Wys tans plasings met die etiket Job. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Job. Wys alle plasings

2024/07/26

God se Raadsbesluite en ons vrae

Lees: Job 38:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here leer ons deur sy wonderlike skepping om Hom te vertrou.

Oorsig: Die boek Job bestaan uit ’n inleiding en slot waar daar oor die lewe van Job vertel word. En dan vind ons drie siklusse van gesprek/dialoog oor Job se lyding. Dit bestaan uit argumente tussen Job en sy drie vriende wat soms eerder soos sy vyande klink (Elifas, Bildad en Sofar). Dan vind ons ’n laaste groot betoog deur Job en ná hom ’n jonger vriend genaamd Elifas. En dit bring ons dan by God se antwoord uit in ’n storm waarin Hy dan vir Job ondervra en leer en by Job wat daarop antwoord. In Job 38 vind ons die gedeelte waar God uiteindelik vir Job begin antwoord. Vanaf hfst. 38:1 tot 40:2 vind ons besondere sketse van sowat 20 geskape dinge wat iets van die reikwydte en kompleksiteit, misterie en skoonheid van God se skepping aantoon. In vers 1 tot 11 word vanaf vers 4 spesifiek gefokus op die aarde (v.4-7) en die see (v.8-11).

Ons lees dat God Job uit ’n storm geantwoord het (v.1). Hy het daarop gewys dat Job God se raadsbesluite tot duister maak deur sy woorde sonder kennis (v.2). En toe het die HERE Job opgeroep om sy heupe te gord soos ’n man wat gereed is vir konfrontasie, maar ook volwasse gsprek. Die HERE sou vir Job begin ondervra en Job moes die HERE dan onderrig (v.3). Die HERE het begin met die aarde en Job gevra waar hy was toe God die aarde gegrond het. Hy moes laat weet of hy daaroor insig het. Wie het byvoorbeeld die afmetings daarvan bepaal of die meetsnoer/maatband gespan. Job weet dit mos (v.5). En dan word die beeld van fondament-klippe gebruik waarop geboue ingesink en gebou word. Waar is die aarde s’n? En as ons die beeld van die hoeksteen moet gebruik waarop geboue opgerig is, wie het die hoeksteen van die aarde gelê? (v.6). Ja, dit het gebeur toe die môresterre saam gejubel het, wat heenwys na die seuns van God, die engele, wat gejuig het oor die aarde as wonderbare skeppingswerk (v.7).

Hierna word daar oorgegaan van die aarde na die see. Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek het, toe die see soos ’n kind uit die moederskoot voortgekom het? (v.8). Ja, toe het die Here die wolk tot ’n bo-kleed/doek van die see gemaak en met donkerheid toegedraai soos ’n baba (v.9; vgl. 2020). Hy beskryf ook digterlik hoe Hy die grens vir die see uitgebreek het en grendel en deure gemaak het waardeur die see nie kan kom nie (v.10). Hy het so eintlik vir die see gesê: Tot op hierdie grens mag jy kom  en nie verder gaan nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe (v.11).       

Besprekingsvraag: Op watter vlak moet iemand wees om God se besluite te bevraagteken?  

Insig: Job het God se Raadsbesluit tot duisternis gemaak omdat hy nie die groot Raadsman se leiding in sy donker gehad het nie. Tot vandag toe is die sogenaamde teodisee-vraagstuk - God se geregtigheid in hierdie wêreld van lyding – ’n vraagstuk wat baie maklik meer duisternis as lig tog gevolg het as God nie ons Raadsman is nie. 

2022/04/12

Ek weet: My Verlosser leef...

Lees: Job 19:23-29

Gedagte vir kinders: In elke moeilike omstandigheid kan ons weet dat ons Verlosser leef.

Oorsig: Job, die ryk man wat alles gehad en met God gewandel het, het alles verloor – sy besittings, en al sy kinders het gesterwe. En toe het hy boonop nog siek en vol swere geword en mense het hom eerder vermy. Drie vriende het wel na hom toe gekom om met hom te praat, maar hulle was uiteindelik vol beskuldigings oor Job wat moontlik geheime sondes in sy lewe gehad het. Hieroor voer hulle gesprek met Job in verskillende rondtes en waarin hy telkens op elkeen terugantwoord. Een kommentator is van mening dat Elifas ’n mistikus is, Bildad ’n tradisionalis, en Sofar ’n rasionalis wat oor die probleem van lyding praat.  

Ons lees hier van Job se antwoord op Bildad in die tweede rondte van gesprekke. Job kla eers dat hulle hom glad nie verstaan nie (19:1-6), dan beskrywe hy hoe God op hom aanval (19:7-12), en dan beskrywe hy die verskriklike gevolge daarvan in allerhande soorte mense se optrede teenoor hom asook die nare toestand van sy siekte (19:13-20).  Job pleit dan by sy vriende dat hulle medelye met hom sal hê in die toestand wat God op hom gelê het. Hy vra ook waarom hulle hom vervolg (v.21-22). En dan kom sy kragtige en bekende woorde waarop ons hier fokus.