2011/07/22

Die komende Jock-fliek

Ek moet erken: Ek is baie nuuskierig oor hoe die eerste groot animasie-film van Suid Afrika gaan vaar. Jock of the Bushveld word beskou as 'n Afrika-klassiek en begin in Suid Afrika draai op 29 Julie 2011. Die animasie weergawe is blykbaar heelwat aangepas met selfs 'n Poedel wat ingebring is vir die liefie aspek. Dit stem ooreen met die onlangse blyspel sê my vriende wat weet. Die produksie beloop sowat R70 miljoen sê ander  bronne. Dit is 'n gaan-groot-of-gaan-huis-toe produksie. Die missie is internasionaal. Daarvoor is internasionale stemme ingebring soos Bryan Adams vir Jock se stem en Helen Hunt vir, nou-ja, ek is nie seker wie nie. Selfs Biskop Tutu is daar en vertolk die stem van die "geestelike leier."

"Geestelike leier" in hierdie produksie wat waarskynlik werk daarvan sal maak om die Afrika-geur deur te dra, is natuurlik 'n baie dubbelsinnige woord. Die siening van geestelike leier in die internasionale arena moet mos nou arche-tipe "spiritual, but not religious" wees. Dit  het ons lankal reeds in Lion King gesien. Boonop is Biskop Tutu bekend vir sy inklusiewe intergeloofsuitsprake.

Maar die bedoeling van hierdie skrywe is nie 'n anti-toon nie. Soos reeds vermeld - ek is geïnteresseerd, uiters geïntereseerd op verskillende vlakke. Ek dink "Staffies" is oulike honde. Die konsep van 'n "underdog" fassineer my nog altyd. Hei, ek skreeu van kleins af vir die Cheetahs! Boonop is daar die projek
en die besigheidsbeplanning wat baie dinamiek verg. Gaan hierdie R70 miljoen projek dit maak? Die kenners sê dat dit nodig is om eers in Amerika te slaag. Indien wel, is die poorte na Europa oop. Die besigheidsouens het blykbaar goed voorberei vir die sukses-lopie. Al die afgeleide wins soos boeke en speelgoed en plakkers en hemde en, en, en, is potensiële fortuine op hul eie. Gaan hierdie Afrika-produksie vanuit Johannesburg en finaal in Hollywood in klank en kleur vermeng, dit maak? Is ons op pad om ook die animasie-genre te kan behartig in Suid-Afrika?

En natuurlik, reformatories gesproke - laat die projek my ook verder dink: Hoe sal 'n Jock-fliek vanuit reformatoriese verwondering te werk gaan om daaraan ondertone van die evangelie te gee? Laat my toe om uit 'n vorige pos oor die bekende logo van His Master's Voice hier net weer 'n uittreksel te gee oor hoe teoloë al die beeld van die hond ingespan het:

His Master’s Voice se prentjie praat met jou hart en die beeld is lank voor die skildery reeds deur teoloë gebruik om ons verhouding met die Here te beskrywe. Calvyn het reeds gesê: ’n Hond blaf as sy baas aangeval word. Ek sal ’n lafaard wees as ek sien dat God se waarheid aangeval word en dan stilbly (Inst. 4.16.21). Kohlbrugge het die beeld van ’n baas en sy hond ook op ’n ander treffende manier gebruik. In sy verduideliking van die Heidelbergse Kategismus gee hy onder meer die volgende vrae en antwoorde:

Vraag: Wat is die dankbaarste skepsel wat God gemaak het?
Antwoord: Die hond.
Vraag: Waarin sal dan u dankbaarheid bestaan?
Antwoord: Daarin, dat ek by die genade bly, soos wat die hond by sy meester bly en my altyd weer opnuut tot hierdie genade begeef...die hond kruip juis dan die meeste na sy meester toe, wanneer hy slae van hom kry.

Karl Barth het in hierdie verband by geleentheid gesê dat die hond by Calvyn nie slegs deemoedig na sy baas toe kruip nie, maar dat hy ook wanneer sy baas hom roep en kommandeer, kan en moet opspring, blaf en byt.
   
Miskien is dit een van die redes waarom ek so uitsien na die Jock-film: Wat die vervaardigers ook al daarmee gaan doen, ek gaan dit gebruik om my te herinner aan ons verhouding met God. En die beste pogings om animistiese sentimente en glo-in-jouself prekies oor die verhaal te besprinkel - sou dit wel gebeur - gaan dit nie regkry om my herinnering aan Calvyn, Kohlbrugge en Barth se beeldsprake oor die hond, oral waar ek kan, in te lees nie. Ook nie om na te dink hoe die fliek reformatories gerig kon word nie. Byvoorbeeld, hoe om God se weergawe van wat Hy met "underdogs" maak (bv. Deut. 7:7-8; Es.16:3-6; Luk.1:49-54; 1 Kor 1:26-31) sterker in die subteks in te bou. Hulle sê dit is een van die kenmerke van filmmakers - nie dat ook jy bloot 'n passie het vir films maak nie, maar dat jy gefrustreerd is met bepaalde aspekte en dit beter wil doen. Wel, wie weet? Miskien eendag. Dalk is dit beskore vir jou ...!