Wys tans plasings met die etiket apologetiek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket apologetiek. Wys alle plasings

2024/01/31

Hoe om dwaasheid te beantwoord

In Spreuke 26:4-5 lees ons die bekende en skynbaar teenstrydige woorde:

“Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. 

Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.” 

’n Algemeen bekende verklaring hiervan is dat omstandighede bepaal watter vers van toepassing is. En dat ons wysheid nodig het, onder leiding van God se Gees, om te bepaal wanneer ons met watter soort optrede teenoor goddelose en moedswillige mense moet optree. Soms moet jy terugpraat en soms nie. Daar is nie net een regte antwoord nie. Daarom, as iemand wysheid nodig het, laat hom dit van God bid, en dit sal aan hom gegee word (Jak. 1:5).

Hierdie antwoord kan ons egter maklik laat voel of ons steeds in die lug hang. En tog dryf hierdie antwoord ons reeds uit tot gebed, wat alreeds ’n goeie ding is. Maar ons kan darem ook meer hieroor sê en ou bekende en betroubare verklaarders soos John Gill en Matthew Henry het darem ook lankal meer hieroor gesê. Byvoorbeeld: As iemand grootpraat en raas en heftig is, moenie ook so optree nie. Moenie ook roem en raas en rumoer nie. As iemand leuens vertel of dreig of swartsmeer, moet ook nie op dieselfde wyse optree nie, want dan word jy net soos die dwaas. Aan die ander kant, as jy reken daar is darem nog hoop vir die domastrantheid, of as jy verdere dwaasheid wil verhoed, of as jy ter wille van ander nie kan stilbly oor die dwaasheid nie, of as die dwaas net wys sal wees sin sy eie oë, antwoord hom dan in so ’n geval na sy sotheid. Soms is dit in meerdere belang dat jy nie mag stilbly nie. Hierdie toepassings help ons om die saak van die twee verse in Spreuke al baie meer konkreet en toepaslik aan te pak.

Daar is ook ander verklaring wat hierby aansluit. Eerstens: Antwoord ’n dwaas nie volgens die sotheid van sy egoïstiese of narsistiese of afgodiese verstaansraamwerk nie, anders word jy self ook so selfie-georiënteerd of behep met jou nietige gode wat af is. Aan die ander kant, antwoord die dwaas na sy sotheid om te wys wat die konsekwensies is van dwase denke. 

2023/05/11

Vry van drogbeelde oor God

Lees: Hand. 17:16-34

Gedagte vir kinders: Jesus het die dood oorwin en sal die wêreld eendag oordeel.

Oorsig: Paulus het op sy tweede sendingreis vir Silas en Timotheüs in Berea agtergelaat en solank na Athene gegaan. Terwyl Paulus vir hulle wag in Athene, het sy gees opstandig geword oor die stad vol afgodsbeelde was (v.16). Hy het toe in die sinagoge met die Jode en godsdienstige mense gespreek en ook elke dag op die mark met die mense wat hom teëgekom het. Onder hulle was Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikureërs het geglo die lewe gaan oor genot en materialisme en net hier en nou en toevalligheid. Die Stoïsyne was het geglo aan plig en ’n lewe van vasbyt en nooit te bly of te hartseer te wees nie. Hulle wou probeer om die goddelike beginsel (logos) van die wêreld te verstaan. Al hierdie mense het met Paulus gestry en gesê dat hy ’n praatjiesmaker en verkondiger van vreemde gode is. Dit was in reaksie op Paulus se boodskap van die evangelie van Jesus en die opstanding (v.17-18).

2022/04/13

Oom Ches en wêreldbeskouing (4)

"Mense wil nie glo nie, want hulle wil nie hul horisonne verbreed nie." – G.K. Chesterton.[i]

Ons het in die vorige aflewering aan die hand van die Chestertoniaan, Dale Alquist, begin kyk na oom Ches as omvattende denker. Ons gaan nou daarmee voort, maar eers net 'n paar opsommende opmerkings. Dit gaan by oom Ches oor uitbrekende en uitbundige denke wat tog ook sterk aan ’n bepaalde sentrum gekoppel is. Ons sal later daarby uitkom dat die  paradoksale sentrum daarvan vir oom Ches die beste verteenwoordig word in die simbool van die kruis. Teenoor die simbool van ’n sirkel wat inkring op sigself en wat verteenwoordigend is van alle monistiese en panteïstiese denke, en waarvan die sogenaamde New Age ook ’n hedendaagse vertakking is, het oom Ches reeds in sy boek Orthodoxy ’n heerliker alternatief aan die orde gestel. Oom Ches waardeer eerder die simbool van die kruis waarin hy ’n paradoksale kruispunt identifiseer wat vanuit die sentrum uitbeweeg na die uithoeke van die heelal en wat altyd verder kan uitloop.[ii]  

Hierdie benadering van oom Ches sou ook as ’n boeiende antwoord op die kritici van die sogenaamde logosentrisme hanteer kon word, maar dit nou eers daar gelaat. Ons keer nou eers weer terug na die drie hoofpunte waarmee ons besig is: (1) Waaroor dit in omvattende denke gaan, (2) hoe die mondering daarvan lyk, en (3) wat die grondslag van so ’n aanslag is. Ons is nog in die helfte van die tweede punt waar ons aan die hand van Alquist na die mondering begin kyk het van 'n omvattende denker wat met die werklikheid en die waarheid omgaan. Ons kom nou by die ander kant van die mondering - hoe omvattende denkers met opponente omgaan. Hieroor merk Alquist in sy eerste hoofstuk op dat dit basies oor drie uitgangspunte gaan. Dit kan natuurlik heelwat uitgebrei word, maar Alquist help om by die kernaandele te hou. Opgesom kom dit op die volgende neer: Jy moet weet wat jou voorveronderstellings is, jy moet weet wat jou einddoel  is, en jy moet weet waar die kontakpunte met jou opponente is.

2019/06/03

Apologetiek volgens W.D. Jonker

Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.

1. Die doel van die Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en waarom ons glo.
2. Die Evangelie word as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.

2013/10/02

Totius ontmoet Van Wyk Louw ontmoet Langenhoven

C.S. Lewis is, nadat ons 'n paar kwalifikasies aangebring het, 'n Totius ontmoet N.P. van Wyk Louw ontmoet Langenhoven tipe figuur. Sy volle statuur het SA skynbaar nooit getref nie. Calvynse stofmannetjies klink anders, beslis meer joviaal, as hulle saam met Lewis iets gaan drink het. Bring gerus hierdie skakel onder jou dominee se aandag. Dit is die nasionale Desiring God konferensie wat onlangs gehou is. Dit het gehandel oor die bydrae van Lewis as romantiese rasionalis. Hoe bevoorreg is ons nie om deesdae so gemaklik op hierdie tipe byeenkomste in te luister nie. Hier is nou klanke wat ek nie eintlik in Suid-Afrika hoor nie. Wenk: Begin met Piper vir konteks en maak seker dat jy nie vir Wilson en Vanhoozer, ja die hele bende, mis nie. Die paneelbespreking aan die einde is 'n gepaste kersie op 'n roomkoek.

2013/09/06

La Tua Semplicità - Domingo en Groban

Hierdie lied is afkomstig van die album "Amore Infinito: Songs Inspired by the Poems of John Paul II." Die Engelse vertaling is blykbaar nie heeltemal akkuraat nie, maar gee darem 'n idee van waaroor dit gaan. Hier is nou vir ons 'n voorbeeld van hoe om duiwels uit te dryf. 

 

2013/08/28

Niemand anders verdien dit nie

Dit is die moeite werd om daarop te let dat die woord verlosser in die Nuwe Testament agt keer op God van toepassing gemaak word, op Jesus sestien keer, en op hoegenaamd niemand anders nie, nooit nie. En tog was die Griekse woord soter (verlosser) 'n redelik algemene term in die klassieke wêreld. Dit is as eretitel op beide menslike konings en militêre oorwinnaars toegepas, asook op die groot gode en helde van die mitologie. Maar dit gebeur nie in Nuwe Testamentiese Christenskap nie. "Verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit ... en aan die Lam" (Op. 7:10). Niemand anders verdien eers die woordeskat nie. - Christopher J. H. Wright in The Mission of God, p. 120.

2013/08/08

Só word jy dapper

"Kaptein, my geloof leer my om net so veilig in 'n veldslag as in 'n bed te voel. God het die tyd vir my dood bepaal. Ek is nie besorg daaroor nie, maar eerder om altyd gereed te wees, maak nie saak wanneer dit my oorval nie. Dit is die manier waarop alle mense behoort te lewe, en dan sal almal ook ewe dapper wees."    - Stonewall Jackson

2013/08/06

Opgewarmde skeptisisme


Ross Douthat is die jongste vryskut rubriekskrywer ooit by die New York Times. Hy dra die konserwatiewe balkie by die koerant en is maar 34 jaar oud. Sy publikasie, Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics, het verlede jaar verskyn en doen goeie werk om heelwat dros uit godsdienspraatjies te verwyder. Ross het die genade ontvang om na links en na regs krities te wees; iets wat eintlik tog so normaal soos melk behoort te wees vir elkeen wat glo dat Christus niemand se lakei is nie. In sy onlangse artikel in die New York Times neem hy die afgesaagde modernistiese liberale kyk op Jesus Christus onder die loep. Hy doen dit na aanleiding van Reza Aslan se onlangse kontroversiële boek, eintlik net maar die nuutste in 'n rits van boeke wat Jesus Christ Superstar met nuwe woorde wil opvoer. Aslan is egter 'n Moslem en dit maak die ou-ou kenwysie vir sommige nou weer nuut en vars.

Ek weet nie of ek op elke faset van Douthat se apologetiek op die Reza Aslans van die wêreld sal inkoop nie, maar een ding kry hy reg wat regtig harder getrompetter moet word. Douthat toon aan dat al die pedantiese analises van Christus dieselfde vervelige struktuur vertoon. Die een sê Hy, die Jesus, was bloot 'n nasionalis en die ander weer dat Jesus bloot 'n apokaliptiese profeet was. "Julle is almal verkeerd," sê 'n derde skoolvos hier neffens ons. "Dit gaan oor Jesus, die sjamaan." Dit is nou as jy een van Suid-Afrika se onlangse toevoegings wil glo. Werklik!

Douthat se aanslag is voortreflik. Hy gaan wys te werk en skel nie die wyses van hierdie eeu met 'n skril pen uit nie. Nee, hy ontbloot die grondstruktuur en toon aan hoe afgesaag en tendensieus en eintlik baie voorspelbaar hierdie hele beweging is.

2013/07/17

Nietzsche die anti-held

Rene Girard: The Girard Reader"Nietzsche is 'n wonderlike teenmiddel teen alle fundamenteel anti-Bybelse pogings om mitologie tot 'n tipe Bybel te maak, wat die besigheid is van al die Jungiane van die wêreld. Dit is ook 'n teenmiddel teen al die pogings wat die Bybel tot mitologie wil maak en dit is die besigheid van ongeveer enigiemand anders as die Jungiane."

Rene Girard, p. 251

2013/07/09

Egte soeke

Daar is ouens in die opkomende geslag wat jou hoop gee vir die toekoms. Matthew Lee Anderson van Mere Orthodoxy is een van hulle. Hy het onlangs 'n boekie die lig laat sien met die titel: The End of Our Exploring: A Book about Questioning and the Confidence of Faith. Matt is daaroor besorg dat ons wêreld 'n verwronge verstaan het van wat dit beteken om te bevraagteken. Daar is 'n manier om ondersoek in te stel en na te vors, veral oor die geloof, as jy werklik wil weet. Sy boek poog om die uitnemende "hoe" van egte leer en soeke aan te toon. En hiermee skakel ons oor na die jongman self. Matt, die vloer is nou joune:



2011/08/19

Die gees van Augustinus

Augustinus sê in die inleiding van Boek III van sy bekende werk, De Trinitate, veelseggende woorde oor sy gesogte publikasies. Ons kan gerus maar sy opinie oor sy uitsprake meet aan ons opinies oor ons eie uitsprake. Hy stel (1) dat hy eerstens nie bloot behoefte het aan 'n gawe leser/hoorder nie, maar ook 'n eerlike kritikus. Hy het (2) nie behoefte aan 'n blote naprater nie, sê hy, maar darem ook nie aan 'n kritikus wat net sy eie kritiek kan napraat nie. Hy vertrou ook (3) verder dat sy leser nie meer van hom sal hou as van die algemene en ontwyfelbare geloof nie. Hy gaan voort en ek vertaal vry:

Vir die eerste groep sê ek: Moenie aan my werke dieselfde eerbied betoon as aan die kanonieke Skrifte nie. Wat jy ook al vind in die Skrif wat jy voorheen nie geglo het nie, wel, glo dit onmiddellik. Maar wat jy ook al in my geskrifte vind wat jy nie tot dusver as seker geag het nie, as ek jou nie oortuig het dat dit seker is nie, gaan  voort om twyfel daaroor te hê. Vir die tweede groep sê ek: Moenie wat ek skryf kritiseer op grond van die standaard van jou eie vooroordele of beterweterigheid nie, maar op grond van die goddelike teks of onomkeerbare rede. As jy hierin enige waarheid vind, dan behoort dit nie bloot aan my nie, maar eerder aan beide van ons deurdat dit verstaan en omhels word deur ons altwee. As jy my uitvang in enigiets wat nie waar is nie, dan moet ek erken dat ek 'n fout gemaak het; maar van nou af, deur versigtiger te wees, kan beide van ons die eienaarskap van foute vermy.

Augustinus se werke bruis van die honger na God se waarheid soos dit in die Skrif gemyn word. Die simptome hiervan is die wyse wat hier pertinent aan die orde gestel is. Ons behoort in ons apologetiese styl hiervan kennis te neem. Mense behoort by ons 'n honger na die waarheid te bespeur wat diep uit ons siele opwel. Een van die kenmerke van so 'n honger en dors na die geregtigheid is dat jy graag hoor waar ander jou dalk reg kan help, op voorwaarde dat hulle nie in hul eie ideologie-web vasgevang is nie. Want dit gaan nie om jou of my nie. Dit gaan om God en sy waarheid wat Hy vir ons almal geopenbaar het en waarin ons almal hoe langer hoe meer behoort in te groei. Hierdie groei sal nooit ophou nie. Daarom bly dit altyd opwindend om verder na te speur, dieper te delf, verdere dimensies te ontdek. Beleef mense by ons hierdie Augustiniaanse gees?

2011/07/22

Die komende Jock-fliek

Ek moet erken: Ek is baie nuuskierig oor hoe die eerste groot animasie-film van Suid Afrika gaan vaar. Jock of the Bushveld word beskou as 'n Afrika-klassiek en begin in Suid Afrika draai op 29 Julie 2011. Die animasie weergawe is blykbaar heelwat aangepas met selfs 'n Poedel wat ingebring is vir die liefie aspek. Dit stem ooreen met die onlangse blyspel sê my vriende wat weet. Die produksie beloop sowat R70 miljoen sê ander  bronne. Dit is 'n gaan-groot-of-gaan-huis-toe produksie. Die missie is internasionaal. Daarvoor is internasionale stemme ingebring soos Bryan Adams vir Jock se stem en Helen Hunt vir, nou-ja, ek is nie seker wie nie. Selfs Biskop Tutu is daar en vertolk die stem van die "geestelike leier."

"Geestelike leier" in hierdie produksie wat waarskynlik werk daarvan sal maak om die Afrika-geur deur te dra, is natuurlik 'n baie dubbelsinnige woord. Die siening van geestelike leier in die internasionale arena moet mos nou arche-tipe "spiritual, but not religious" wees. Dit  het ons lankal reeds in Lion King gesien. Boonop is Biskop Tutu bekend vir sy inklusiewe intergeloofsuitsprake.

Maar die bedoeling van hierdie skrywe is nie 'n anti-toon nie. Soos reeds vermeld - ek is geïnteresseerd, uiters geïntereseerd op verskillende vlakke. Ek dink "Staffies" is oulike honde. Die konsep van 'n "underdog" fassineer my nog altyd. Hei, ek skreeu van kleins af vir die Cheetahs! Boonop is daar die projek

2011/06/07

Sakrament van monisme

Peter Jones is een van die voorste reformatoriese denkers wanneer dit kom by die uitkenning van die nuwe heidendom. Hy reageer hier op die nuwe boek van Jenell Williams Paris, The End of Sexual Identity: Why Sex Is Too Important to Define Who We Are (Downers Grove, IL: InterVarsity, 2011). Paris se sentiment is verteenwoordigend van 'n stem vir homoseksueles wat al sterker in baie kerke word. Die waarde van Jones se respons lê daarin dat hy die wêreldbeskoulike verbande van hierdie sentiment aantoon. Hy wys daarop dat woorde soos sosiale konstrukte, gelykheid, coincidentia oppositorum en toekomstige sjamans in dieselfde dampkringe gevind word waar homoseksualiteit onvoorwaardelik omhels word. Nie almal wat simpatiek is met Paris se sentiment asem noodwendig al die dampe in nie. En tog. Hulle asem wel die lug in wat hierdie wêreldbeskouing bevorder. Jones doen belangrike werk om die lug te suiwer. Jones is nie 'n "gaybasher" nie. Daarvan getuig die volgende woorde:

Jenell Paris obviously wishes to respect and maintain communion with the believer grappling with homosexuality, and this is a good and proper Christian motivation.   

Maar dit weerhou hom nie om te waarsku teen die beliggaamde dwaling en sakrament van monisme wat hy waarneem nie. Douglas Wilson reageer hier op die artikel en voeg die volgende waardevolle opmerking by:

The sooner we understand that every worldview has a sexual expression, and that every sexual act is a disrobed and embodied worldview, the closer we are to a return to sexual sanity.

Jones en Wilson kan so praat omdat hulle die belydenis van die Skrif alleen (sola scriptura) uitleef. Uiteindelik blyk dit dat die hele debat teruggevoer kan word hiernatoe. In die woorde van Os Guiness, handhaaf ons kerke sola scriptura, of sola cultura?