Boodskap vir kinders: Die Here Jesus roep elkeen wat swaar kry om by
Hom ware rus te vind.
Oorsig: Hoe onbegryplik moes dit nie gewees het om die
Here Jesus in sy aardse bediening te beleef nie. En tog, baie stede waarin baie
van sy prediking en wonders en tekens plaasgevind het, het dit nie ter harte
geneem en hulle bekeer nie. Dit is ook ’n waarskuwing vir ons oor wat ons sal
maak met die lewende Christus in ons midde. Onthou, deur sy Gees is Hy ook in
ons midde waar twee of drie in sy Naam vergader is. En hoe meer lig ons
ontvang, soos Betsaida en Kapernaum destyds wat Hy verantwoordbaar daarvoor gehou
het, hoe groter is ons verantwoordelikheid.
Ons lees dat die Here
Jesus na sy waarskuwing aan stede soos Betsaida en Kapernaum, ter afsluiting ’n
gebed bid. Dit is een van net ’n paar gebede van die Here Jesus wat ons op
skrif het. Ons lees dat die Here Jesus begin het deur die Vader (let wel), te
loof dat Hy sy werk verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan
kindertjies geopenbaar het (v.25). Dit was die Vader se behae om dit so te doen
en die Here Jesus loof die Vader daarvoor wanneer Hy verwys na sekere stede se
verwerping (v.26). En dan lees ons dat die Here Jesus weer met die mense praat.
Hy wys daarop dat alles (let wel) aan Hom oorgegee is deur die Vader en dat niemand
(let wel) die Seun ken nie, behalwe die Vader. Verder ken ook niemand (let wel)
die Vader nie, behalwe die Seun, en elkeen (let wel) aan wie die Seun dit wil
openbaar (v.27).
En dan roep die Here
Jesus, op grond van sy geweldige uitspraak, dat die mense wat nood het, na Hom
toe moet kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Hy gee ’n
wonderlike belofte aan sulke mense: “en ek sal julle rus gee.” (v.28). Hy roep
sulke mense verder op om sy juk op hulle te neem en van Hom te leer. ’n Juk is
gebruik om beeste in te span vir werk en die verkeerde juk of jukgenoot kon jou
baie uitput. Maar die Here Jesus wys daarop dat Hy sagmoedig en nederig van
hart is (vgl. Num. 12:3) en dat hulle (en ons) rus vir hulle siele (psiges) sal
vind by Hom (v.29). Die rede: Sy juk is sag en sy las is lig (v.30). Dit beteken
dat dit nie onuithoudbaar hard is om die juk van Jesus Christus te dra nie. By
Hom vind ons dat dit soms moeilik gaan, maar die rus bly en die juk is tog sag
en die las lig te midde van moeiliker dae. En bowe-al is daar rus, wat twee
maal in die gedeelte genoem word (v. 28,29). In die ou verbond is van rus gepraat as die ou paaie van God se verbond en die beloofde land as God se uiteindelike rus (Ex. 33:14; Jer.
6:16). Die Here Jesus is nou die vervulling daarvan.
Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die
getroues en die ontroues?
Insig: Twee maal hoor ons in hierdie gedeelte oor ware rus (v. 28,29). Dit is waarna ons smag te midde van soveel redes tot onrus in hierdie wêreld – siektes, konflik, geldprobleme, onvervulde verlangens, oorloë, aanvalle, dreigings, skuldgevoelens, angs en vrees. En tog, wanneer die groot antwoord op al hierdie sake, Jesus Christus, in Israel begin optree reageer nie almal positief nie. Hy genees siekes, dryf demone uit, en openbaar sy mag oor die natuur as tekens van God se koninkryk en dat alles aan Hom oorgegee is deur die Vader, maar daar is diegene soos Betsaida en Kapernaum wat meer sien, meer lig ontvang, en tog hulle nie bekeer nie. Waarom nie? Twee redes vanuit verskillende hoeke word hier gegee.
(1) As God dit nie
vir jou openbaar nie, sal jy blind bly, selfs al is Jesus Christus tasbaar in ons
midde werksaam. Maar diesulkes sal verantwoordelik gehou word want die rede vir
die blindheid is ook (2) dat hulle in hul eie oë verstandig en wys en hoogmoedig
is. Die openbaring eerder aan kindertjies (v. 25) gaan oor die ontvanklike en
nederige optrede van ’n kind. En die Here Jesus loof die Vader (let wel) dat Hy
dit verberg vir hoogmoediges wat nie ontvanklik is nie. Gelowiges behoort
daarom ook minder oor sogenaamde sukses in getalle gepla te wees en eerder daarop
te rig dat daar egtheid sal wees onder hulle wat Christus ontvang.
Jesus Christus is duidelik hier nie verleë nie, want Hy ken die Vader
intiem (v. 27: epiginosko). Hy maak
ontsaglike aansprake. Alles is aan Hom oorgegee deur die Vader en niemand ken
Hom nie, behalwe die Vader en niemand ken die Vader nie, behalwe Hy en elkeen
aan wie Hy dit wil openbaar. Niemand kan God dus ken sonder die Seun nie. Dit
veroorsaak aanstoot by intellektueles sowel as geestelik sensitiewes, ernstige godsdienstiges
sowel as selfvoldane hoogmoediges. Dit gaan oor die sogenaamde skandaal van die
partikuliere van God se Openbaring. So sterk as wat Israel daarop gestaan het dat
daar een here is, so sterk behoort gelowiges na die Nuwe Testamentiese openbaring
ook daarop te staan dat daar een Middelaar is tussen God en die mense (1 Tim.
2:5). Christene moet waak om hieroor nie smalend of neerbuigend te wees nie,
maar die aanstoot kan nie vermy word nie. Andersins is ons nie ernstig oor God
wat sy Seun, van die dieselfde wese as die Vader en wat dit geen roof geag het
om aan God gelyk te wees nie, moes gee om deur sy kruis en opstanding om ons te
verlos nie (Bruner). Sommige sê dit is verwaand om Christus so eksklusief op te
stel, ander maak dit af as geromantiseerde gemeenteteologie en nie die
uitspraak van Jesus self nie. Maar almal wat die belydenis van Nicéa (325n.C.) in
Gees en in waarheid aanvaar, buig voor Hom, eenswesens met die Vader, wat ter
wille van ons mense ons saligheid, neergekom het uit die hemel (Nicea).
En tog, al is die toegang so eksklusief net deur Jesus Christus, is die
uitnodiging deur Hom so wyd as kan kom: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en
belas is.” Dit maak nie saak watter soort moegheid en las dit mag wees nie. Al
die dinge waarmee hierbo begin is en meer, is ingesluit. Op hierdie aarde is
nie ware rus op enige ander plek nie en die werklikheid van die dood dring ons
om ’n antwoord vir ware rus te vind wat raad daarmee het. Die rus wat Christus
bied is ook psigiese rus en vir ons siele. Die rede wat Christus gee is
veelseggend: Hy is sagmoedig en nederig van hart. Die wonderlike werklikheid
van ’n nederige Koning maak dit moontlik. Hy lei sy kudde saggies en sy juk is
sag (vgl. Jes.. 40:11).
Ons moet egter teen twee wanopvattings waak: Sommige maak of daar geen juk
is nie, maar onafhanklike godjies kan ons nooit wees nie. In een of ander juk
sal ons altyd staan onder een of ander mag – dink byvoorbeeld aan die staat en
die bose as alternatiewe. Die juk was ’n algemene beeld vir onderwerping aan
die wet of enige heerser. In wie se juk trek jy? Watter poppemeester trek jou
toutjies, wet of sonder jou wete? Die tweede wanopvatting is dat jy dink dat jy
God se wet of juk op jou eie kan hou. Dan probeer ons om die juk van die wet
self te dra. Hoe kan dit dan op Christus se manier as sy juk? ’n Juk is dikwels
deur twee saam getrek. Christus neem die juk saam met ons op. Hy het die dood oorwin
en deur sy Gees werk Hy in en deur ons. Deur Hom vind ons enersyds sy rus en
andersyds die sagte juk van ware dissipelskap. Dit beteken dat ons medewerkers
word in God se koninkryk wat wel die weg van selfverloëning moet leer ken in
Christus, maar die ondraaglikheid en rugbreek val weg. Die bekragtiging deur sy
Gees is daar en soos menige moeilike saak wat die moeite werd is, is die
oorwinning soet en vol avontuur. Die rus en die aanmeld vir die juk gaan dus saam.
Elkeen wat vermoeid en belas is en gehoor gee, mag kom en dit kom beleef in die
enigste Naam wat vir ons gegee is.
Werke geraadpleeg:
Peter
Leithart, The Gospel of Matthew: Jesus as Israel
Frederick
D Bruner, Matthew: A Commentary (ek leun dikwels veral sterk aan op Bruner by die Insig-gedeelte).
Lawrence
R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.
Matthew
Henry.
Curtis Mitch en Edward Sri: The Gospel of Matthew.