. Dink ons ons nog so oor ons kinders? 

Die Here sou dan ook vir Samuel gebruik om ’n nuwe fase in Israel in te lei. Daar is heelwat ooreenkomste tussen Samuel en Moses. Samuel is ’n tipe nuwe Moses vir die volk en die eerste groot vervulling van Deut. 18:15-18 waarin belowe word dat die Here ’n profeet soos Moses aan die volk sou gee. Beide Moses en Samuel word van kleins weg van hul moeders grootgemaak, word deur God self geroep, dien in die amp van priester, profeet en regter, gee afskeidstoesprake aan die volk en salf ander. Moses salf die Josua wat die volk in die beloofde land inlei, en Samuel salf vir Dawid, uit wie die Josua van die Nuwe Testament gebore sou word. Hy sou ons soos Moses uitlei, nou uit ons sonde en die dood, en lei ons nou na die beloofde hemelstad. Daarom is dit ook nie verbasend dat ons ooreenkomste tussen Hanna se loflied in die volgende hoofstuk en Maria se lofsang by Christus se geboorte vind nie. Hy sou die Een word wat na die tempel gebring word om die finale nuwe fase in te lei waar Hy ons hoogste Profeet en leraar, ons enigste Hoëpriester, en ons ewige Koning (HK 12) sou word. Soos Samuel, maar soveel meer, het Jesus Christus na sy mensheid op aarde ook toegeneem in genade by God en die mense (vgl. 1 Sam. 2:26; Luk. 2:40,52), maar die herstel so soveel heerliker wees en ons tot vandag raak. Daarom mag ons in sy krag ook vandag uitsien na herstel in sy Naam. En daarom mag ons steeds in 1 Samuel lering ontvang oor die patrone van herstel. Wat leer ons dan hier daaroor?  

Hanna is die uitnemende heenwysing na die biddende Kerk in situasies waarin die onmag so duidelik aan die lyf gevoel word. Sy bevestig dat herstel nie begin by beter voornemens en planne nie, maar by gebed waarin die hart uitgestort word voor die Here (vgl. Fil. 4:6-7). Wanneer ons gefrustreerd en moontlik selfs bitter is oor die spotstem wat die kind van God bestry, moet ons by Hanna leer om dit om dit jou siel uit te stort voor die Here. Aanvegtinge kan soms ondraaglik sleg wees, maar daar is min dinge wat ons ook so kan dring om vurig te bid. Die wese van gebed gaan juis daaroor om in jou totale onmag tog jou hart werklik voor God uit te stort. Gebed gaan daaroor dat ons erken dat ons magteloos is, maar God nie.

Dit is ook die enigste antwoord vir enige Christen wat beleef dat hul lewe nie vrug dra voor God nie. By die nulpunt van ons planne en voortreflikheid is die God wat kan doen, ver bo wat ons bid of dink (Ef. 3:20-21). Laat ons daarom ernstig bid wanneer ons beleef dat die Kerk onvrugbaar is en die spot en onaangeraaktheid en vervolging van die wêreldlinge lyk of dit die oorhand kry. God het aan Hanna gedink, soos aan Israel in Egipte. Dit beteken dat Hy daadwerklik verhoor en steeds verhoor. Laat ons dan ons harte uitstort, God aanbid, sy Koninkryk soek, en ons kinders vir Hom grootmaak.

Werke geraadpleeg:

P Leithart, A Son to Me: An exposition of 1 & 2 Samuel.

Matthew Henry.

BT Arnold, 1 & 2 Samuel, NIV Application.

J McDurmon, 1 Samuel: In die Midst of Your Enemies.

Ignatius Catholic Study Bible, 1 Samuel.

T Chester, 1 Samuel for You.