2011/10/17

Ontmoet 'n verbeeldingdokter

Nate Wilson is 'n opkomende Christenskrywer wat op die oomblik sy aandag daarop toespits om veral die verbeeldings van kinders so te voed dat hulle grootoog verwondering oor God en sy wêreld nie taan nie, maar toeneem. Ek het al menigmaal gedink dat sy verhale beter voedsel vir verwondering is as menige teologie-, filosofie-, of motiveringsboek. En tog het ek nog nie daarby uitgekom soos dit hoort nie. Sal 'n plan iewers moet maak. Nate Wilson, of N.D. Wilson soos hy bekend staan in die outeursfeer, het die gawe om jou nuut na bekende dinge te laat kyk en dan te laat wonder hoekom jy dit nie self raakgesien het nie. Hier is 'n bydrae wat hy onlangs vir die bekende webwerf, desiringgod.org, geskryf het en welverdiende aandag trek. Ek het dit probeer vertaal vir diegene wat dit dalk net onder oë sal neem indien dit in onse taal getooi en geplooi is.

Daar is een moontlike misverstand wat sogenaamde "nuwe hervormers" hiermee kan hê en wat ek sou wou noem die kat-aan-die-stert misgissing: Omdat mites en oorgelewerde verhale soms soveel ooreenkomste met die Bybel se ware verhaal vertoon, is dit vir die agterstevoor-kundiges die bevestiging dat die Bybel net nog 'n voorbeeld van mites en sages is. Dit is kat-aan-die-stert logika. Hanteer hierdie kat soos dit hoort op jou skoot en dan verstaan jy dat die Bybel se boodskap so kragtig is dat selfs mites en sages nie kan help om dit na te boots nie. Wanneer hierdie kat van die regte kant benader word, kan dit ons help om beter te begryp in watter WERKLIKE fantasie ONS leef met die (on)gelooflikste ontknoping denkbaar. En soos iemand iewers gesê het: Die beste omtrent hierdie fantasie is dat dit waar is. Mag hierdie bydrae van N.D. Wilson help om jou en my oë oop te spalk vir die krag van die wonder(like) boodskap van die Bybel en daarom ook van verhale aan ons kinders wat daarvan afgelei en daarop geskoei is:


Verhale is sielekos: Moenie jou kinders laat verhonger nie

'n Wantroue in betowering?


Bybelgelowige Christene het dikwels'n diep wantroue in fiksie. Hulle het in die besonder 'n diep wantroue in, uhm, magiese gebeure. Vir my is dit onmoontlik om dit te verstaan, gedeeltelik omdat ek gespeen is op CS Lewis en JRR Tolkien, maar besonders omdat ek gemarineer is in die Skrif op 'n baie jong leeftyd (deur my ouers). En die Bybel is vol  van ... verhale. Ja, sterker gestel, die Skrif is vol van wonders en die asembenewende. "Gooi water op die altaar," sê Elia. "Vuur sal steeds uit die hemel val." 'n Beroemde skaapwagter vel 'n berugte sesvinger reus. Moenie die langhaar-man naby 'n eselskakebeen laat kom nie. Versamel die diere en bou 'n boot. Wat jy ook al doen, moenie luister na daardie slang nie.

Bybelvasvra: Het Farao se towenaars werklik stawe in slange verander? (Wenk: Ja).

Christene dien die Mens wat op water geloop het. Ons dien die Mens wat nie in die ingewande van die groot vis gehou kon word nie, die Mens wat die graf verpletter het, en op sy eie, die stadspoorte van 'n plek genaamd Dood aan flarde geskeur het.

Verfoei die duisternis en leef vir die Lig


Christene glo dat die wêreld baie meer as 'n meganiese siellose masjien is. En tog, ons vertel ons kinders verhale wat (ons hoop) net tot hulle intellek sal spreek. Ons wil hulle 'n lysie van feite gee om af te tik, so asof ons probeer om 'n partypolitieke platform te kommunikeer aan nuwe rekrute, so asof hulle niks anders as breine is wat gereed is vir programmering nie. Ons voed hulle siele saagsels en is verbaas as hulle wegdryf na ander kokke (met ander stories oor die werklikheid).

Kinders (en volwassenes) het nie net die waarheid in hulle koppe nodig nie - hulle het dit in hulle beendere nodig. Hulle het nodig om te weet hoe durf lyk en hoe dit proe en hoe dit ruik voordat hulle dit enigsins self hoef te vertoon. Hulle het nodig om reg te doen en liefde te betrag  en ootmoedig te wandel - helde en skurke kan hulle wys waarom. Hulle het nodig om die duisternis te verfoei en die die Lig te omhels.

Voed jou kinders

Voed jou kinders met stories wat hul oë wawyd oop met verwondering sal hou as hulle by hulle voorvensters uitkyk of ronddrentel in die erf. Voed hulle met stories van vreugde en vasbyt en durf en tragedie en triomf. Gee an hulle helde, egte en verbeelde helde. Gee aan hulle 'n smaak vir goedheid, vir waarheid, vir skoonheid.

Ja, ek is bevooroordeeld. Ek skrywe fiksie (ja, waarlik, selfs fantasie). Maar ek probeer nie om die meganiese kinders van 'n meganiese heelal te voorsien van 'n o-so-nodige (valse) dagdroom nie. Ek poog om hierdie wêreld na te boots; ek jag deur die woude van geskiedenis en van mitologie op die uitkyk vir speserye; ek grawe deur die verhale van die profete op die uitkyk vir vaste spyse. Ek hoop om die fantasie van hier te skrywe, die toekomstige helde van hier. Ek doen wat ek kan, met die hoop om siele te voed.