Wys tans plasings met die etiket 1 Konings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket 1 Konings. Wys alle plasings

2022/06/23

Koelte midde die oordeel

Lees: 1 Kon. 19:9b-21

Gedagte vir kinders: God bring sy oordeel op sy eie tyd wanneer mense nie luister nie.

Oorsig: Elia het ’n geweldige hoogtepunt in sy bediening as profeet beleef met vuur wat op die altaar neerdaal op Karmel. En tog, net daarna begin Isebel hom tot die dood vervolg en hy kom agter (“sien”) dat sy nie teengegaan sal word nie (v.1-3). Elia onttrek hom toe van Israel tot anderkant die verste suidelike punt van die land (Berseba) en eindig in die woestyn onder ’n besembos waar hy wens dat hy mag sterwe. Maar God het hom deur sy engel gevoed en versterk om vir veertig dae tot by die berg Horeb te loop.

Dit is daar waar die Here in die spelonk na Elia kom en vra wat hy daar doen. Elia antwoord dat hy baie geywer het vir die HERE, die God van die leërskare en hy kla die kinders van Israel oor drie dinge aan: (1) Hulle het die verbond van die HERE verlaat, (2) hulle het sy altare afgebreek, en (3) die HERE se profete met die swaard doodgemaak sodat Elia alleen oorgebly het en hulle nou ook sy lewe soek (v.9b-10). God het hom toe beveel om uit te gaan en te staan op die berg voor die HERE. Daarop het die HERE verbygegaan terwyl ’n sterk wind die berge skeur, maar die Here was nie in die wind nie. Daarna was daar ’n aardbewing en ook daarin was die Here nie. Na die aardbewing was ’n vuur, maar ook daarin was die HERE nie. Daarna was daar ’n sagte koelte waarin die HERE was. Elia draai toe sy gesig met ’n mantel toe en gaan by die ingang van die spelonk staan.