Wys tans plasings met die etiket Visie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Visie. Wys alle plasings

2011/11/04

Die niervet en die pruime saam

Die Middeleeue was nie 'n vakkies-periode soos ons s'n nie. Hulle het hul intellek, gevoel, filosofie, romanse, politiek, wetenskaplike en godsdienstige oortuiginge, toesprake, geselsies en kontemporêre besprekings in een ontsaglike en gevarieerde kersfeespoeding gemeng. Hulle het dit ingeneem met watter lepel ook al handig te pas gekom het, die niervet en die pruime saam, en met die aptyt van 'n omnivoor waaroor ons onsself net kan verwonder.

2011/10/17

Ontmoet 'n verbeeldingdokter

Nate Wilson is 'n opkomende Christenskrywer wat op die oomblik sy aandag daarop toespits om veral die verbeeldings van kinders so te voed dat hulle grootoog verwondering oor God en sy wêreld nie taan nie, maar toeneem. Ek het al menigmaal gedink dat sy verhale beter voedsel vir verwondering is as menige teologie-, filosofie-, of motiveringsboek. En tog het ek nog nie daarby uitgekom soos dit hoort nie. Sal 'n plan iewers moet maak. Nate Wilson, of N.D. Wilson soos hy bekend staan in die outeursfeer, het die gawe om jou nuut na bekende dinge te laat kyk en dan te laat wonder hoekom jy dit nie self raakgesien het nie. Hier is 'n bydrae wat hy onlangs vir die bekende webwerf, desiringgod.org, geskryf het en welverdiende aandag trek. Ek het dit probeer vertaal vir diegene wat dit dalk net onder oë sal neem indien dit in onse taal getooi en geplooi is.

Daar is een moontlike misverstand wat sogenaamde "nuwe hervormers" hiermee kan hê en wat ek sou wou noem die kat-aan-die-stert misgissing: Omdat mites en oorgelewerde verhale soms soveel ooreenkomste met die Bybel se ware verhaal vertoon, is dit vir die agterstevoor-kundiges die bevestiging dat die Bybel net nog 'n voorbeeld van mites en sages is. Dit is kat-aan-die-stert logika. Hanteer hierdie kat soos dit hoort op jou skoot en dan verstaan jy dat die Bybel se boodskap so kragtig is dat selfs mites en sages nie kan help om dit na te boots nie. Wanneer hierdie kat van die regte kant benader word, kan dit ons help om beter te begryp in watter WERKLIKE fantasie ONS leef met die (on)gelooflikste ontknoping denkbaar. En soos iemand iewers gesê het: Die beste omtrent hierdie fantasie is dat dit waar is. Mag hierdie bydrae van N.D. Wilson help om jou en my oë oop te spalk vir die krag van die wonder(like) boodskap van die Bybel en daarom ook van verhale aan ons kinders wat daarvan afgelei en daarop geskoei is:


Verhale is sielekos: Moenie jou kinders laat verhonger nie

2011/10/11

Kan entrepreneurs soms gevaarlik wees?

’n Samelewing wat algemeenheid kultiveer, wat suspisieus is oor genialiteit, wat meer agting het vir die entrepreneur wat die smaak van die massas bedien as die visionêr wat die geeste van net 'n handjievol uitdaag – so ’n samelewing loop altyd die gevaar om waarde te definieer in terme van onmiddellike aanvraag, eerder as ewigheidsbetekenis.
Ken Myers, in All God’s Children and Blue Suede Shoes. p. 22, 23.

2011/09/02

Die dinamiek van 'n deftige drieslag

“Bloed, sweet en trane.” 
“Vrede, brood en grond.” 

Moenie die krag van bevatlike betoë onderskat nie. Jy kan daardeur bewegings op sleeptou neem. Winston Churchill en Vladimir Lenin het met bogenoemde gelaaide woorde mense geïnspireer, op heilsame maar ongelukkig ook onheilsame wyses. Hulle en talle ander instellings en persone het dit deur die eeue heen reggekry deur die gebruik van dit wat ’n triade genoem word (lees mooi - nie 'n tirade nie ... ). ’n Triade is ’n deftige woord om ’n drieslag aan te dui, sê die HAT. Afvaardigings, advertensies en betoë maak dikwels hiervan gebruik. Oor die algemene gebruik hiervan in betoë merk Mayer in sy boek oor effektiewe redevoering, How To Win Every Argument (vieslike titel, effektiewe verkoopstegniek), op dat daar in die praktyk eenvoudig net iets is wat krag aan ’n triade verleen en iets afrond.

Ons weet dit is waar. ABSA sê "Vandag, more, altyd saam." Rice Crispies sê "Snap, Cracle, Pop". Die advokaat se finale effektiewe betoog het dikwels drie punte. En die dominee, voor hy hom kon kry het sy preek gewoonlik drie punte. "Hoekom het 'n dominee se preek altyd drie punte?" vra iemand nou die dag. Miskien is dit omdat die gemeente nie meer as drie punte kan hanteer nie...? Net gou 'n realiteitsflits. Dit word vertel dat Puriteinpredikers dikwels op 'n Sondag so ses en dertig punte in hul preek gehad het. En dan sou twee bure in die week met mekaar oor die heining gesels en selfs 'n bietjie verskil oor wat punt nommer vier en twintig nou weer was! Maar miskien is die storie nie reg vertel nie. Die dominee het maar net drie punte met twaalf onderafdelings elk gehad en hulle kon net die eerste twee punte onthou. Ondankbare lidmate as jy my vra ...

2011/08/28

Om iets met iets te beveg

'n Mens kan nie iets met niks beveg nie. Dit is 'n oer-reformatoriese waarheid. Anders gestel: Christene doen nie ander dinge as ander mense nie. Hulle doen dieselfde dinge wel anders. Dit beteken hulle vul dieselfde dinge met ander inhoud - of dit nou gaan oor politiek, prokureurs of partytjie; en of dit nou gaan oor vissermanne, vrolikwees of visie.  

Vergun my 'n paar woorde oor visie. Ons is seker almal al redelik voos gevisie en gemissie by die organisasies waarby ons betrokke is - werksgewys, kultuurgewys en selfs kerkgewys. Maar soos reeds gesê: Jy kan nie iets met niks beveg nie. As ons nie visie vir iets het nie, beteken dit bloot dat iemand anders wat wel (moontlik verwronge) visie het, die leiding gaan gee. Laat my toe om iets oor die oorkoepelende visie van ons lewens te deel waarop jy kan gaan verbeter as jy kan. Canon Press, die plaaslike Christelike uitgewers waar ek tans is, verwoord hulle visie so:
1. Om produkte te skep en te voorsien wat die visie van 'n vol lewe voorhou: 'n lewe vol van skoonheid, tradisie, samesyn, opvoeding, lag en feesviering.
2. Onbeskaamd vir Christus en skerp gekant teen die waardes van moderniteit.
3. 'n Volwasse kultuur met die kerk in die sentrum daarvan, terwyl die goeie lewe uitgeleef word - een huisgesin op 'n slag.  

Die groot vraag is natuurlik nog steeds hoe die visie ingekleur word. Kom ons volstaan vir nou met die buitelyne. Wat sou jy hierop wou byvoeg of aftrek, vermenigvuldig of deel? Hier is weer geleentheid vir 'n meningspeiling in die kolom aan die regterkant. Vul nege uit tien in as jy nie hierop kan verbeter nie, agt as jy reken jy kan 'n ekwivalent bied, sewe as jy dink jy kan hierop verbeter en ses as jy reken die visie is maar karig. Deel dan jou visie met jou vriende en laat hulle besluit of jou puntetoekenning geloofwaardig was.