2014/02/07

Vertel, vertel

Hier is ’n opsomming van die Vertel, vertel reeks se model en benadering om aan kinders kategese te gee. Wat in hierdie model uitstaan is (1) die beklemtoning van die een groot ware verhaal van die hele Bybel, (2) kinders wat geleentheid kry om die verhaal terug te vertel, sowel as (3) beeldmateriaal wat aan die agterspeen suig. Ja, jy het reg gehoor. Ek het nie altyd vrede met hoe die verhaal dan in sy detail oorvertel word nie. Sekere invoegings - soms - kom vir my net te flagrant voor. Tog is die model stimulerend. Ek gee die hoofgedagtes van die model weer soos wat dit in die inleiding verduidelik word:

·        Die groot verhaal word in verskillende kleiner verhale vertel.

·         Noukeurig en beeldryk.

·         Vertrou die Bybelverhaal self om in die kinders te werk.

·         Die Oral Learning model wen baie veld. Dit is steeds die manier hoe meer as ⅔ van die wêreld se mense leer.

·         Die moderne wêreld het ’n versadigingspunt bereik met visuele beelde. Die vertel en oorvertel van die verhaal word weer een van die belangrikste wyses van leer.

·         Binne die groot verhaal van God speel ons eie lewensverhale af

·         Geloofsvorming by ons kinders vind plaas wanneer hul eie verhaal beleef word as deel van die groot verhaal van God se liefde vir ons.

·         Deur net die groot verhaal van God oor te vertel, toon ons dat ons alle vertroue in die verhaal het om sy kragtige werk aan kinders te doen.

·         Die kleiner verhale behoort kronologies op mekaar te volg en ook voortdurend ingebed te word in die groter verhaal. Die bedoeling is om lewenslesse nie los te maak van die groter verhaal nie.

·         Geen prente of aktiwiteite wat die aandag van die verhaal self aftrek nie.

·         Geen verwysings na die konteks vandag of toepassings vir vandag in die verhaal self nie. Die verhaal self word vertrou om die toepassings vir elkeen te bring.


·          Tog moet die verhaal tuiskom in elke kulturele konteks.

·          Dit moet verkieslik voorgelees en nie in eie woorde vertel word nie.

·          Dit word so vertel dat die hoorder ’n prentjie kan vorm van wat gebeur. Die hoorder word dus gehelp om  verbeeldingryk te luister. Maar dramatisering word teologies verantwoordelik gedoen.

·          Luister sal lei na lees. Daarom word die Bybel nie self gelees nie. Hulle word wel aangemoedig om dit in die    week by die huis te gaan lees.

·          Die kinders word geleer om die verhaal weer oor te vertel. So word hulle speel-speel deel gemaak van die  verhaal. So word hulle ook geleer om die verhaal van God se liefde oor te vertel.


Indeling van die tyd:

Vooraf:  Regte stemming, gemaklik, bid en sluit eers aan by die vorige verhaal om konteks te kry
Vertel, vertel: “simply the story.” Verhaal word met goeie vertelstyl voorgelees en oogkontak gemaak. Geen verduidelikings en toepassings nie

Vertel weer: Kinders vertel saam die verhaal weer oor vir mekaar. Nog nie te veel vrae en verduidelikings hier nie. Drama en toneelspel kan hier ook gebruik word.

Kom ons dink saam:  Vra vrae met die oog op stimulering van die gesprek en om die kind te begelei om self toepassings te maak. Fokus aanvanklik om ’n beeld van die verhaal in te prent; dan op feite wat die verhaalstruktuur dra; dan vrae wat kinders help om toepassings vir hul eie lewe te vind. En as die kinders eers met mekaar begin praat, leer hulle die meeste. Die bedoeling is dat hulle deur die verhaal gelei word om die boodskap te ontdek.

Ontdek en leer:  Kinders word nou aangemoedig om die gedeelte self in die Bybel te gaan lees. Toepaslike teksgedeelte word geleer. Laat die hele groep die teks saam opsê of laat elkeen ’n woord bylas. Kinders word ook aangemoedig om die verhaal te gaan toepas en met God in ’n verhouding te gaan leef. Begelei hulle ook in gebed en lei hulle in lof, aanbidding, skulderkenning, ontvangs van vergifnis, gebede vir onsself, mekaar en die wêreld, en om hulle elke keer weer aan die Here oor te gee. Lei hulle om hul geloof te bely en liefde en toewyding aan Hom te verklaar.


Ontdek en Leer blokkie -  voorbeeld op p.32 van boek 1:


·         Jy kan hierdie verhaal in genesis 16 vers 1 tot 16 en Genesis 31 vers 8 tot 21 lees.
·         Ken jy mense wat baklei en mekaar wegstoot en wegjaag? Dink bietjie; hoekom gebeur dit?
·         Leer en onthou: “U is ’n God wat my sien.” (Genesis 16 vers 13).
·         Bid: “Here, daar is so baie kinders wat nie meer in ’n gelukkige huis en gesin woon nie. Dankie, dat u hulle raaksien. Sorg asseblief vir hulle.”