Wys tans plasings met die etiket wettisisme. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wettisisme. Wys alle plasings

2025/06/18

Die vreugde en koste van dissipelskap

Lees: Eksodus 19:1-9

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here wys elke dag vir die wêreld aan wie hulle behoort.

Oorsig: Die kinders van Israel het Egipte verlaat tydens Paastyd, dit is die 14de van die eerste maand Nisan/Abib, dit beteken dat toe hulle in die derde maand (Sivan) ná die uittog in die woestyn Sinai aangekom het, dit aan die begin van die maand ongeveer 45 dae ná die uittog was dat hulle by Sinai aangekom het (v. 1). Daarom is baie verklaarders van mening dat Here se verskyning op Sinai en die tien gebooie se afkondiging op die 50ste dag na die Pasga, dit is Pinksterdag, plaasgevind het (vgl. Lev. 23:5,15-16; Num. 28:26). Die volk het daar by Sinai, komende vanaf Rafidim, teenoor die berg laer opgeslaan waar die Here aan hulle sou verskyn (v.2). Daar het Moses opgeklim na God toe en die HERE het hom van die berg af toegeroep. Ons sien reeds hier hoe Moses as ’n tipe middelaar tussen God en die volk optree. Die HERE het vir Moses gesê dat hy die volgende aan die huis van Jakob, die kinders van Israel moet verkondig: Hulle het self gesien wat die HERE aan die Egiptenaars gedoen het en dat Hy Israel na Hom toe gebring het soos wat ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra (v.3-4). Hierin hoor ons die vrye genade van die HERE met Israel.

Maar hiermee saam: As die volk dan nou getrou (terdeë) (1) na die HERE se stem luister en (2) sy verbond hou, sal hulle sy besondere persoonlike eiendom uit al die volke wees, al het die hele aarde aan Hom behoort (v.5). Hulle sou dus uitstaan as lig in die duisternis en vir die wêreld wys hoe dit lyk waar God woon. So sal hulle vir Hom, let wel, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit moes Moses aan die kinders van Israel meedeel (v.6). Moses het toe gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het (v.7). Toe het die volk eenparig almal saamgestem en gesê dat hulle alles wat die Here gespreek het sal doen. So het Moses as middelaar weer die woorde van die volk aan die HERE oorgebring (v.8).

Die Here het toe vir Moses gesê dat Hy in ’n dik wolk na Hom sal kom en dat die volk sal kan hoor as Hy met Moses spreek. Dit sal meewerk dat hulle altyd aan Moses glo, want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel (v.9). Die Here sou dus nog ’n maal deur sy verskyning by Sinai met die afkondiging van die tien gebooie vir die volk bevestig dat Moses sy kneg en middelaar is deur wie Hy met hulle sou praat.     

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die vreugde sowel as koste van dissipelskap in hierdie gedeelte?

Insig: Dit was ’n besondere uitspraak dat Israel ’n koninkryk van priesters genoem is, maar beslis nie iets heeltemal nuut nie. Adam was geskape om ’n priester-koning in die tuin van Eden te wees en Israel sou nou hierdie roeping kollektief as besondere volk voortsit. Israel sou ’n koninkryk van priesters vir die wêreld wees wat vir die wêreld oor God leer en vir die wêreld tot God kon bid. Innerlike beteken dit sulke koninklike priesters God deur gereinigde kennis leer ken en in liefde en aanbidding van Hom groei. Uiterlik beteken dit ook dat die nasies in verwondering sou wees oor hulle God se regverdige wette vir hulle samelewing (Deut. 4:7-8). Abraham het reeds die belofte gehad dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen. 12:1-3). Hier moes Israel as draer van Abraham se beloftes dit voortsit deur ’n koninklike priesterdom vir die wêreld te wees. Hulle was ook die draers van die beloftes oor die Messias wat in Christus waar geword het. In Christus as verteenwoordiger van Israel, kan al die geslagte van die aarde nou geseën word vir elkeen wat in Hom glo en voor Hom buig. In die Nuwe Testament word hierdie roeping nou verder voortgesit deur die Kerk van Jesus Christus. Die Kerk is nou ’n koninklike priesterdom uit al die nasies om die deugde van God aan die wêreld te verkondig van Hom wat hulle in Christus geroep het tot sy wonderbare lig (vgl. 1 Pet. 2:5,9-10). Die Kerk sit dus nou die roeping van Israel voort en daarom kan ons met waardering luister oor wat God deur hierdie Woord vandag nog steeds vir sy Kerk sê. Dit gaan hier oor die vreugde van dissipelskap sowel as die koste van dissipelskap (Brueggemann).

2022/08/25

Vry om koninklik te leef

Lees: Luk. 14:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus Christus maak van sondaars verloste koningskinders

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het Hy op uitnodiging in die huis van een van die leiers van die Fariseërs ingegaan om brood te eet op die Sabbat. Die Fariseërs het God se wet baie belangrik geag, maar ongelukkig het hulle so baie op die uiterlike kant daarvan gefokus dat hulle die dieper punt maklik gemis het. ’n Mens wonder ook wat die motiewe was om die Here Jesus te ontvang, want ons lees dat hulle Hom in die oog gehou het (v.1). Ons lees ook van ’n man wat water gehad het (opgeswel in dele van sy liggaam was), wat daarop gedui het dat sy organe nie reg werk nie (v.2). Ons sou selfs ook kon wonder of hierdie man aspris daarheen gebring is om te sien wat die Here met hom sou doen. Die Here Jesus het toe aan die wetgeleerdes en Fariseërs gevra of dit reg was om op die Sabbat te genees, maar hulle het net stilgebly. Hy het toe die man geneem en hom gesond gemaak en laat gaan (v.3-4). En toe het Hy vir die mense verduidelik deur die voorbeeld van ’n esel of os (sommige vertalings meld kind) wat in ’n put val op die Sabbatdag. Die meeste mense sal mos dadelik die dier uit die put optrek. Niemand kon Hom antwoord op hierdie voorbeeld nie (v.5-6).

Die Here Jesus het ook, toe hulle die belangrikste plekke kies, ’n gelykenis vertel, wat dus ook iets oor God se koninkryk leer. Hy het gesê dat hulle, wanneer hulle na ’n bruilof genooi is, nie die voorste plek moes inneem nie. Die rede: Daar is dalk iemand wat waardiger is as jy. En dan sal die gasheer moet kom en sê dat jy moet plek moet maak vir ’n belangriker man en dat jy dan met skaamte die agterste plek sal inneem (v.7-9). Dit sou wyser wees om die agterste plek in te neem sodat die gasheer wat jou genooi het, eerder vir jou ’n beter posisie laat neem. Dit sou eer bring voor die wat saam aan tafel is. Die Here maak dan die bekende uitspraak dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en wat homself verneder, verhoog sal word (v.10-11).

2011/07/20

Verantwoordelikheid van spraak

Die onlangse herrie wat losgebars het rondom die Anton van Niekerk sage wat begin het met sy herbevestiging dat ons as wit mense met enorme skuld sit, is ter sake. Tim du Plessis het reeds in sterk taal  en deur beelde van 'n uitskelparade en prekerige vermanings gemaan oor woorde wat die teenoorgestelde uitwerking kan hê. Vuisvoos Afrikaners is meer as vies.

Die filosoof Pieter Duvenhage se woorde reeds in 2003 verduidelik op gesofistikeerde wyse wat Du Plessis in sy straatwys-styl profeties (in hierdie geval) aanhangig gemaak het:

In die tweede plek kan 'n mens in 'n tipe moralisme verval wat 'n kreatief politieke meelewing vanweë 'n oordrewe skuldbewussyn onmoontlik maak. Hier is natuurlik die gevaar van suiwering ... en 'n voorbeeld, in 'n mate, is Antjie Krog se Country of my skull.

Eerstens konteks: Duvenhage praat oor die WVK en wys op drie maniere om op die verlede te reageer - 1. ontken die verlede se foute; 2. beskuldig die verlede; 3. wees krities betrokke vanuit die hede op die verlede en meet dit heeltyd aan verskillende standpunte.

Dit is veral Duvenhage se uiteensetting van die tweede punt wat ek hier wil uitbou: 'n Oordrewe bombardering met skuld bewerk bloot 'n nuwe vorm van moralisme. Dit heet liberaal-demokratiese wettisisme. Soos dit nog altyd met enige vorm van wettisisme die geval was, kan dit nie bevrydend werk nie. Kreatiewe meelewing word heeltemal gesmoor. Mense wat voel dat hulle nie kan asem kry nie, doen vreemde dinge. Diegene wat in die naam van vryheid van spraak liberaal-demokratiese wettisisme wil bedryf, moet kennis neem. Moet net die liberaal-demokrate van die gevare van wettisisme kennis neem? Nee, almal behoort, maar die feit is dat die LD's die dominante narratief het met  - reg of verkeerd - die grootbroer posisie in Suid-Afrika. Vryheid van spraak in belang van hierdie heersende diskoers moet daarom spesiaal op die gevare van 'n tipe wettisisme en 'n oordrewe skuldkompleks attend gemaak word.

Om nou binne so 'n klimaat met betrekking tot die ongelukkige voorval van die Stellenbosch gebeure bloot te fokus op onvolwassenheid, fundamentalisme en die bedreiging van vryheid van spraak, mis die groter prentjie.

2011/06/29

God se werk en ons werk (1)

In die vorige pos is gewys op die wet/evangelie dinamiek in terme van indikatief en imperatief. Net weer 'n verfrisser vir die wat dalk die eerste keer met die i-woorde met tief-eindes te doene kry: Indikatief (vgl. die Engelse woord indicate) dui die stand van gebeure aan - in die evangelie spesifiek op dit wat God sonder ons gedoen het. Imperatief (vgl. die Engelse woord imperative) dui op 'n bevel. Dit gaan oor die verband tussen die aanduiding van gebeure wat buite ons en los van ons ons plaasgevind het enersyds, en die oproepe wat anderyds tot ons kom waarin onsself iets moet doen. Kortom: God se werk en ons werk. Soos op enige ander gebied is daar woorde wat mettertyd ingeburger raak as die jargon woorde en kortpad woorde om sake te beskrywe. Skuus as indikatief en imperatief  die indruk gee van snobisties neerbuigende woorde. Enige voorstelle vir ander woorde wat meer ligvoets en verstaanbaar vir Jan Alleman mag wees is altyd welkom, maar dan moet dit meer wees as jou eie euforiese stimulante. Dit moet ingeburger kan raak by almal. Verdra asseblief die woorde ter wille van die groter saak waarom dit hier gaan. Dit gaan hier om die wet/evangelie dinamiek wat seker op sy duidelikste na vore tree in Fil. 2:12-13:

... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Deur die geskiedenis het die verband tussen God se werk en ons werk Christene nog altyd geboei. Dit is een van die mees basiese sake waarmee ons telkens gekonfronteer word. Die twee afgronde van  wettisisme en wetteloosheid (nomisme en antinominanisme) wink voordurend op hierdie weg as ons die stuurwiel hieroor nie goed vashou nie.

Twee gewaardeerde jonger ortodokse teoloë en vriende, Tullian Tchividjian en Kevin DeYoung, het hierdie debat onlangs met nuwe gloed op die tafel geplaas Kyk gerus hier en hier en hier om die klanke van begaafde jonger teologiese turke op te vang. Hulle debat is 'n bewys daarvan dat elke geslag hierdie sake opnuut vir hulself moet toe-eien. Wat mooi is, om te sien hoe hulle aanleun op hul klassieke tradisie. Ek kan my nie indink dat enige predikant wat besorg is oor sy gemeente en (sy eie) padhouvermoë nie hiervan 'n studie wil maak nie. Wat ek hier gaan doen is om die bespreking hiervan in 'n paar posstukke op te deel. Ter wille van hulle wat godsdiens swaar in Engels verteer sal ek in 'n eerste posstuk die basiese argument van die twee deur middel van treffende kernaanhalings uitlig ten einde 'n jeuk te veroorsaak by die wat nog nie behoefte voel om te krap nie. Daarna sal die treffende beelde en aanhalings aan die woord kom wat die twee here gebruik en wat ons gerus maar in ons herkou-lêers kan plaas. Daarna sal 'n waarderende evaluering gedoen word met 'n paar eie stuiwers terwyl daar so heerlik by hul evangeliese debatsfees aangesit word. Jy word saamgenooi. Hier is werklik evangelie-voeding. En bring jou smaakkliere saam, want dit word nie met 'n drup toegedien nie.