2023/12/13

’n Ware getuie van die koms van Christus

Lees: Joh. 1:6-8, 19-28

Gedagte vir kinders: Gestuurdes van die Here wys nie na hulleself nie, maar na Jesus Christus.

Oorsig: Johannes begin sy Evangelie deur te vertel van die Woord, Jesus Christus, wat in die begin by God was en self ook God was (v.1-4). Hy vertel dan dat daar in Hom die lig van die lewe was. En dan slaan die evangelieskrywer oor om te wys op ’n man wat deur God gestuur was en wie se naam Johannes (die Doper) was. Johannes was self nie die lig nie, maar moes kom om van die lig, Jesus Christus, te getuig (v.6-8). Johannes het begin deur die wêreld in opskudding te bring deur mense tot bekering te roep en hulle te doop in die Jordaan, ver weg van Jerusalem waar die tempel was. Dit het herinner aan Esegiël (36:25) se belofte dat die Here eendag skoon water op hulle sou giet dat hulle rein kan word. Johannes was boonop aangetrek soos Elia (vgl. 2 Kon. 1:8) en die mense het gewonder of hy die Elia is wat die Here belowe het deur Maleagi (Mal. 3:1; 4:5) en wat voor Hom sou uitgaan.

Die Jode het toe uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur om hom te vra: Wie is u? (v.19). Johannes het dit toe baie duidelik erken dat hyself nie die Messias (die Christus) is nie (v.20). Hulle vra hom toe of Hy Elia is (vgl. Mal. 4:5) en of Hy die profeet is (vgl. Dt. 18:15-22). Telkens het hy nee geantwoord (v.21). Dit is dus duidelik dat Johannes oor drie sake pertinent nee geantwoord het: Hy is nie die Christus, of Elia self wat weer opgestaan het, of die Profeet wat Moses belowe het nie. En toe vra hulle hom wie hy dan wel is sodat hulle antwoord kan gee aan die wat hulle gestuur het (v.22).       

Johannes het toe geantwoord dat hy die stem is van een wat roep in die woestyn soos die profeet Jesaja (40:3) het: Maak die pad van die Here reguit. Dit beteken dat hulle gereed moes maak om die Here te ontvang (v.23). Die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. Dit was ’n beweging wat die toewyding aan God onder die mense wou vernuwe, maar hulle het dit gedoen deur allerhande bykomstige dinge uit hulle tradisie by die Here se Woord te voeg. Hulle vra hom toe waarom hy die mense doop as hy dan nie die Christus of Elia of die profeet was nie (v.24-25). Johannes het hulle toe geantwoord dat hy wel met water doop, maar dat onder hulle Iemand staan wat hulle nie ken nie. Hierdie een het na hom gekom, maar het voor Hom geword en hy is nie eens waardig om sy skoenriem los te maak nie (v.26-27). Dit alles het gebeur in Betábara aan die oostekant van die Jordaan waar Johannes besig was om te doop (v.28). Dit is waar die volk aanvanklik in die land Kanaän ingekom het.

Besprekingsvraag: Watter redes was daar om Johannes die Doper as eg te beskou?

Insig: Jerusalem, met hul Sanhedrin en die gestuurde priesters en Leviete en Fariseërs in die agtergrond, neem kennis dat daar ver by die Jordaan iets aan die gang is. As geestelike leiers was hulle veronderstel om die tekens te onderskei. Hulle moes tog voorgeloop het om na te speur oor die koms van die Messias en sy boodskapper met optrede wat daarmee in lyn is. Mag en posisie en eie tradisies en gebruike wat die Woord ontkrag, lei egter tot geestelike blindheid en kollektiewe illusies. 

Die doop was alreeds bekend deur die wassinge van die Ou Testament en het gedui op reiniging en vernuwing (vgl. Num. 8:7; 19:19; Sag. 13:1; Es. 36:25). Dit is boonop saam met die besnydenis gebruik om proseliete in te lyf in Israel. Maar nou doop Johannes die volk? Hulle moes tog iets kon aflei uit (1) Johannes se kleredrag, (2) Jesaja 40:3 wat hy aanhaal, (3) die volk en hulleself wat nie gereed is nie, (4) die nederige wyse wat Johannes homself voorstel, (5) die boodskap wat hy verkondig, (6) die Messias na wie hy heenwys, en (7) die plek en (8) naam waar Johannes dit doen (Betabara beteken oorgang).

Dit is opvallend hoe duidelik Johannes verklaar wie hy nie is nie. Gesante van die Here moet seker maak dat mense dat mense nie te veel van hulle dink nie en dat die duiwel hulle ook nie meer van hulself laat dink nie (vgl. Hd. 14:14-15; 2 Kor. 1:24; 12:6). Daar kan ’n geestelike hoogmoed ontstaan waarin gesante iewers langs die pad nie meer nederig en diensbaar is om mense effektief te kan help nie omdat hulleself te belangrik is. Elke gesant moet besef dat jy nie iemand anders se probleme self kan oplos, of hul sonde kan reinig en wegneem, of iemand effektief kan vernuwe nie. Hulle kan wel soos Johannes die weg na die Messias aanwys en Hom bedien wat gekom het en weer sal kom.   

Gesante moet egter ook seker maak dat mense dat mense nie te min van hulle dink nie. Hoewel Johannes uniek is leer ons by hom oor die regte gesindheid. Hy weet wie hy nie is nie, maar ook wie hy is en waarvoor hy geroep is. Daarom roep hy ook (v.23) onverskrokke uit omdat sy boodskap so belangrik is. Sy hele bediening is daarop gemik om (1) mense op te roep om hulle lewens gereed te kry vir (2) die koms en grootheid van die Messias. Hierdie Messias moet meer word, maar hy, en ons, minder (Joh. 3:30). Die rede is dat mense self met die Here Jesus verder moet gaan. Johannes ag die Messias so groot dat hy homself nie eens waardig ag om sy geringste slaaf te wees wat sy skoenriem losmaak nie. En tog doen hy ook deeglik sy bestemde deel. Hoe groter die Messias in ons oë is, hoe heerliker is die kleinste voorreg (vgl. Ps.84:11). Johannes is nie Elia nie, maar kom wel in die krag en die gees van Elia, en dit is opvallend dat ander geloofwaardiges eerder so oor hom getuig (vgl. Mal: 4:5; Luk. 1:17; Mat. 11:14; Spr. 27:2). Die Gees van Christus is nou op Christene om dit voort te sit in die nuwe verbond en met nederigheid Hom te verkondig wat gekom het sodat ’n ware Christusfees mag vier.  

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Frederick Bruner, The Gospel of John.

Ignatius Catholic Study Bible.

Matthew Henry. (Hierdie boodskap leen sterk aan op Henry. Henry se bespreking oor hierdie verse is besonders).