Wys tans plasings met die etiket Psigo-politiek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psigo-politiek. Wys alle plasings

2021/10/21

Boekbespreking: Joyce Little, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order (1)


Wanneer ’n publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose benadering wat oor eeue heen kom. Little  toon oortuigend aan hoe al die bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie. Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te herstel.   

Boute en moere van twee teenoorstaande ordes

In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.

2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

2013/08/03

Psigo-politiek

Psigologie, sosiologie, en kultuur het baie met mekaar te make. Anders gestel: Dit wat in die hart van een enkele mens aangaan, gaan dikwels in die harte van duisende ander ook aan. Jy kan die duisende as deel van 'n bepaalde kultuur, maar selfs ook as deel van 'n bepaalde era beskou. Die dalende of stygende watervlak van 'n kultuur of era het die manier om ons almal se bootjies in dieselfde rigting te beïnvloed. Jules Evans, iemand wat met die insigte van die CBT-ouens werk (Cognitive Behavioral Therapy), het hierdie insig onlangs helder verwoord:

"Sokrates het daarop aangedring dat daar 'n sterk verband bestaan tussen jou filosofie (hoe jy jou wêreld interpreteer en wat jy reken belangrik in die lewe is) en jou verstandelike en fisiese gesondheid. Verskillende oortuiginge lei tot verskillende emosionele toestande - en verskillende politieke ideologieë manifesteer ook in verskillende vorme van emosionele siekte. Byvoorbeeld, ek het te veel waarde geheg aan die goedkeuring van ander mense (wat Plato reken is die klassieke siekte van liberale demokrasie) en hierdie filosofie het my sosiaal angstig gemaak." (p. 6).

Die verband tussen sielkunde se uitwerking op die individu en 'n hele kultuur vra aandag. In sy groot apologetiese werk, Miracles, trek C.S. Lewis die verband tussen politiek en sienswyses - en per implikasie sielkunde - in 'n ander verrassende rigting. Hy maak die opmerking sommer heel vroeg dat Naturalisme ons 'n demokratiese beskouing op die werklikheid gee, terwyl Supernaturalisme aan ons 'n monargiese beeld van die werklikheid gee.

2013/07/31

Die dors van jaloesie

Hier is nou 'n verklaring wat meer dinge verduidelik as wat ons dalk wil hoor. Dit help jou om 'n enigma te ontrafel. Dit is 'n raaiselagtige fenomeen wat nie net in SA manifesteer nie. Kyk egter dieper as net die voor die hand liggende toepassings in Suid-Afrika. Niemand van ons wil graag hoor dat jaloesie nader aan ons beginsels en stryde is as wat ons dink nie: "Thus it was precisely in those parts of France where there had been most improvement that popular discontent ran highest."

'n Boer in die Bothaville distrik het my vertel van sy ontnugtering toe hy opheffingswerk begin doen het op sy plaas, veral nadat hy 'n boer-van-die-jaar toekenning ontvang het. Die vakbond het skielik op hom toegesak en hy het meer probleme met sy werkers gehad as ooit tevore. Waarom? Bogenoemde artikel verduidelik die psigo-politiek ten grondslag van sulke tipe aksies.

Moet egter nie die drie vingers verbygaan wat terugwys nie. Die artikel toon aan hoe dieselfde saak ook in Frankryk plaasgevind het. Ook in Afrikaners se binnegevegte kan ons dieselfde motiewe vinnig ruik indien ons neuse oop is. Hoe meer mense dieselfde is, hoe meer begeer hulle dieselfde dinge en hoe makliker bots hulle ambisies. Enige volkstaat behoort hierdie feite deeglik te verreken. Die volgende vertaling uit die genoemde stuk moet dalk iewers gegraveer word: