2013/08/28

Niemand anders verdien dit nie

Dit is die moeite werd om daarop te let dat die woord verlosser in die Nuwe Testament agt keer op God van toepassing gemaak word, op Jesus sestien keer, en op hoegenaamd niemand anders nie, nooit nie. En tog was die Griekse woord soter (verlosser) 'n redelik algemene term in die klassieke wêreld. Dit is as eretitel op beide menslike konings en militêre oorwinnaars toegepas, asook op die groot gode en helde van die mitologie. Maar dit gebeur nie in Nuwe Testamentiese Christenskap nie. "Verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit ... en aan die Lam" (Op. 7:10). Niemand anders verdien eers die woordeskat nie. - Christopher J. H. Wright in The Mission of God, p. 120.

2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

2013/08/20

Blomkamp en Elysium

Elysium: Neill Blomkamp Fools the Critics Again
Ek oefen my Boere-Ingels, bloot omdat ek dit reeds op fakebook moes doen, hier vir 'n paragraaf lank oor Neill Blomkamp van District 9-faam se nuwe Elysium. Die skakel wat hier en  daar gebied is belangriker. Dit vestig ons aandag daarop dat liberales dalk Blomkamp se dekonstruksie en polities inkorrekte kortribhoue mis.

2013/08/10

Reformasie en troebel tye

Ons reken mos maklik dat ons tydsgewrig ’n revolusionêre tydvak is. 'n Mens is egter maklik in die versoeking om die belang van jou eie tyd te oorskat. Hier is net so 'n kort herinnering aan die turbulente tye van die Reformasie. Dit kan miskien help om die bysiende kyk op ons eie situasie te verlig deur kenis te neem van onstuimige toestande buite ons tydsradars. Mathison (p. 83) beskryf die rustelose toestande ten tye van die Reformasie so:

2013/08/08

Só word jy dapper

"Kaptein, my geloof leer my om net so veilig in 'n veldslag as in 'n bed te voel. God het die tyd vir my dood bepaal. Ek is nie besorg daaroor nie, maar eerder om altyd gereed te wees, maak nie saak wanneer dit my oorval nie. Dit is die manier waarop alle mense behoort te lewe, en dan sal almal ook ewe dapper wees."    - Stonewall Jackson

2013/08/06

Opgewarmde skeptisisme


Ross Douthat is die jongste vryskut rubriekskrywer ooit by die New York Times. Hy dra die konserwatiewe balkie by die koerant en is maar 34 jaar oud. Sy publikasie, Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics, het verlede jaar verskyn en doen goeie werk om heelwat dros uit godsdienspraatjies te verwyder. Ross het die genade ontvang om na links en na regs krities te wees; iets wat eintlik tog so normaal soos melk behoort te wees vir elkeen wat glo dat Christus niemand se lakei is nie. In sy onlangse artikel in die New York Times neem hy die afgesaagde modernistiese liberale kyk op Jesus Christus onder die loep. Hy doen dit na aanleiding van Reza Aslan se onlangse kontroversiële boek, eintlik net maar die nuutste in 'n rits van boeke wat Jesus Christ Superstar met nuwe woorde wil opvoer. Aslan is egter 'n Moslem en dit maak die ou-ou kenwysie vir sommige nou weer nuut en vars.

Ek weet nie of ek op elke faset van Douthat se apologetiek op die Reza Aslans van die wêreld sal inkoop nie, maar een ding kry hy reg wat regtig harder getrompetter moet word. Douthat toon aan dat al die pedantiese analises van Christus dieselfde vervelige struktuur vertoon. Die een sê Hy, die Jesus, was bloot 'n nasionalis en die ander weer dat Jesus bloot 'n apokaliptiese profeet was. "Julle is almal verkeerd," sê 'n derde skoolvos hier neffens ons. "Dit gaan oor Jesus, die sjamaan." Dit is nou as jy een van Suid-Afrika se onlangse toevoegings wil glo. Werklik!

Douthat se aanslag is voortreflik. Hy gaan wys te werk en skel nie die wyses van hierdie eeu met 'n skril pen uit nie. Nee, hy ontbloot die grondstruktuur en toon aan hoe afgesaag en tendensieus en eintlik baie voorspelbaar hierdie hele beweging is.

2013/08/03

Psigo-politiek

Psigologie, sosiologie, en kultuur het baie met mekaar te make. Anders gestel: Dit wat in die hart van een enkele mens aangaan, gaan dikwels in die harte van duisende ander ook aan. Jy kan die duisende as deel van 'n bepaalde kultuur, maar selfs ook as deel van 'n bepaalde era beskou. Die dalende of stygende watervlak van 'n kultuur of era het die manier om ons almal se bootjies in dieselfde rigting te beïnvloed. Jules Evans, iemand wat met die insigte van die CBT-ouens werk (Cognitive Behavioral Therapy), het hierdie insig onlangs helder verwoord:

"Sokrates het daarop aangedring dat daar 'n sterk verband bestaan tussen jou filosofie (hoe jy jou wêreld interpreteer en wat jy reken belangrik in die lewe is) en jou verstandelike en fisiese gesondheid. Verskillende oortuiginge lei tot verskillende emosionele toestande - en verskillende politieke ideologieë manifesteer ook in verskillende vorme van emosionele siekte. Byvoorbeeld, ek het te veel waarde geheg aan die goedkeuring van ander mense (wat Plato reken is die klassieke siekte van liberale demokrasie) en hierdie filosofie het my sosiaal angstig gemaak." (p. 6).

Die verband tussen sielkunde se uitwerking op die individu en 'n hele kultuur vra aandag. In sy groot apologetiese werk, Miracles, trek C.S. Lewis die verband tussen politiek en sienswyses - en per implikasie sielkunde - in 'n ander verrassende rigting. Hy maak die opmerking sommer heel vroeg dat Naturalisme ons 'n demokratiese beskouing op die werklikheid gee, terwyl Supernaturalisme aan ons 'n monargiese beeld van die werklikheid gee.

2013/08/02

Kwaad in die kerk?

Dit is nie net Afrikaners wat aan afstigting ly nie. Die afsplitsing sindroom sit in almal se bloed. Mense verenig dikwels rondom dit wat Girard 'n offerkrisis noem - daar waar die spanning geleidelik oplaai tot by die punt van toornontbranding op, of toornverbanning van, een of ander sondebok. Dit gebeur selfs in kerke en dan skeur ons maklik af of verban iemand in die naam van een of ander sogenaamde beginsel. Hierdie aksie sluit dikwels aan by die bluf-jouself vriendekring wat in die vorige skrywe genoem is. Indien jy die normale struktuur van menige kerkskeuring beter wil begryp, kan Doug Wilson se onlangse besinning 'n ver ent help. En in die lees ontvang 'n mens sommer op die koop toe weer die evangelie in sy onverdunde formaat.