Wys tans plasings met die etiket Regses. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Regses. Wys alle plasings

2016/05/10

Nee vir links-regs marse

Elke keer, net soos wat dit lyk of die laaste blogskrif gaan verjaar, vind daar 'n terugkeer plaas. Nou-ja, kom ons kyk of opvolgskriffies dalk hierdie keer langer volgehou kan word.

Hierdie inskrywing gaan hopelik nog uitdy. Dit gaan oor die links-regs retoriek. Onlangs meld 'n verlangse vriend dat daar daar 'n verskil is tussen die regse idioom en die konserwatiewe idioom. Vir sommige mag dit dalk nuus wees, maar ek vermoed konserwatiewes voel hierdie verskil lankal aan. Bring 'n mens dit in verband met die groot voorspraakmaker vir die konserwatiewe gedagte, Russell Kirk, besef jy dat hy dit eintlik al lankal gesê het. 

Kirk het graag daarop gewys dat die konserwatiewe gedagte nie 'n ideologie is nie. Onlangs het Bradley Birzer 'n nuwe biografie oor Kirk laat verskyn. Enkele indrukke  daaroor kan hier gevind word. Wat insiggewend is, is dat die skrywer van die artikel, Samuel Gregg van Acton-faam, spesifiek by die links-regs mars aanhaak. Hy wys op bevatlike wyse op drie redes waarom Kirk wars gestaan het oor hierdie manier van dink:

1. Links-regs denke hang vir Kirk nou saam met ideologie, en ideologie - in sy linkse of regse gestalte - is 'n tipe omgekeerde godsdiens. Die hemel word op aarde gesoek en dan word daar, veral aan die linkerkant, maar ook op die regterkant (nasionalisme in onderskeid van patriotisme), mettertyd verval in allerhande dwingende wyses waarop die sogenaamde hemel deurgevoer moet word.

2013/07/06

Linkse heksejag

Ek is nie bekend met die hele smeerveldtog teen Paula Deen in die VSA nie, maar ek dink ek kan, saam met my leser, 'n gelykenis herken as ek dit sien. In hierdie bydrae van Rod Dreher, senior redakteur van die American Conservative, haal hy woorde van Walker Percy aan wat jou laat wonder of daar werklik 'n oseaan of twee is wat ons van mekaar skei: "Ek glo ernstig dat die ergste lot wat die stryd teen segregasie kan tref, die oorname daarvan deur die ortodoksie van die linkses sou wees." 
Linkses se heksejag kan dalk wêreldwyd die teendeel by mense begin bewerk. Dit sou nie heeltemal verbaas as die pendulum hieroor iewers in die toekoms heeltemal gaan terugswaai nie. Supermoralisme se reuk het nog nooit groot simpatie gevind nie.

2013/06/28

Lukas en tradisie nuut gelees

Indien jy Lukas nuut wil lees en hulp nodig het, kan Gil Bailie jou dalk help. Vergun my om jou te prik met n paar gedagtes en dan oor een saak dieper te delf.

Die geboorteverhaal van Christus bevat instruksies oor hoe om Lukas te lees. Dit is eintlik alreeds 'n mini-evangelie. Die evangelie word verder so vertel dat jy dit nie net een keer kan lees nie. As jy klaar is, wil jy teruggaan omdat jy nou sekere beskrywings in 'n nuwe lig lees. En elke keer wanneer jy klaar is, gebeur die dieselfde proses van voor af! Om die evangeliebeskrywing reg te lees beteken verder nie in die eerste plek 'n literêre of filosofiese of teologiese analise nie. Lukas impliseer dat ons soos Maria te werk moet gaan: Bewaar dit in jou hart. Moenie in die slaggat van die Verligtingsrasionalisme trap nie.

Een van die verrassende dinge wat ons vinnig in Lukas begroet is hoe hierdie skrywer wat op die heidene, randfigure en vroue fokus, met die Ou Testament omgaan. Dit wemel van Ou Testamentiese verwysings in die lofsange van die mense in die geboorteverhaal. Selfs heidene en randfigure moet weet dat die wortels van die Ou Testament die konteks bied om sin te maak van wat hier gebeur. Bailie maak dan 'n insiggewende stelling: Egte vernuwing kom altyd uit die tradisie en nie vanuit 'n ander plek nie. Die implikasie is dat die verhouding Ou en Nuwe Testament vir ons die arche-tipe hiervan is.  

Kom ons fokus dieper op Bailie se woorde: Ware vernuwing kom altyd  deurdat jy op 'n dieper vlak peins oor die tradisie waaruit jy gekom het. 'n Mens sou kon argumenteer dat die arche-tipe vernuwing inderdaad aan ons leidrade verskaf van hoe ware vernuwing werk, maar dan is dit eers nodig om die gunsteling gonswoord van afvallige Bybelverklaarders te dekonstrueer.

2013/06/13

Patriotnotas (3)

Brett McCracken kan altyd hoortyd gegee word. Hy skryf hier, op sy eie Independance Day, woorde wat waardig is om die patriotnotas te haal. Dit handel oor die verband tussen plek, patriotskap en Sehnsucht. Die betekenis van Sehnsucht kan gerus by die skakel dieper bestudeer word. Vir die haastiges is dit genoeg om nou te sê dat dit gaan oor daardie soms intense hunkering en verlange na dit wat jy nie regtig in woorde kan omsit nie. Lewis het baie hiervan gemaak en gereken dat dit iets is wat die Here in ons geplaas het om intuïtief te weet dat daar meer in die lewe is as die hier en nou. McCracken sien patriotskap as iets wat meer eksistensieel as ideologies is. Dit gaan vir hom om die dankbaarheid wat jy voel vir spesifieke nuanses van kultuur, geskiedenis, landskap en mense wat deel van jou menswees geword het. Hy tref 'n onderskeid tussen patriotskap en nasionalisme. Sommige mag miskien verskil hiermee, maar die volgende is die moeite werd om te vertaal: 

Patriotskap is 'n goeie ding. Dit is die natuurlike emosionele konneksie wat ons met plek het. Ons is bedraad om te hunker na die idee van tuiswees. Dit was waarna die Israeliete gehunker het in die Sinaï-gebergte. Dit was waarna die Hobbits gehunker het (die Shire) gedurende hul Middel-Aarde avonture. Dit was wat deel uitgemaak het van C.S. Lewis se Sehnsucht:

2012/06/15

Kuyper-kaping

Iewers het ’n Kuyper-kaping in Suid-Afrika plaasgevind. Die kaping het plaasgevind deur ’n vreemde alliansie. Verrassende lede sluit beide NGK en APK lidmate in.

Die kerkhisorici van die NG Kerk erken hulle aandeel sommer prontuit. Kuyper is gekaap, op die ashoop gesit en vervang met met Barth. Lede van die APK het saamgegekaap, maar die ashoop was natuurlik die laaste plek waaraan Kuyper blootgestel sou word. Kuyper sou goeie diens doen vir die kerkverband. En as die NGK sou beweer dat die APK nog in die Kuyper-kopklem is, sou menige APK's hierdie etiket natuurlik met vreugde dra. Was Kuyper dan nie feitlik die mees aangehaalde teoloog toe die NG kerk apartheid teologies verdedig het nie? Daar is eintlik min plekke waaroor baie APKaners en NGKaners soveel konsensus het: Die Abraham Kuyper kar is in of hy is uit. As iemand in koorsoomblikke die APK wil verklaar as die Afrikaanse Protestantse Kuypers, sou “ingeligtes” in die NGK en APK waarskynlik instemmend die kop – in ’n kopklem of te not – knik in’n dit-spreek-vanself ritme.

Konserwatiewes sê Kuyper is in; ander sê hy moet uit. Altans, tot onlangs toe. En wie moet ons bedank vir die nuwe wending in die waarneming? Niemand minder as ou POMO nie. Sy lang naam is postmoderniteit, maar niemand noem hom eintlik so nie. Dit klink te amptelik. Buitendien, gemak, informaliteit en intimiteit is dan juis so eie aan ou POMO.

Maar een ding het POMO reggekry. Hy het Kuyper met nuwe waardering op die tafel geplaas. Hoe dit gebeur het was onafwendbaar. Stadigaan besef mense vandag dat hoë oktaan Kuyper nie die probleem is nie. Die vraag is eerder op watter pad daar met die hoë oktaan motor gery word. Dit is die nuus wat in Suid-Afrika nog nie die hoofbulletin gehaal het nie. Meer as een soort Kuyper-kaping het al buite Suid-Afrika plaasgevind. Die kapers word nogal maklik herken aan die rigting wat hulle met Kuyper inslaan. Die Kuyper karretjie kan skynbaar op beide konserwatiewe en liberale bane ry. Gaan kyk maar net waar het die Kanadese al met Kuyper gery (wenk: moenie die goud tusen-in mis nie). En as die karretjie nie meer verder op die ingeslane weg kan ry nie, word hy omgebou. Daar bestaan K-modelle (konserwatief), L-modelle (liberal) en deesdae selfs P- modelle (postmodern).

Genadiglik is daar deesdae ook ’n wêreldwye oplewing van NCW modelle. Laasgenoemde staan vir neo-Calvinisme wêreldwyd. As opvolger op die P-model bied dit bevredigende antwoorde oor waarom Kuyper vandag relevanter as ooit is. Ook die APK en NGK staan met nuwe ore en belangstelling nader.

2011/11/22

Konserwatiewe en progressiewe impulse

Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.

Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.

Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.

2011/07/20

Verantwoordelikheid van spraak

Die onlangse herrie wat losgebars het rondom die Anton van Niekerk sage wat begin het met sy herbevestiging dat ons as wit mense met enorme skuld sit, is ter sake. Tim du Plessis het reeds in sterk taal  en deur beelde van 'n uitskelparade en prekerige vermanings gemaan oor woorde wat die teenoorgestelde uitwerking kan hê. Vuisvoos Afrikaners is meer as vies.

Die filosoof Pieter Duvenhage se woorde reeds in 2003 verduidelik op gesofistikeerde wyse wat Du Plessis in sy straatwys-styl profeties (in hierdie geval) aanhangig gemaak het:

In die tweede plek kan 'n mens in 'n tipe moralisme verval wat 'n kreatief politieke meelewing vanweë 'n oordrewe skuldbewussyn onmoontlik maak. Hier is natuurlik die gevaar van suiwering ... en 'n voorbeeld, in 'n mate, is Antjie Krog se Country of my skull.

Eerstens konteks: Duvenhage praat oor die WVK en wys op drie maniere om op die verlede te reageer - 1. ontken die verlede se foute; 2. beskuldig die verlede; 3. wees krities betrokke vanuit die hede op die verlede en meet dit heeltyd aan verskillende standpunte.

Dit is veral Duvenhage se uiteensetting van die tweede punt wat ek hier wil uitbou: 'n Oordrewe bombardering met skuld bewerk bloot 'n nuwe vorm van moralisme. Dit heet liberaal-demokratiese wettisisme. Soos dit nog altyd met enige vorm van wettisisme die geval was, kan dit nie bevrydend werk nie. Kreatiewe meelewing word heeltemal gesmoor. Mense wat voel dat hulle nie kan asem kry nie, doen vreemde dinge. Diegene wat in die naam van vryheid van spraak liberaal-demokratiese wettisisme wil bedryf, moet kennis neem. Moet net die liberaal-demokrate van die gevare van wettisisme kennis neem? Nee, almal behoort, maar die feit is dat die LD's die dominante narratief het met  - reg of verkeerd - die grootbroer posisie in Suid-Afrika. Vryheid van spraak in belang van hierdie heersende diskoers moet daarom spesiaal op die gevare van 'n tipe wettisisme en 'n oordrewe skuldkompleks attend gemaak word.

Om nou binne so 'n klimaat met betrekking tot die ongelukkige voorval van die Stellenbosch gebeure bloot te fokus op onvolwassenheid, fundamentalisme en die bedreiging van vryheid van spraak, mis die groter prentjie.