2013/12/28

Noem dit by die naam

In beseringstyd van die jaartal 2013 is dit gepas om darem te bevestig dat hierdie woernaal nog leef. James Matthew Wilson het die vonk verskaf. Hy resenseer 'n boek van Dreyfus en Kelly met titel, All Things Shining: Reading the Western Classics to Find Meaning in a Secular Age. Die here, Dreyfus en Kelly, word nie dawerend besing nie, maar wel punte gegee vir skitterlopies hier en daar. Tog is James Matthew se uiteindelike bevinding sterk krities. En hy verskaf in hierdie siel ontbranding vir 'n hertoetrede tot die blogosfeer. In sy evaluering maak hy die volgende uitspraak: 

For all the brilliant erudition of this volume, it seems the authors do not entertain Christianity as a plausible answer to our modern woes simply because they do not wish to. Theirs is one more Cartesian direction of the will, choosing to see our age as secular and nihilist rather than pagan and idolatrous.

Lees weer die laaste sin. James Matthew Wilson verskaf 'n lewensbelangrike perspektief. Die woorde sekulêr en nihilisme is welluidende, gewilde gonswoorde in ons dag. Maar die vraag moet gevra word of dit nie dalk eufemismes geword het nie - sagte woorde wat die eintlike dilemma nie by die naam wil noem nie.