2023/07/25

Genade, Woord, en versoekings

Lees: Ps. 119:57-64

Gedagte vir kinders: Die Here self is ons grootste besitting en erfenis.

Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die Woord beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings gebruik, maar elke groepering onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie beskrywings.   

Ons lees in vers 57 onder die Hebreeuse letter, Get, dat die Psalmis bely dat die HERE self sy deel, met ander woorde sy eintlike erfporsie is. Daarom het hy ook gesê dat hy sy woorde sal bewaar. Wat is dan sy reaksie en gebed tot sy HERE? Hy (1) smeek Hom met (2) sy hele hart om (3) genade in lyn met (4) God se belofte (imra - vgl. v.58). Hy dink daarom ook na oor sy paaie (weë) en laat sy voete teruggaan na God se getuienisse (edot: statute). Hy doen dit met haastigheid en talm nie om God se gebooie (mitsvot: bevele) te onderhou nie (v. 59-60). Die Psalmis vertel dat hy dit wou doen, maar was daar versoekinge (strikke) van die goddelose wat hom omring en verhinder het. Tog het hy God se wet (torah: onderrigting) nie in sulke omstandighede vergeet het nie (v.61).          

Die Psalmis gaan dan voort om te vertel hoe kosbaar die HERE en sy Woord vir hom is. Selfs middernag, die tyd wanneer ons dikwels die meeste weerloos, swak, losbandig of uiters traag is vir enigiets behalwe slaap of sonde, staan hy aktief op om God te loof vir sy regverdige verordeninge (mishpatim: oordele; v.62). Hy wys dan ook vir wie hy ’n spesiale vriend (metgesel) is. Dit is almal wat die HERE vrees, met ander woorde die wat vir Hom ontsag het en Hom eerste stel en wat sy bevele (piqqudim: voorskrifte ) onderhou (v.63). Die Psalmis eindig met ’n lofprysing tot sy HERE, die Verbondsgod van Israel en vandag die Kerk. Hy noem Hom op sy Naam, en bely dat die hele aarde vol is van die HERE se goedertierenheid (hesed: verbondstrou; v.64). Wat gebeur wanneer ’n mens bewus raak van die HERE se goedertierenheid en verbondstrou wat oral is? Hy wil hierdie God intiemer ken deur sy insettinge (choqim: dekrete) te leer.  

Besprekingsvraag: Hoe help God se genademiddele ons om Hom nie te vergeet nie?

Insig: Ps. 119 word geplaas tussen die Hallel-psalms (113-118) wat veral met Paasfees, en die bedevaartsliedere (120-124) wat veral met die Huttefees in verband staan. Die fees tussen-in is Pinkster (Lev.23). Pinkster was 50 dae na Paasfees by Sinai (vgl. Ex.19:1) en Psalm 119 wat liries is oor God se wet sluit nou hierby aan. Pinksterfees beteken vir Christene dat die wet van God in hulle harte vreugdevol brand as mense van die nuwe verbond. Die Psalmis bely  reg aan die begin wat die verbond beteken: Die HERE self is jou deel, jou kosbaarste erfenis. Ons word dikwels deur omstandighede uitgedaag om opnuut te stel wat werklik vir jou die allerbelangrikste is. Kinders van die HERE eien dit telkens weer toe en bely dit, ook weekliks in die verbondsvernuwingfees, dat die HERE en die verbond met Hom fundamenteel is.

Wie die verbond met die Here so bely, word gekenmerk deur bepaalde kenmerke en karaktertrekke in hul lewens. Wanneer jy besef wie jou Here is, besef jy dat jy (1) alleen by grasie van sy genade leef, en (2) dat dit nie deur goeie werke nie, maar deur sy beloftes ons deel word. En (3) dat Hy daarvoor aangeroep moet word. Dit vryf telkens ons hare deurmekaar, maar gee ons ook telkens moed omdat daar so vir elkeen hoop is wat Hom aanroep (Ps. 145:18). Genade beteken egter nie wetteloosheid nie. Nee, hier lei dit dadelik daartoe dat die Psalmis sy weë aan die Woord meet, dit daarvolgens rig, sonder om te talm. 

Hierdie voorneme word egter verhinder deur strikke van die goddelose (bv. wêreldse verleidinge of dreigings) wat jou letterlik omring en kan vasvang. Die Psalmis bely egter dat hy nie vergeet het nie. Dikwels gaan afval gepaard met God se weg wat vergeet word.  ʼn Groot deel van ons geloof is om te “onvergeet” (vgl. anamnesis of dan “nie-amnesia”). Wat help ons om nie te vergeet nie? Die Psalmis noem vier sake: (1) Wees fiks in jou diepste menswees met lof en dank teenoor die HERE; (2) kies jou vriende volgens godvresenheid;  (3) sien sy genade oral en (4) honger na sy Woord. Ons kan dikwels ’n verkeerde pad of besluit terugherlei na verwaarlosing van hierdie sake. Ons troos: Christus het dit reeds in ons plek gedoen - diep in die nag (Mk. 1:35), en bly waak toe niemand meer saam met Hom waak nie (Mt. 26:38-40). Hy identifiseer sy metgeselle (Mk. 3:33-35), en sy voedsel: om die Vader se wil te doen (Joh. 4:34), terwyl Hy God oral in die natuur waarneem (Mt. 6:26-30).  So gaan Hy alleen kruis toe om ons afvalligheid los te koop sodat ons deel van God kan word en ons sy deel kan wees en in die krag van sy Gees uit Hom kan lewe.

Werke geraadpleeg

John Gill.

Matthew Henry.

Geoffrey Grogan, Psalms.

Tremper Longman III, Psalms.