2023/07/25

Die geheim van standvastigheid en sekuriteit

Lees: Ps. 125

Gedagte vir kinders: Ons kan net standvastig wees wanneer ons op die Here vertrou.

Oorsig: Psalm 125 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Hierdie Psalm begin met twee vergelykings tussen mense wat op die HERE vertrou en Jerusalem (v.1-2). Daarna hoor ons van die die gevolge hiervan vir die goddelose (v.3). Die Psalm vervolg dan met ’n gebed wat ingemeng is met ’n vermaning/belydenis (v.4-5). Die Psalm eindig met ’n seën soos sommige ander Psalms (vgl. Ps. 122:8; 128:6) en ook Paulus en die priesterlike seën (vgl. Num. 6:26; Gal. 6:16).

Die Psalm begin (v. 1) met ’n eerste vergelyking tussen die wat op die HERE vertrou en die berg Sion. Sion was die berg waarop die tempel gebou is. Hierdie berg waarop die tempel van die lewende God gestaan het, was die simbool van vastigheid en ware aanbidding wat in die HERE self gevestig was. Die Psalmis stel dan dat mense wat op die HERE vertrou hiermee vergelyk kan word. In die tweede vers gebruik hy ’n ander beeld van Jerusalem en berge. Hy wys daarop dat daar rondom Jerusalem berge was. Dit was in die vroeë tyd baie belangrik vir beskerming en het beteken dat die vyand jou nie sommer maklik kan inneem nie. Hier vergelyk die Psalmis die berge met God wat rondom sy volk is vir altyd. Watter gevolg het hierdie twee beloftes oor standvastigheid en veiligheid? Dit beteken dat die heerskappy (septer) van goddeloosheid nie rusplek sal vind op die erfdeel van God se kinders (die regverdiges) nie. Die rede waarom dit nie sal gebeur nie, is hier sodat God se kinders nie hulle hande sal uitsteek na onreg nie. Met ander woorde dat hulle in die versoeking sal kom om onreg te doen omdat dit lyk of die goddelose vir altyd suksesvol is.     

Die Psalmis gaan dan oor tot ’n gebede waarin Hy die HERE vra om goed te doen aan die goeies, bedoelende hulle wie se harte deur God verander is. Hy beskryf sulke mense ook as die wat opreg is hulle harte. Hy vra dus dat die Here nie sal toelaat dat die goeie ontbreek by hulle wat Hom volg nie (vgl. Ps. 84:12). Hierdie gebedsversoek word opgevolg deur ’n erkenning en vermaning. Hulle uit die volk van God wat langs krom paaie wegdraai sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. En dan sluit die Psalmis dit af met ’n seënbede: Vrede oor Israel. Dit is ’n wens dat wanneer Israel in hierdie geloof leef en op die HERE vertrou, hulle sy seën (shalom: omvattende welstand) sal beleef.

Besprekingsvraag: Hoe verkaar ons dit wanneer die bose skynbaar die oorhand het? 

Insig: In ’n wêreld waarin soveel dinge verander en vloeiend is, soek ons na bakens van standvastigheid. Kyk maar net na kinders wat die sekerheid van die ouerhuis weer opsoek. In Bybeltye was ’n ommuurde stad, ’n plek van veiligheid en stabiliteit, veral as dit op die berge en tussen berge was. Dit was by uitstek waar van die berg Sion met die tempel daarop binne die stad Jerusalem met berge rondom. Hierdie Godstad is beskou as sterk genoeg om militêre mag en selfs kosmiese magte te weerstaan (vgl. Ps. 46, 48). Waarom? Omdat die lewende God sy Naam daar gevestig het en in hul midde was. Nou gebruik die Psalmis juis beelde van hierdie stad met sy berge om te spreek van standvastigheid, geborgenheid, en beskerming. Diegene wat op die HERE vertrou is soos Sion en Jerusalem self ook nou bakens van standvastigheid en veiligheid. En uitdagende situasies toets ons telkens: Gaan jy nou op die HERE vertrou? Dit gee stabiliteit, maar ook beskerming, want die HERE eer die wat Hom eer.

Die versekering kom hier saam met ’n belofte: Die goddelose se heerskappy sal nie op die langtermyn rus op die erfdeel van God se kinders nie. Dit is hoogstens tydelik. Jerusalem het wel weens sonde geval en is afgebreek. Die ark en tempel op sigself het Israel nie bewaar nie (vgl. 1 Sam. 4-6; Jer. 7:4). Maar dit beteken nie dit was vir altyd nie. God wil ook nie dat sy kinders later die goddelose in onreg naboots nie. Daarom kom daar wel toetse en beproewinge om ons geloof te suiwer en versterk (vgl. 1 Pt. 1:7), maar daar is altyd ’n perk aan die kwade. Die HERE weet ons het behoefte sy goedheid te sien (vgl. Ps. 27:13). As iemand onder toetsing hieroor is, hou vas, die septer van die satan sal nie standhou nie.

Ons moet ook soos die Psalmis die HERE aanroep vir die goeie aan die opregtes (v. 4; vgl. Ps. 23:6). Maar ook elkeen onder die volk van die Here vermaan wat langs krom paaie wegdraai van die goeie. Verbondsontroue mense is eintlik dubbel skuldig en sal vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. Ons mag Hom nie aanroep vir die goeie wanneer daar ongeregtigheid in ons eie harte aan die gang is nie. Om in Jerusalem te woon, beteken dat ons afstand doen van ongeregtigheid en krom paaie. Jerusalem daarbo is vry van sonde en die Kerk is die teenswoordige afskynsel daarvan. Ons neem die toevlug tot Christus wat ons stabiliteit en beskerming deur sy kruisdood en opstanding en hemelvaart verseker het. Daarom kan elke gelowige ’n mini-vesting van stabiliteit en sekuriteit word in ’n onstuimige wêreld. Dit roep ons ook in elke uitdaging tot die HERE self. Vertrou op Hom. Dit bring vrede.

Werke geraadpleeg

Geoffrey Grogan, Psalms

Walter Brueggemann, Psalms

Geoffrey Grogan, Psalms.

Tremper Longman III, Psalms.

Tim en Kathy Keller, The Songs of Jesus.