"As jy jou filosofie uit varke en sambrele kan bewys, het jy bewys dat dit 'n ernstige filosofie is." – G.K. Chesterton.
Ons het die vorige keer gesien dat ’n vorige geslag Calviniste dit belangrik geag
het om sieners in plaas van kykers te wees. Selfs ’n hele universiteit is voorheen
hierop gebou en hierdie ideaal word tans voortgesit in nuwe instellings. Dit beteken
meer as herhaal. Dit beteken ook dat ons vra hoe ons voortbou op hulle wat ons
voorgegaan het. Ons het hierin reeds gekyk na die gevaar van ’n soort plat wêreldbeskouing
wat skynbaar in vakkies uitgesorteer is, maar waarin die bekende nie meer
wonder-vreemd aandoen nie. Een van die kure hiervoor, het ons gehoor by die
Chestertoniaanse Calvinis, Douglas Wilson, is om by oom Ches te leer dat verbeelding
ons anderkant blote wêreldbeskouing neem. Ons gaan nou verder hierop in.[i]
Wilson skryf nie sistematies oor Chesterton se verbeelding nie, maar eerder
beeldryk en pulserend. Met die wete dat dit eerder gesnap as aangeleer word, gaan
ons tog met behoud van die beelde, op vier sake let wat na vore tree in Wilson se
bespreking van oom Ches en wat mag help om lewens en wêreldbeskouing na die
volgende vlak toe te neem.