Wys tans plasings met die etiket Verbondsdrama. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Verbondsdrama. Wys alle plasings

2021/06/01

Oor dogma, drama, en diepte

Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor dogma en drama:

"We are constantly assured that the churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."

Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. 

Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van die  teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie.    

Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking opsigtelik plat.

2014/02/07

Vertel, vertel

Hier is ’n opsomming van die Vertel, vertel reeks se model en benadering om aan kinders kategese te gee. Wat in hierdie model uitstaan is (1) die beklemtoning van die een groot ware verhaal van die hele Bybel, (2) kinders wat geleentheid kry om die verhaal terug te vertel, sowel as (3) beeldmateriaal wat aan die agterspeen suig. Ja, jy het reg gehoor. Ek het nie altyd vrede met hoe die verhaal dan in sy detail oorvertel word nie. Sekere invoegings - soms - kom vir my net te flagrant voor. Tog is die model stimulerend. Ek gee die hoofgedagtes van die model weer soos wat dit in die inleiding verduidelik word:

·        Die groot verhaal word in verskillende kleiner verhale vertel.

·         Noukeurig en beeldryk.

·         Vertrou die Bybelverhaal self om in die kinders te werk.

·         Die Oral Learning model wen baie veld. Dit is steeds die manier hoe meer as ⅔ van die wêreld se mense leer.

·         Die moderne wêreld het ’n versadigingspunt bereik met visuele beelde. Die vertel en oorvertel van die verhaal word weer een van die belangrikste wyses van leer.

·         Binne die groot verhaal van God speel ons eie lewensverhale af

·         Geloofsvorming by ons kinders vind plaas wanneer hul eie verhaal beleef word as deel van die groot verhaal van God se liefde vir ons.

·         Deur net die groot verhaal van God oor te vertel, toon ons dat ons alle vertroue in die verhaal het om sy kragtige werk aan kinders te doen.

·         Die kleiner verhale behoort kronologies op mekaar te volg en ook voortdurend ingebed te word in die groter verhaal. Die bedoeling is om lewenslesse nie los te maak van die groter verhaal nie.

·         Geen prente of aktiwiteite wat die aandag van die verhaal self aftrek nie.

·         Geen verwysings na die konteks vandag of toepassings vir vandag in die verhaal self nie. Die verhaal self word vertrou om die toepassings vir elkeen te bring.

2011/11/11

Perspektief op Abraham

Die wêreld is nie gered toe God Abraham gekies het nie. Maar toe God Abraham gekies het, was redding net 'n kwessie van tyd.
Peter Leithart

2011/10/17

Ontmoet 'n verbeeldingdokter

Nate Wilson is 'n opkomende Christenskrywer wat op die oomblik sy aandag daarop toespits om veral die verbeeldings van kinders so te voed dat hulle grootoog verwondering oor God en sy wêreld nie taan nie, maar toeneem. Ek het al menigmaal gedink dat sy verhale beter voedsel vir verwondering is as menige teologie-, filosofie-, of motiveringsboek. En tog het ek nog nie daarby uitgekom soos dit hoort nie. Sal 'n plan iewers moet maak. Nate Wilson, of N.D. Wilson soos hy bekend staan in die outeursfeer, het die gawe om jou nuut na bekende dinge te laat kyk en dan te laat wonder hoekom jy dit nie self raakgesien het nie. Hier is 'n bydrae wat hy onlangs vir die bekende webwerf, desiringgod.org, geskryf het en welverdiende aandag trek. Ek het dit probeer vertaal vir diegene wat dit dalk net onder oë sal neem indien dit in onse taal getooi en geplooi is.

Daar is een moontlike misverstand wat sogenaamde "nuwe hervormers" hiermee kan hê en wat ek sou wou noem die kat-aan-die-stert misgissing: Omdat mites en oorgelewerde verhale soms soveel ooreenkomste met die Bybel se ware verhaal vertoon, is dit vir die agterstevoor-kundiges die bevestiging dat die Bybel net nog 'n voorbeeld van mites en sages is. Dit is kat-aan-die-stert logika. Hanteer hierdie kat soos dit hoort op jou skoot en dan verstaan jy dat die Bybel se boodskap so kragtig is dat selfs mites en sages nie kan help om dit na te boots nie. Wanneer hierdie kat van die regte kant benader word, kan dit ons help om beter te begryp in watter WERKLIKE fantasie ONS leef met die (on)gelooflikste ontknoping denkbaar. En soos iemand iewers gesê het: Die beste omtrent hierdie fantasie is dat dit waar is. Mag hierdie bydrae van N.D. Wilson help om jou en my oë oop te spalk vir die krag van die wonder(like) boodskap van die Bybel en daarom ook van verhale aan ons kinders wat daarvan afgelei en daarop geskoei is:


Verhale is sielekos: Moenie jou kinders laat verhonger nie

2011/10/06

Die Verheugde Vader, Seun en Heilige Gees

God se wese is verbondsmatig: Vader, Seun en Heilige Gees leef in 'n onophoudelike toewyding aan mekaar en reik uit buite die Godheid om 'n gemeenskap van skepsele te skape wat kan dien as reuse analogie van die Godheid se verhoudinge. Geskape na die beeld van die Drie-enige God is ons van nature uitgaande, interafhanklike verhoudingskeppers wat onsself in ander vind, nie net in onsself nie. Anders as die Persone van die Drie-eenheid, het ons op 'n stadium nie bestaan nie. Maar toe God besluit het om te skape, was sy bevel nie die van 'n eensame monarg nie, maar van 'n verheugde Vader, Seun en Heilige Gees wat 'n kreatuurlike, menslike analogie van hul ewige gee en ontvang verhouding daargestel het. Ons is nie net geskape en daarna eers 'n verbond gegee nie; ons is geskape as verbondsmatige wesens - deelgenote, natuurlik nie in die Godheid nie, maar in die drama wat sou ontvou in die geskiedenis.
Michael Horton in God of Promise, p. 10.

2011/07/31

Terneergedruk?

Goeie raad vir depressie
is om weg te kyk na Hom
wat bo jou gevoelens uit blom
in die ware verhaal so groot
dat sy Storie ook jou storie
intrek, uittrek, aantrek;
beklee as in Christus opgemerk
in die ruimtes van God se digwerk.