Wys tans plasings met die etiket Kerkmusiek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerkmusiek. Wys alle plasings

2013/10/04

Kinders in die kerk

Dr. Willie Marais is bekend vir sy woorde oor kinders in die kerk. Hy het gesê dat 'n kerk sonder kinders hom laat dink aan 'n plaas sonder kalwers. 'n Plaas sonder kalwers behoort heel waarskynlik aan 'n spekulant en nie aan 'n boer nie, het dr. Willie gesê. Hy het dit opgevolg met die uitklopvraag: Wat moet ons dan dink van 'n kerk sonder kinders? Dr. Willie het dit juis van toepassing gemaak op kinderjies wat bulk, en blêr, gedurende die prediking. En tog, jy kry ook baie ernstige gelowige ouers wat meen dat kinders te vinning te vroeg aan onnodige rigiditeit onderwerp word. En dit, so seg die beswaardes, terwyl hulle nog niks van 'n erediens begryp nie. Die kalfies hoef nog nie by die voerbakke te staan nie, sou sekere ouers die bulk-beeld wou amendeer. Hulle hoef mos nog net melk te drink aan die uier. Het Petrus dan nie 'n spesifieke opdrag ontvang oor lammers en weiding wat daarby sou pas nie? As jy nou vinnig wil sien hoe ouers aan beide kante kan heftig raak, gooi net hierdie kwessie in 'n bespreking in.

2013/07/21

Hoog in die kerktakke

Ek het dit geweet, maar dit nie besef nie. My vorige possie kan deur 'n sekere mens maklik in 'n sekere rigting verstaan word; 'n rigting wat my eie bedoeling skeeftrek. Steven Wedgeworth van Calvinist International faam gee hier 'n baie belangrike kwalifikasie op die ou ou kerke gedagte. In wese kom dit daarop neer dat jongmense nie so hoog in die takke moet raak dat die lewende stem van die Woord, die Protestantse viva vox engelii, in die skadu's gehou word nie. Ek stem.

2013/07/18

Bring my die ou-ou kerke

Ek het dit geweet. Daar is meer mense wat reken jeugkerke kan uit die mode raak. Wat dan? 'n Dame genaamd Andrea gee hier rekenskap van haar terugtog na outentieke tradisie in die kerk. En sy kan boonop met woorde wiggel. Lees haar laaste paragrawe met jou fynproewer leestong. Haar artikel herinner my ook aan die woorde van James K. A. Smith. Hy reken dat postmodernes nie behoefte het aan kerke wat te byderwets is nie. Hulle soek iets uit 'n ander wêreld, meen Smith. Toegegee, nie almal nie, maar soos Andrea dit in haar artikel stel, almal is ook nie vervuld deur die nuutste neigings nie. Kerke met 'n soliede tradisie kan dalk juis die gevoel van 'n ander wêreld beter onthul.

2011/07/08

Met die Psalmboek oor die kop

Wat noem jy "performative contradictions" in Afrikaans? Weersprekende optrede? Of so iets. Enige ander voorstelle in raakvat Afrikaans is welkom. Die uitgesprokenes sal sommer wil praat van Fariseër-gedrag of skynheiligheid op die bodem. Groot woorde hierdie - woorde met drie vingers wat terugwys.

Kom ons fokus so 'n bietjie  op 'n minder opsigtelike voorbeeld hiervan: die debat oor Psalmsing onder die van ons wat graag die reformatoriese etiket as 'n ereplaatjie dra. Reformatoriese mense bely graag die genade van God alleen. Ons sou wou byvoeg: in die doksologies hoogste toon moontlik. Ons is mos trots op ons raamwerk van verwondering oor God en sy genade. Daarvan sing die Psalms self, erken ons, in die majeurtoon. Maar kyk net wat doen ons so maklik in die Psalmdebat. Ons pleeg "performative contradiction" - weersprekende optrede. Ons praat oor Psalmsing met 'n ander raamwerk as die een wat ons propageer. Die verwonderingsgloed is dikwels afwesig en nou, in pure steriele argumentasie, word daar abstrak geredeneer oor Psalmsing. Of as daar gloed is, is dit eerder 'n wettiese gloed: "Die Psalms moet gesing word, boet!" Hierdie pro-Psalm wettisisme is so anti-Psalm as wat kan kom.

Laat ek maar bely: Ek is persoonlik pro-Psalms. Ek sou selfs in 'n optog daarvoor wou loop met my "Viva Psalms!" plakaat. En ek sou saamsing in die koor van diegene wat stel dat daar 'n moratorium geplaas moet word op alle verdere aanleer van kerkmusiek totdat die mees gesonge liedere van die geskiedenis almal geken word. Maar ek dink nie dit gaan gebeur deur mense met 'n Psalmboek oor die kop te slaan nie. Dit sal eerder gebeur deurdat mense onder die indruk van die lof, die aanbidding en vreugde van die Psalms gebring word. 'n Goeie beginpunt is om Derek Kidner se immergroen dubbelloop kommentare aan te skaf. Hulle is baie gebruiksvriendelik en kan help om jou deurwerk van die Psalms met gloed te begelei. As die debat oor die Psalms nie ingebed bly in die raamwerk van doksologie en verwondering nie, is ons besig met weersprekende optrede. Iemand  behoort op te staan en die teenstrydigheid aan te toon.