Lees: Mt.
18:21-35
Gedagte vir kinders: Hulle
wat die Here se vergifnis leer ken het, kan ander mense vergewe.
Oorsig: Die Here Jesus was besig om sy dissipels te leer van
nederigheid, sonde in die gemeente, en van tug en herstel. Petrus het toe gevra
hoe dikwels ’n mede-broeder teen jou mag sondig en weer en weer vergewe word.
Sal dit selfs sewe maal wees, dubbeld meer as die reël onder hulle - drie keer
plus een? (v. 21; vgl. Amos 1:3 e.v.). Die Here Jesus het geantwoord dat dit
eerder 70x7 moes wees, met ander woorde sonder perke solank daar geluister word
(v. 22; vgl. v. 15-16). Daarna het Hy dit deur ’n gelykenis verduidelik.
’n Sekere koning wou verslag kry oor sy diensknegte se werk
met sy geld (v.23). So het daar een na hom gekom wat 10 000 talente skuldig
was. Dit was meer as ’n hele provinsie se skuld, (ongeveer 10 000 x R3,25m = R32,5
miljard. Dalk was hy ’n goewerneur). Omdat hy nie naastenby kon betaal nie, het
die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders as slawe verkoop moes word,
saam met alles wat hy gehad het en dat daar so betaal moes word vir sy skuld
(v.23-25). Die dienskneg het toe (1) voor die koning neergeval en (2) hom gevra
om lankmoedig te wees, en (3) gesê dat hy alles sal betaal (wat hy nie kon nie).
Die Koning het hom egter (1) innig jammer gekry, (2) hom losgelaat en (3) die
skuld kwytgeskeld (v.26-27). Wat ’n wonderlike vryspraak was dit nie! Maar toe
het daar iets baie hartseer gebeur.
Toe daardie vrygespreekte dienaar uitgaan, vind hy een van sy
mededienaars wat hom 100 pennings skuld (dagloon x 100: ongeveer R30 000
teenoor sy skuld van R3,25 miljard). Hy het hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal
my wat jy skuld.” Sy mededienaar val toe voor sy voete neer en smeek hom toe ook
met sy eie liggaamshouding teen die grond en met sy eie woorde van vroeër, om
lankmoedig te wees en dat hy alles sou betaal (wat hy kon, v.28-29). Maar hy
wou nie en het hom in die gevangenis gewerp totdat hy sy skuld sou betaal. Sy
mededienaars was hieroor baie hartseer en het aan die koning alles vertel
(v.30-31). Die koning het daardie man toe geroep en vir hom gesê: “Jou slegte
dienskneg, al daardie skuld van jou het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek
het. Moes jy nie ook so barmhartig wees teenoor jou mededienaar soos ek ook
teenoor jou nie?” (v.32-33). Toe het die koning hom in toorn oorgegee aan die
pynigers totdat hy alles sou betaal, wat natuurlik nooit sou kon gebeur nie. En
toe het die Here Jesus ’n groot waarskuwing gegee: So sal die Vader aan ons
doen wat nie elkeen sy broeder (of suster) van harte sy/haar oortredinge
vergewe nie (v.34-35).
Besprekingsvraag: Waarom
is dissipline en vergifnis nodig in die opbou van die Kerk?
Insig: In Mattheus 10 leer ons oor die Kerk se uitbou-werk na buite en in Mat 18 hoor ons van die Kerk se opbou-werk na binne (Bruner). Beide is belangrik vir ’n lewenskragtige gemeente. Na binne beteken dit dat ’n gemeente sonder dissipline, maar ook vryspraak, ’n gemeente is wat maklik net ’n gedaante van godsaligheid kan hê.