2023/09/06

Die Magna Carta van konfrontasie

Lees: Mt. 18:21-28

Gedagte vir kinders: Ons moet soos die Here Jesus met mense werk wat sonde doen.

Oorsig: Die dissipels het pas vantevore vir die Here Jesus gevra wie die grootste in die koninkryk van die hemele is. Die Here het die geleentheid toe gebruik om met sy dissipels te praat oor hoe belangrik dit is om nederig, kinderlik en eensgesind te wees (vgl. Mt. 18:1-14). Daarna het Hy voortgegaan en hulle geleer wat om te doen as ’n mede-dissipel die eenheid verbreek deur sonde. Dit gaan hier oor enige sonde wat duidelik teen God se Woord is en wat gebeur tussen persone as broeders en susters en as deel van die dieselfde gemeente. Die Here Jesus het hieroor gewys op drie basiese stappe.

’n Mens moet eerstens die persoon gaan vermaan tussen jou en hom alleen, en as die persoon luister is die saak uitgeklaar en die mede-broeder (of suster) teruggewen vir die Here (v.15). As die persoon egter nie luister nie, moet die volgende stap geneem word. Jy moet een of twee met jou saamneem as getuies sodat dit kan gebeur wat in die Bybel staan – dat in die monde van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan (v.16; vgl. Dt. 19:15). As die persoon ook na hulle nie luister nie, word dit aan die hele gemeente gesê en as hy daarna steeds nie luister nie, moet die persoon vir jou wees soos die heiden en die tollenaar (v.17). Dit beteken nie dat alle kontak vir altyd verbreek word nie, maar hulle word nou hanteer as mense wat buite die koninkryk staan en nog tot bekering moet kom.    

Die Here Jesus het toe sy vroeëre woorde aan Petrus (Mt. 16:18-19), nou vir al die dissipels en daarmee vir sy hele Kerk herhaal: Alles wat hulle op die aarde bind (gebind aan hul sonde), sal in die hemel gebonde wees; en alles wat hulle op die aarde ontbind (deur vry te spreek), sal in die hemel ontbonde wees (v.18). Hy het dit toe op ’n ander manier herhaal en ons moet onthou om dit in die eerste plek toe te pas op kerklike tug: As twee dissipels saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, sal hulle verhoor word deur sy Vader wat in die hemele is (v.19). Die Here het toe die rede vir hierdie kragtige belofte gegee: Daar waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy self in hulle midde (v.20). Let daarop dat die Here Jesus nie gesê het dat Hy dan in hulle midde sal wees nie, maar dat Hy reeds daar is waar hulle in sy Naam vergader is. So het Hy ook bevestig dat Hy God is. Daarom mag elke klein groepie wat opreg in sy Naam bymekaar is om Hom te erken, reken op die kragtige teenwoordigheid en verhoring van gelowiges se gebede, veral by egte vermaning in die gemeente.      

Besprekingsvraag: Waarom het ons makliker konflik met die mense wat naby aan ons is?

Insig: Ons luister hier na die klassieke teksgedeelte oor kerklike tug, wat ook genoem word die Magna Carta van konfrontasie (Bruner). Alle instellings het dissiplinêre kodes, maar die Kerk van Christus het besondere opdragte en besondere beloftes wat in die hemel hieroor eggo en behoort die toon aan te gee. Ons Here is baie duidelik oor die wyse, die proses en die doel.

 Ons behoort dit met ’n nederige, kinderlike gesindheid te doen (v.1-4) en te werk soos met familie (vgl. v. 15). In die Kerk is ons almal gedoop in dieselfde Naam en het deel aan Hom en met mekaar deur genade alleen (Mat. 12:47-50). Daarom kan ons nie uit die hoogte met mekaar omgaan nie, maar eerder met selfondersoek en ’n gees van sagmoedigheid (Gal. 6:1), terwyl ons geduldig eers deur sagter prosesse werk met die een groot doel om ’n broeder of suster terug te wen vir die Here (v.15). Die Kerkvader, Augustinus, het dit treffend opgesom: Ons kan nie die sonde goedpraat of nalaat om dit te hanteer of hoogmoedig hanteer nie.

Familie maak dit ook moeiliker. Ons diepste verskille ontstaan dikwels juis met die mense naaste aan ons omdat ons diepste weefsels geraak word. Dink maar aan Kain en Abel, Esau en Jakob, Israel en Juda. Die hele Ou Testament is vol broedertwis. Uiteindelik hoor ons van die (verlore) oudste en die verlore jongste seun. Die goeie nuus is dat ons ouer Broer, Jesus Christus, Homself vir ons gegee het om ons met Hom en mekaar te versoen (Hebr. 2:11). In hierdie Gees werk ons dan met afvallige broeders en susters. Selfs wanneer iemand later soos die heiden en tollenaar hanteer moet word, onthou ons hoe Christus met hulle omgegaan het. As deel van sy Kerk moet iemand hoor dat hardnekkige sonde nie pas nie. Ná afsnyding moet iemand hoor dat Christus steeds red as jy jou bekeer en Hom aanroep (Leithart).  

Maar eers moet ons met die gesindheid van Christus deeglik deur die prosesse werk. Jy mag en moet eers alleen na ’n broeder gaan wat teen jou sondig (vgl. Lev. 19:17). Eers daarna kan meerdere getuies betrek word, by implikasie opgeleide en wyse ampsdraers. Dit gee ook groter objektiwiteit en oorredingskrag. By hardnekkige onbekeerlikheid kan later die hele gemeente betrek word. Die Kerk het die besondere belofte van Christus (nie net Petrus nie) wat haar besluite in sy Naam bevestig. Die Kerk is daarom besondere instrument in die hand van Christus, in teenstelling met valse profete van die staat. Net Christus kan dit waar maak. Daarvoor het Hy kruis toe gegaan en sy Gees uitgestort. Daarom kan die Kerk vir die wêreld wys hoe egte bemiddeling lyk en in Christus dit uitleef. So word ware dissipelskap gekweek.

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary. Bruner maak die volgende veelseggende toepassings: Wat was die Kerk se rol onder die Nazi’s en onder die ou bedeling in Suid-Afrika? ’n Mens sou kon byvoeg ter wille van ewewigtigheid en konsekwentheid:  “ook in die nuwe bedeling in Suid-Afrika? Hy wys ook daarop dat ons in Mattheus enersyds leer om enersyds lankmoedig met almal te wees (Mat. 13:24-30) en andersyds tog ook soos hier die sonde nederig dog ferm te konfronteer. Ons faal wanneer ons nie beide sake bymekaar hou nie. En tog is dit die unieke weg van Christene.

Peter Leithart, The Gospel of Matthew Through New Eyes.

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.