2023/08/02

Kom koop verniet

Lees: Jes. 55:1-5

Gedagte vir kinders: Kom eet en drink verniet by Jesus Christus se fees.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na die hele wêreld om dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

Die uitnodigings reën behoorlik neer in Jesaja 55 op elkeen wat wil hoor: “O, almal wat dors het, kom ...” Daar is raad is vir ons mees kritieke behoefte – dors. Dit gaan ook oor meer as net die basiese behoefte, want ons hoor ook van oorvloed en kwaliteit – wyn en melk. Die wonderlikste is dat dit is vir hulle wat geen geld het nie en dat hulle sonder geld en sonder prys kan kom “koop en eet” (v.1). Hierdie wonderlike uitnodiging kom tot mense wat die onverklaarbare ding doen dat hulle geld gebruik vir dit wat nie werklik brood is nie, en werk doen vir dit wat nie werklik kan versadig nie. Die oplossing is hiervoor is die volgende:  Luister eerder aandagtig na die Here en eet die goeie. En laat jou diepste wese, jou siel, hom in die oorvloed en vettigheid van wat gehoor word verlustig (v.2). Hoe gebeur dit?  

Dit beteken dat hulle hulle ore moet rig (neig) op die Here en na Hom toe kom om te luister. So sal hulle siel lewe. En wat sal hulle dan hoor? Hulle sal hoor dat God ’n ewige verbond met hulle wil sluit. Dit is die verbond wat gaan oor die groot beloftes aan Dawid (vgl. Ps. 89:3, 21-37; 2 Sam. 7:4-17). In hierdie verbond het God die troon aan Dawid en sy nageslag gegee en nou gaan dit verder vernuwe word. Iemand sou getuie van die volk en ’n gebieder van die nasies wees (vgl. Jes. 42:1-4; 49:2-3; 50:4). So sal nasies geroep word en hulle sal na die HERE getrek word en hulle selfs na Hom hardloop. Waarom? Ter wille van die HERE, omdat Hy hierdie Israel deur hierdie Messias verheerlik het (vgl. Jes. 52:13-Jes. 53:12).  

Besprekingsvraag: Hoe iets by God se fees enersyds gekoop en andersyds verniet wees?

Insig: Hierdie groot uitnodiging is net moontlik omdat die Kneg van die Here, Jesus Christus, se offer in ons plek so effektief was. Daarsonder was daar geen uitnodiging nie. Maar nou kan die deure oopgegooi word. So toe as wat die toegang tot God se banket sonder Christus se kruiswerk is, so oop kan dit nou weens sy effektiewe versoening wees. Daarom kan Israel jubel (Jes. 54), maar Jesaja 55 bevestig ook hoe wyd die verlossing strek. In vers 5 verneem ons van die magnetiese krag wat na die nasies uitgaan (vgl. Jes. 2:2). Nasies neem nie sommer mekaar se konings of gode aan nie. Hierdie versoening is egter so enig en kragtig in sy soort dat alle nasies daarna aangetrek word. Dit kan net gebeur as die versoening onvergelyklik is.

Die banket wat voorberei is, is bedoel om bygewoon en gesmaak en geniet te word. Dink ook aan Christus se gelykenis oor die bruilof wat voorberei is, maar dat die gaste nie wou kom nie (vgl. Luk. 14:15-24). Waarom sou mense nie wou kom nie? Hulle is op ander dinge gerig en hoogmoedig en wil nie hulle weë en gedagtes verlaat nie (Jes. 55:6-7). Ons gedeelte verwys spesifiek na ander sg. bronne van brood en eie arbeid vir skynbare punte van sin en standvastigheid - afgod-illusies en tydsgees-illusies wat die oë en verstand verblind. Hoe word geld vandag steeds nie afgeweeg vir skynbare vervulling nie. Die verstommende is egter dat die waarlik vervullende feesmaal verniet is. Ja, ons hoor van betaal en koop, maar dan blyk dit dat die “koop” verniet is. Die rede is dat dit so oneindig duur is dat Iemand anders daarvoor moes instaan. Is ons dalk te trots om dit te erken?

Hierdie feesmaal is vir mense sonder hulpbronne en wat dit weet. Dit is vir mense wat hulle eie sonde en ellende insien en erken. Dit bring die besef dat hierdie boodskap werklik goeie nuus is. Hierdie feesmaal is die antwoord op intense nood (dors), maar dit is baie meer as ’n tydelike lafenis. Hier is ook sprake van oorvloed (wyn en melk) en verlustiging van die dieptes van die siel. En tog is dit verniet deur Hom wat die offer daarvoor gebring het (Jes. 53). Dit is ook opvallend om te hoor dat die gratis oplossing bestaan in ’n ontvangende aksie. Ons ore ontvang, luister, wat God gedoen het. Wat het Hy gedoen? Hy het bestendige genadebewyse (troue liefdeshandelinge) aan Dawid gemaak (vgl. 2 Sam. 7:4-17) en dit word nou vervul in die nuwe genadeverbond waarin die Koninklike figuur uit Dawid se nageslag ook die lydende Kneg vir ons geword het. Deur Hom het ons ons ingang tot sy koninkryk wat nooit sal eindig nie en al die nasies word daarheen geroep (vgl. Jes. 2; 52:15 KJV; Mat. 28:18-20). En almal wat dors het, word geroep: Luister, kom, en verlustig.   

Werke geraadpleeg

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries

John N Oswalt, NIV Application.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.