Wys tans plasings met die etiket retoriek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket retoriek. Wys alle plasings

2011/11/19

Wat en hoe loop altyd saam

Hierdie gesprek het vir seker ook 'n ander kant, maar ons gaan hier stilstaan by die hand-in-eie-boesem kant. Dit gaan oor hoe mense diegene onder ons beleef wat sterk oortuiginge het. Daar is vir seker dikwels 'n onregverdige en selfs moedswillige karikatuursketsing waaraan Calviniste in sekere situasies onderwerp word, maar dit is nie nou hier die punt nie.

Die punt is: Hoe beleef mense ons wat in die tradisie van Calvyn verder wil stap en op hierdie glorieryke maat nuut wil improviseer vir ons tyd? Ons kan hierdie saak natuurlik ook baie wyer van toepassing maak as net met betrekking tot Calviniste, maar hier is 'n beskrywing wat Calviniste - en natuurlik ook enigiemand anders met sterk oortuigings en optrede - gerus selfondersoekend kan lees. En as jy dit lees en die eerste wat by jou opkom is "ja, maar ...", is dit 'n bewys dat jy nie regtig die punt snap van waaroor dit hier gaan nie.

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons almal geneig is om een deurslaggewende maatstaf te gebruik die oomblik dat ons van stryde hoor waaroor ons self te min weet of bloot oningelig is: Ons kyk hoe die verskillende partye hulle in die proses gedra. Ons kyk ook wie so ver moontlik probeer uitbly uit die kloue van die vleeslike kenmerk van skadelike groepvroming en ons-hulle benaderings binne die kerk van Christus (vgl. 1 Kor 3:1-8). Hoe beleef mense ons wanneer ons verskil? Sien hulle bloot vleeslikheid in al ons tegniese korrektheid? Hoe beleef die teëparty ons wanneer ons verskil?

Daar was volgens oorlewering eenmaal 'n teologiestudent wat 'n leespreek van 'n beroemde prediker vir die gemeente voorgehou het. Om homself waarskynlik ook 'n bietjie te beskerm, het hy in sy eerlikheid erkenning gegee aan die outeur van sy leespreek. Die beroemde prediker was daardie Sondag self in die erediens en het blykbaar na die tyd teleurgesteld na die student gegaan en vir hom gesê: "Broeder, as jy dit op die wyse voordra wat jy dit gedoen het, moet asseblief nie sê dat dit my preek is nie." Ons behoort onsself af te vra of Christus nie dalk ook die volgende vir ons sou sê nie: "Indien dit die wyse is waarop jy/julle My waarheid voorhou, moenie sê dat dit van My afkomstig is nie."