2023/09/14

Om van harte te vergewe

Lees: Mt. 18:21-35

Gedagte vir kinders: Hulle wat die Here se vergifnis leer ken het, kan ander mense vergewe.

Oorsig: Die Here Jesus was besig om sy dissipels te leer van nederigheid, sonde in die gemeente, en van tug en herstel. Petrus het toe gevra hoe dikwels ’n mede-broeder teen jou mag sondig en weer en weer vergewe word. Sal dit selfs sewe maal wees, dubbeld meer as die reël onder hulle - drie keer plus een? (v. 21; vgl. Amos 1:3 e.v.). Die Here Jesus het geantwoord dat dit eerder 70x7 moes wees, met ander woorde sonder perke solank daar geluister word (v. 22; vgl. v. 15-16). Daarna het Hy dit deur ’n gelykenis verduidelik. 

’n Sekere koning wou verslag kry oor sy diensknegte se werk met sy geld (v.23). So het daar een na hom gekom wat 10 000 talente skuldig was. Dit was meer as ’n hele provinsie se skuld, (ongeveer 10 000 x R3,25m = R32,5 miljard. Dalk was hy ’n goewerneur). Omdat hy nie naastenby kon betaal nie, het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders as slawe verkoop moes word, saam met alles wat hy gehad het en dat daar so betaal moes word vir sy skuld (v.23-25). Die dienskneg het toe (1) voor die koning neergeval en (2) hom gevra om lankmoedig te wees, en (3) gesê dat hy alles sal betaal (wat hy nie kon nie). Die Koning het hom egter (1) innig jammer gekry, (2) hom losgelaat en (3) die skuld kwytgeskeld (v.26-27). Wat ’n wonderlike vryspraak was dit nie! Maar toe het daar iets baie hartseer gebeur.

Toe daardie vrygespreekte dienaar uitgaan, vind hy een van sy mededienaars wat hom 100 pennings skuld (dagloon x 100: ongeveer R30 000 teenoor sy skuld van R3,25 miljard). Hy het hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal my wat jy skuld.” Sy mededienaar val toe voor sy voete neer en smeek hom toe ook met sy eie liggaamshouding teen die grond en met sy eie woorde van vroeër, om lankmoedig te wees en dat hy alles sou betaal (wat hy kon, v.28-29). Maar hy wou nie en het hom in die gevangenis gewerp totdat hy sy skuld sou betaal. Sy mededienaars was hieroor baie hartseer en het aan die koning alles vertel (v.30-31). Die koning het daardie man toe geroep en vir hom gesê: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld van jou het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook so barmhartig wees teenoor jou mededienaar soos ek ook teenoor jou nie?” (v.32-33). Toe het die koning hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy alles sou betaal, wat natuurlik nooit sou kon gebeur nie. En toe het die Here Jesus ’n groot waarskuwing gegee: So sal die Vader aan ons doen wat nie elkeen sy broeder (of suster) van harte sy/haar oortredinge vergewe nie (v.34-35).    

Besprekingsvraag: Waarom is dissipline en  vergifnis  nodig in die opbou van die Kerk?

Insig: In Mattheus 10 leer ons oor die Kerk se uitbou-werk na buite en in Mat 18 hoor ons van die Kerk se opbou-werk na binne (Bruner). Beide is belangrik vir ’n lewenskragtige gemeente. Na binne beteken dit dat ’n gemeente sonder dissipline, maar ook vryspraak, ’n gemeente is wat maklik net ’n gedaante van godsaligheid kan hê. 

Dit kan ook die werk na buite aan bande lê. Ons hoor hier van vergifnis in die gemeente op twee vlakke. Enersyds gaan dit daaroor dat die Kerk wat die sleutelmag (v.18-20) het en kan uitsluit, ook moet oopsluit, weer en weer, vir hulle wat tot inkeer kom. Andersyds hoor ons ook van hartlike vergifnis van mede-broeders en susters op persoonlike vlak (vgl. v.15,21,35). Om jou broer of suster van harte te vergewe, is belangrik. So maklik kan dit presies hier wees wat die klein jakkalsies die wingerd verniel.         

Wat maak ons spesifiek met diegene wat nie berou het nie? Ons moet enersyds leer om nie oor elke ding aanstoot te neem nie (vgl. Kol. 3:13), maar andersyds moet ons ook leer om te praat as ’n saak swaar is en dit later tot haat aanleiding kan gee (Lev. 19:17-18). In gevalle waar dit nie bevredigend uitgeklaar kan word nie, is die weg van Mat. 18:15-20 met meerdere inspraak die weg. Laat ons ook net oop wees vir vermaning van meerdere getuies wat dalk ons eie verkeerde harte raaksien. In sekere onoplosbare situasies egter, veral met ongelowiges, moet ons leer om nie toornig of afgunstig te word oor onreg nie, dit oor te gee aan God en ons verlustiging en gebedsbeantwoording in Hom vind (Ps. 37:1-11).

Hoe maak ons seker dat ons nie die hartseer geval verteenwoordig van iemand wat genade wil ontvang, maar nie kan gee en dit eintlik nie werklik gesnap het nie? Een van drie wyses help ons daarmee: Die Woord, krisisse, of die werklikheid van die dood werk kragtig met ons om onsself op God se ontsaglike genade te werp. Hier het ons nodig om deur sy Woord onder die indruk te kom van God se geweldige vergifnis en liefde deur die Messias. Die 70x7 of (77 in sekere vertalings) is die diep en kragtige teenhanger van Lameg en soveel heidense wraak (vgl. Gen. 4:24). Dit kan net gebeur as ons die groot versoening wat van harte in Christus is, besef. Dit is onmeetbaar groot vir die hele wêreld (1 Joh. 2:2). Die 70x7 kan ook wys op Daniel (9:24-25) se sewentig sewetalle wat neerkom op 490 jaar. Die 490 jaar wys heen na die Messias  wat sou kom, en kan terselfdertyd ook verstaan word as 49x10, wat heenwys na die volheid van tien jubeljare (vgl. Lev. 25:8-10). Dit jubeljaar gaan oor die groot dag van vrylating en vergifnis soos nog nooit tevore nie omdat die Messias sou kom. Net Jesus Christus kon dit bring en Hy het. Wie by Hom uitkom word toegerus om die vergifnis ook verder mee te deel.      

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.