2023/08/31

Kruisvormige Christene in Hom

Lees: Mt. 16:21-28

Gedagte vir kinders: Ons vind ons volle lewe wanneer ons dit weggee vir die Here.

Oorsig: Dit is een ding om te erken dat die Jesus die Christus is. Dit is iets anders om ook te erken hoe Hy die Messias is en wat dit beteken vir elkeen wat Hom volg. In hierdie gedeelte kry ons met twee definitiewe dele te make. Ons hoor eers hoe die Here Jesus vir Petrus bestraf oor sy siening van sukses (v.21-23). Daarna verneem ons van die Here Jesus se roeping tot dissipelskap (v.24-28).

Net nadat Petrus die wonderlike belydenis gemaak het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, het Hy vir hulle gesê dat hulle vir niemand moes sê nie. Mense het Hom  net gesien as ’n aardse koning. Van toe af het die Here duideliker vir hulle begin wys dat Hy in Jerusalem onder die erkende leiers, die ouderlinge , die owerpriesters en die skrifgeleerdes sou ly. Hy sou selfs gedood word en op die derde dag opgewek word (v.21). Petrus het die Here Jesus hieroor eenkant toe geneem en dit selfs gewaag om die Here teen te gaan oor sy woorde: “’Mag God dit keer Here, dit sal U nooit oorkom nie” (v.22). Die Here Jesus het egter omgedraai en vir die dieselfde Petrus wat Hy pas van tevore bemoedig het oor sy belydenis oor die Christus, gesê: “Gaan weg agter my satan! Jy is vir my ’n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (v.23)

Die Here het daarna vir sy dissipels sy pad verduidelik en wat dit vir sy navolgers sou beteken. Hy het gesê dat as iemand agter Hom wil aankom, hy (1) homself moet verloën, (2) sy kruis opneem en (3) Hom moet volg (v.24). Die rede is dat elkeen wat sy lewe ten alle koste wou red, dit sal verloor, maar dat elkeen wat bereid is om sy lewe ter wille van Jesus te verloor, dit sal vind (v.25). Die Here het bygevoeg dat dit tog niks baat om die hele wêreld te win as jy aan jou siel skade ly nie (v.26). Hy het ook ’n tweede retoriese vraag gevra: Wat kan tog groot of belangrik genoeg wees om jou siel los te koop? Die antwoord is dat daar niks is wat groot genoeg is nie. Jesus het toe daarop gewys dat Hy, die Seun van die Mens, gereed is om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan elkeen sal vergeld volgens sy dade en dit beteken spesifiek of hulle Jesus Christus gevolg het (v.27). Toe het Hy gesê dat sommige onder hulle nie sou doodgaan voordat hulle Hom in sy koninkryk sien kom het nie. Dit het ook gebeur, reeds by die verheerliking op die berg daarna, en later met Hemelvaart en op Pinksterdag (v.28; vgl. Dan. 7:13-14; Hand. 1-2).       

Besprekingsvraag: Kan ons verwagtinge oor die Messias vandag steeds die punt mis?

Insig: Terwyl Petrus in die voorafgaande gedeelte dien tot bemoediging oor die Kerk as kragtige instrumente en ons as deel daarvan, dien hy hier ook as vermaning aan die Kerk om nie instrumente in die hand van die satan te word nie. Die kerkgeskiedenis dui ook op slegte voorbeelde hiervan en ons behoort ook in ons persoonlike lewens op ons hoede daarvoor te wees, veral na ’n geestelike hoogtepunt. Die feit dat jy instrument was beteken nie dat jy nie weer later vermaan moet word nie (vgl. Hand. 2; Gal. 2:11-21).

Hoe gebeur dit? Uit die gedeelte is dit duidelik dat twee dinge nie dig by mekaar gehou word nie. Ons moet enersyds erken dat Jesus Christus wel die Seun van die lewende God is. Ons moet andersyds ook duidelikheid hê oor hoe Hy die Christus is en wat dit vir ons lewens beteken. Want die weg van die Christus loop langs die weg van vernedering en die kruis na die verhoging. Ons praat maklik van die aardse Messias-verwagtinge van destyds wat nie sin kon maak van ’n kruis as deel van die oorwinning nie, maar ons kan steeds so maklik daarin vasval. Dit hang ook by ons steeds saam met ons visie van die suksesvolle lewe. Ons het steeds moeite om dit in verband te bring met die nederige weg waarin ons sekere dinge bewustelik opsê om self ook kruisvormige Christene te word, verbonde aan Hom wat gekom het om die kruisweg te stap en ons te verlos van waan-idees oor die suksesvolle lewe.

Wat beteken dit in praktyk? Ons gelese gedeelte verduidelik dieselfde met drie beskrywings. Die lewende Christus roep jou om (1) jouself te verloën en (2) jou kruis op te neem, en (3) om Jesus Christus te volg. Dit is ’n oproep tot egte dissipelskap en vereis definitiewe keuses. Dit spel in unieke terme uit wat dit beteken om in Jesus te bly (vgl. Joh. 15:5) en in Christus te wees (vgl. Gal. 6:15). In die sentrum daarvan staan die gekruisigde lewe wat net deur verbondenheid aan Christus in ons lewe waar kan word. Dit is ’n lewe waarin daar afgesien word van die self ter wille van Christus, om selfs in die openbaar verguising en onregverdige behandeling te verduur. Dit beteken dat ons teen die kultuur ingaan as dit nodig is en selfs bereid om die uiterste prys van die dood om Christus ontwil te betaal. Tog is dit ook die weg waarop ons nou reeds die lewe vind. Ons vind in elk geval die ware lewe wanneer ons nie so hardnekkig vasklou dat ons nie waag nie (vgl. dapperheid in oorlog), maar dit geld hier in besonder met betrekking tot Jesus Christus wat ook as Regter eenmaal die laaste oordeel sal fel. Die keuse en die vind van LEWE en avontuur in Hom begin egter reeds hier.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.