Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor
dogma en drama:
"We are constantly assured that the
churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma
as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma
that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that
ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."
Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word.
Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van die teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie.
Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking opsigtelik plat.