2011/10/23

Hoe om van liberale teologie vry te kom

Die woord liberaal kan maklik rondgegooi word om enigiets te tipeer wat jou nie pas nie. Maar oorspronklik beteken liberaal om vry te wil wees. Wie wil dan nie vry wees nie? Ons moet egter telkens vra: vry waarvan, om wat doen, volgens wie se standaarde? Dit is in hierdie sin - vry te probeer wees van die gesag van God se Woord - wat liberale teologie nie sal kan staan in die oordeel nie (Ps. 1:5). Elke poging om die Bybel te probeer lees vanaf 'n standplaas wat op een of ander akademiese of onakademiese wyse probeer neerkyk op die Woord van God en  nie arm, verslae van gees en bewend is vir God se Woord nie (vgl. Jes. 66:2), is liberaal in die verdraaide sin. So lees jy nie die Bybel soos een van God se kudde en kerk nie.

Maar kan geleerde teoloë hiervan vry kom as hulle eers hierdeur besmet is? Thomas Oden is nou nie die mees gereformeerde teoloog wat daar is nie, maar een ding is seker: Hy het die dwaalpad van die liberale teologie besef. Eers het elke afdraaipad hom verder en verder in die rigting daarvan gevoer, maar veral deur Augustinus en Wesley het hy tot ander insigte begin kom. Dit kan gebeur. Sterker gestel, as jy werklik God se aangesig soek, of eerder, wanneer Hy jou soek, kan dit nie anders nie. Die Drie-enige God kan deur enige hardnekkigheid breek. As Hy dit aan my en jou kan doen, kan Hy dit aan enigiemand doen. Daar is hoop, selfs en ook vir liberale teoloë. Want God is God. Lees hier meer oor die pad en ander insigte waartoe Thomas Oden gekom het.