Wys tans plasings met die etiket wêreldbeskouing; lewensvisie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wêreldbeskouing; lewensvisie. Wys alle plasings

2021/10/21

Boekbespreking: Joyce Little, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order (1)


Wanneer ’n publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose benadering wat oor eeue heen kom. Little  toon oortuigend aan hoe al die bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie. Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te herstel.   

Boute en moere van twee teenoorstaande ordes

In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.

2021/10/05

Tipologie as wapen en wêreldbeskouing

Ek onthou vaagweg hoe ek iewers in my studente-dae in beleë moderne interpretasie van die Bybel, begin leer het dat sekere maniere van Bybelverstaan onaanvaarbaar is. Twee van die maniere wat slegte name gekry het was om die Bybel te psigologiseer of te tipologiseer. Die bedoeling was om so daarteen te waak dat die Bybel nie van sy betekenis in die onmiddellike verband losgemaak word vir ander agendas nie. Dit sou inlees in die Bybel tot gevolg hê en ons moes die Bybel lees vir wat daar staan, sonder om iets van buite af in te forseer.  

Wat nie vir my geleer is nie, altans nie aanvanklik in die liberale opleiding waaraan ek blootgestel is nie, is dat die Bybel altyd-alreeds  met bepaalde raamwerke benader word en dat 'n bepaalde neo-evolusionêre metode sluipend toegang kry wanneer dit nie pertinent hanteer word nie. Daar is ook nie vir my geleer dat die tipologiese lees van die Bybel van die veronderstelling  uitgaan dat die Bybel nie net op mikrovlak gelees moet word nie, maar ook op makrovlak en dat tipologie erns maak met die die makrovlak van die Bybel. Soos wat Patrick Fairbairn dit treffend verduidelik: Die kerkvaders het die Bybel in die lig van die geheel gelees, terwyl moderne eksegete geneig is om al die klem op die besondere teks in die onmiddellike konteks te wil lees. 

Ongelukkig het die huidige tydvak van fragmentering van die Teks daartoe gelei dat die tastende en tierende tipologiese visie op die geheel erg skade gely het. En tog sien al hoe meer mense in dat ons weer 'n tyd betree waar beide benaderings met nuwe vuur met mekaar mag en moet omgaan. Maar dan sal ons moet leer om tipologie te rehabiliteer en nie oor te gee aan gekaapte en verskraalde moderne opvattings daarvan nie. 

'n Lang aanhaling wat praat

Onderstaande het ek by Scott Hahn gevind. Die waarde van Hahn is dat hy dit nie bloot as metodiek aanbied nie, maar werklik help om dit as 'n omvattende idee aan die orde te stel wat jou hele uitkyk kan verlig. Tipologie kan jou wêreld omkeer. Ja dit roer aan die senuwees van jou hele wêreldbeskouing. Om dit te verduidelik, gaan ek vir Hahn self oor tipologie aan die orde stel, met een belangrike bywerking. Deur hierdie tolk gaan hy Afrikaans praat:   
 

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.